’n Nuwe jy in twaalf weke!
KragDag-lesers hou mos daarvan om dinge sélf te doen. Bernadine Douglas se boek getiteld Your 12-week Body & Mind Transformation beloof om die manier waarop jy lyk en voel te verander. Die boek fokus op lae suiker inname en onderbroke vas ten einde effektiewe gewigsverlies te verseker, die immuniteitstelsel ’n hupstoot te gee en hormone te balanseer. Dit is ’n goeie idee om hierdie program juis nóú deur te werk, veral as die grendelvetjies hardnekkig om jou middel klou en jy dalk eerder vroeër as later moet begin plan maak om die ekstra gewig af te skud.
Armand Aucamp, die skrywer van Armand kook kaal, beskryf Douglas se gids as ’n praktiese, maklik volgbare, lae-koolhidraat leefstylprogram. Heilsame resepte wat maklik is om voor te berei, vorm deel van die twaalf weke program wat gebruikers aanspoor om ’n permanente en volhoubare leefstylverandering te maak, korrekte eetgewoontes te kweek en te vergeet van klimtoldiëte en emosionele ooretery.
Douglas noem in die inleiding dat hierdie nie ’n dieetprogram is nie, maar dat sy eerder oor twaalf weke heen haar lesers wys hoe maklik dit is om ’n nuwe manier van leef, eet en gereeld oefeninge doen, vol te hou. Sy skryf: “Hierdie leefstylverandering gaan permanent wees”. Sy hoop dat elkeen wat haar program volg, ’n normale, realistiese en gelukkige lewe sal kan lei.
Vroue wat hulle lewe lank sukkel met hul gewig en al vele diëte onsuksesvol probeer het, sal baie waarde uit Your 12-week Body & Mind Transformation put. So ook diegene wat tipe-2 diabetes het of insulienweerstandig is. Die program is nie moeilik om vol te hou nie en bied stap-vir-stap riglyne en praktiese wenke oor hoe om byvoorbeeld agter te kom wat jou emosioneel en verstandelik daarvan weerhou om optimaal gesond te eet en te wees.
Die gesonde eetplanne is geskik vir die hele gesin. Douglas beskryf hierdie etes as “heerlik, voedsaam, laag in suiker en maklik om voor te berei”. Daar is ook inkopie- en uitruillyste asook voorstelle vir oefeninge wat mens sommer tuis kan doen. Jy kan selfs na aanlyn videodemonstrasies gaan loer.
Douglas bespreek elke week ’n tema om vroue te inspireer en aan te moedig om hulle volle potensiaal te bereik. Van hierdie temas is onder andere die erkenning van selfwaarde, selfdissipline, maak tyd vir jouself, om ’n ma te wees, en hoe om daardie innerlike stemmetjie wat jou heeltyd kritiseer, stil te maak. Iemand wat die program volg, skryf dat dit haar geleer het om haarself en haar emosionele welstand eerste te stel, om haar doelwitte te herevalueer en na te dink oor hoe sy dié doelwitte wil bereik. Vir haar het die program nie net gewigsverlies tot gevolg nie. Sy het ook geleer om haarself weer lief te hê en trots te wees op haarself. Sy beskryf die program as ’n lewensreis waarvan sy elke minuut geniet.
Your 12-week Body & Mind Transformation maak seker dat jou kop en hart reg is om ’n nuwe leefstyl aan te pak. Douglas verduidelik hoe mens gewig optel en gee sewe stappe tot suksesvolle gewigsverlies. Een van dié is om verantwoordbaar te wees en realistiese gewigsverliesdoelwitte te stel. Daar is ook plek vir foto’s en aantekeninge in die boek, sowel as plek om huiswerkvrae te beantwoord. Ja, jy lees nie net die boek nie, jy werk dit deur. Dít op sigself dui daarop dat mens gerus die boek kan aanskaf en die program kan volg. KragDag-lesers weet immers dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. As jy gesond is, is jy skatryk.
Meer oor die outeur: Bernadine Douglas is ’n voedingsterapeut en die medeskrywer van twee boeke getiteld The Banting Solution en The Banting Pocket Guide. Sy is ook die stigter-eienaar van Slender Slim 4 U.
Penguin Books publiseer Your 12-week Body & Mind Transformation .
Besoek gerus Bernadine Douglas se webtuiste hier.
Skaf jou kopie van Your 12-week Body & Mind Transformation hier aan.