Melkbos Rotariërklub gee resepteboek uit

Titel: Lockdown Recipes & Stories

ISBN: 978-0-620-90798-9

Ek is baie opgewonde om hierdie resepteboek wat pas in Engels verskyn het aan u voor te hou. Wat hierdie boek so besonders maak, is dat dit deur die nasionale grendeltyd geïnspireer is. Dit getuig van mense se vermoë om kreatief te wees en dink selfs in die mees uitdagende omstandighede. Ons is baie meer veerkragtig as wat ons kan raai. En natuurlik, in krisistye is kos mos nie nét ’n noodsaaklikheid nie – daar is baie vertroosting te vind in ’n vol maag. Suid-Afrikaners is hartlike, gasvrye mense wat hou van lekker eet. Nie eens die gevreesde virus en die gepaardgaande grendeltyd kan ons liefde vir kos en ook ons mededeelsaamheid onder die maatemmer verberg nie.

Lockdown Recipes & Stories vier die feit dat daar iets goeds uit teenspoed kan kom as mense saamwerk. Dit word uitgegee deur Melkbos Rotariërkklub. Bekendes, sjefs en tuiskokke deel hulle gunstelingresepte – en glo my maar vry, dis héérlike resepte wat die mond behóórlik laat water.

Hierdie kookboek van 114 bladsye gaan nie net ’n vertoonstuk op my kombuisrak wees nie – dit pryk binne reikafstand van my stoof sodat ek blitsig ’n resep kan naslaan. Daar is 42 resepte en lieflike volkleurfoto’s wat jou met die eerste oogopslag al verlei om ’n mengbak en klitser uit te haal en in jou spens te loer watter bestanddele beskikbaar is. Daar is drie hoofstukke getiteld “Something Light”, “Main Meals” en “Sweet Things”.

Coenie de Villiers se Greek Flatbread, Cintaine Schutte se Tuna Quiche, Hannes van Wyk se Souttert en Milan Murray se Mutton & Bean Soup is van die smulresepte wat jy kan probeer wanneer jy iets ligs vir ete wil maak. Albert Maritz, Corné Krige, Jak de Priester, Lize Beekman, Reuben Riffel, Tebo & Lebo Ndala en Margit Meyer is maar enkele van die bydraers wat hulle resepte vir voortreflike hoofgeregte deel. Vir ’n soettand soos ek is soetgebak altyd ’n gróót trekpleister. Marion Holm se Cream Doughnuts, Philip Erasmus se Oreo Balls en Katryn Kruger se Nutella Brownies maak jou op die daad lus om ook die ander soet geregte te berei en op te eet.

Bo en behalwe hulle watertandresepte, deel die bydraers ook hartverwarmende stories oor hoe hulle die grendeltyd sien en ervaar. Sjef Bertus Basson noem bv. dat die grendeltyd baie uitdagings vir Suid-Afrika se restaurantbedryf inhou. Hy kies egter om ’n optimistiese uitkyk gedurende die pandemie voor te hou en glo dat die industrie sterker as tevore hierdeur sal kom. Hy deel ’n eenvoudige maar besonderse melkkosresep.

Clem Sunter, ’n erelid van Melkbos Rotariërklub, skryf die volgende: “Many South African innovations and plans saw the light as we are a resilient nation. These new innovations and work methods will benefit the world at large long after lockdown, just as this recipe book will.” Hy spreek ook sy hoop uit dat die opbrengs uit die boekverkope die gemeenskapswerk wat Melkbos Rotariërklub doen sal versterk en ook die swaarkry wat deur COVID-19 veroorsaak word, sal verlig.

Jy kan agter in die kookboek meer lees oor die Rotariërs en die prysenswaardige projekte waarmee hulle doenig is. Die resepteboek dien as getuienis van hoe gewone mense in hulle gemeenskap ’n verskil aan ander se nood kan maak. Welgedaan, Melkbos Rotariërklub, julle vat raak en dien as voorbeeld vir baie!

Bestel jou kopie van Lockdown Recipes & Stories by www.lockdownrecipes.co.za

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui