Bly warm sonder elektrisiteit

Suid-Afrikaners kan hierdie winter wéér nie op Eskom staatmaak vir ononderbroke elektrisiteitstoevoer nie. André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het onlangs tydens ’n mediakonferensie aangevoer dat hoër fases van beurtkrag dié winter waarskynlik ons voorland is en het verskeie redes daarvoor geopper. Dis nie eens nodig dat ek van dié redes hier neerpen nie; ons kan al die verskonings soos ’n rympie opsê.

Die prys van elektrisiteit laat ons boonop ook na ons harte gryp. Baie van ons moet maar noodgedwonge die gedagte aan verwarmers en elektriese komberse op ons magies skryf en uitvee, want dit jaag net ons reeds hemelhoë elektrisiteitsrekeninge verder op. Maar hoe bly mens warm wanneer die ryp spierwit op die gras lê? Ek het grootgeword aan huis van my grootouers in die Vrystaat waar temperature soms tot -12°C  gedaal het. Oupa het nie geglo aan verwarmers en elektriese komberse nie. “Dit eet krag en maak mens net siek,” het hy altyd gesê. “Trek warm aan en gooi jou bene toe met ’n kombers.” Goue raad wat ek tot vandag toe nog volg.

Elektrisiteit en steenkool, antrasiet, hout en gas kos geld. Mens kán daarsonder klaarkom as jy moet. Hier onder volg ’n paar voorstelle om warm en knus te bly hierdie winter. Jy sal in sommige gevalle jou beursie moet oopmaak vir items soos termiese onderklere, maar dis mos darem nou iets waaruit jy baie nut oor ’n lang tydperk kan put.

  • Trek warm aan. Belê in of brei/hekel jou eie wolsokkies, -serpe, -musse en -handskoene. Dra warm onderklere, soos termiese frokkies en langjannies. So nie moet jy eerder klere dra wat van natuurlike vesels gemaak is. Wanneer jy buitentoe gaan, sorg dat jy ’n jas of baadjie aanhet.
  • Slaap warm. Trek jou bed met winterslakens oor. Dit help ook om ’n snoesige kombers bo-op die laken te plaas en dan op die kombers te slaap. Belê in ’n goeie gehalte duvet of donskombers. Dra warm slaapklere of slaap in ’n gemaklike sweetpak. Hou jou warm pantoffels voor die bed.
  • Spandeer saans tyd in een vertrek deur saam flieks te kyk, bordspeletjies te speel, radio te luister, na boekvoorlesings te luister of gesinstyd met God te hê. Sorg dat elke gesinslid ’n kombers het om hulle knus in toe te wikkel. Hou die verbindingsdeur na die res van die huis toe.
  • Hou buitedeure en binnedeure toe. Daar kom koue lug in elke keer as jy deure onnodig oopmaak.
  • Beweeg bedags. Bly besig. Jou liggaam is heeltemal in staat om sy eie energie/hitte op te wek. Trek lae gemaklike klere aan wat jy kan uittrek.
  • Gooi kookwater in ’n warmwaterfles om later kitssop of ’n warm drankie van te maak. Warm kos of drankies help om jou moraal hoog te hou wanneer dit koud is.
  • Maak jou gordyne of blinders laatmiddag al toe. Vervang jou ligte somergordyne met dikker gordyne in die winter.
  • Loer gerus hier na hoe om ’n sogenaamde “buddy burner” te maak wat binnenshuis onder toesig gebruik kan word. Wees egter verantwoordelik en veilig, want dit het ’n oop vlam en kan iets aan die brand steek. Sorg ook dat enige dampe kan ontsnap en nie in die vertrek versamel nie. Laat byvoorbeeld ’n venster op ’n skrefie oop. Doen dus eers deeglik navorsing voordat jy enige selfgemaakte verwarmer op die proef stel. Kinders behoort nooit sonder toesig naby ’n oop vlam te wees nie.

Lees gerus ook die volgende artikels oor hoe om warm en veilig te bly dié winter:

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui