Bly positief in ’n moedelose wêreld

Dit voel dalk tans vir jou asof jy op ’n rondomtalierit is wat teen ’n verbysterende snelheid geheel en al buite beheer tol. Jy wou al lankal afklim, maar daar is net geen manier om die nagmerrierit lank genoeg tot stilstand te bring dat jy vir ’n slag kan asemskep nie. Dinge gebeur en verander net té vinnig en jy sukkel om by te hou. Jy word magteloos teen jou wil saamgesleur na ’n skrikwekkende afgrond wat gretig gaap.

Dis asof die hele wêreld opeens mal geword het. Gerugte van oorloë, kernwapens, aardbewings, vloede, orkane, armoede, hongersnood, waterskaarste, pessiektes, misdaad, korrupsie, rassespanning, onluste, ensovoorts vlieg wild en wakker rond. Die lysie ellendes hou net aan en aan. En voor jy jou oë uitvee, word gerugte oornag iets wat jy eerstehands aan jou eie bas ervaar. Die nood is groot. Oorsee en plaaslik. Daar word gesê ons sit op ’n tydbom en dis net ’n kwessie van tyd voordat alles finaal ineenstort of skouspelagtig ontplof. Dan is dit glo elke ou vir homself. En as jy nie familie van Rambo is, tot die tande toe gewapen is én boonop ’n versteekte hoeveelheid blikkieskos, water en medisyne het nie, gaan jy dit glo nie maak nie.

Maar selfs al reken jy nie noodwendig dat daar binne die afsienbare tyd ’n apokalips gaan plaasvind nie, is daar dalk wel ander grommende roofdiere wat met vlymskerp tande aan jou hakskene hap. Jy verloor jou werk of word die slagoffer van een of ander skelmstreek. Jou beursie is plat, en boonop klop die balju aan die deur. Of jy kan nie meer jou besigheid se deure oophou nie, want Eskom is glo rot en kaal besteel en jý kan nie langer die gelag betaal nie. Dan doen praatjies van die kragnetwerk wat in duie kan stort, bloedige revolusie, gebeurlikheidsplanne, ensomeer die ronde. Dit voel of jy jou hande oor jou ore kan slaan en iewers heen kan verdwyn totdat die ou wêreld hopelik weer eendag tot sy sinne gekom het.

Hokaai! Dis dalk tyd om bewustelik jou gedagtes hok te slaan. Haal diep asem. Maak die koerante toe. Sit jou selfoon en televisie af. Maak jou das los en skop jou skoene uit. Vir die hier en nou is jy veilig en alles is oukei. Vergeet van “wat as” en “sê nou net”. Dis is die name van spoke wat jou vreugde wil steel.

Konsentreer eerder op dít wat jy in jou onmiddellike omgewing met jou sintuie kan waarneem. Fokus op dít waaroor jy beheer het. Beskerm die poorte na jou binneste. Dit beteken jy moet ophou om toe te laat dat jou oë en ore as reseptore dien vir al die skrikmaakdinge wat jou saans natgesweet laat wakker skrik. Moenie jou oë en ore uitleen as asblikke waarin elke Jan Rap en sy maat hulle opruiende of bangmaakstories kom stort nie. Dit beteken nie jy moet met toe oë deur die lewe gaan nie, maar kies jou veldslae baie versigtig.

Moenie jou die skrik op die lyf laat jaag oor dinge waaroor jy geen beheer het nie. Waak jaloers op jou geestesgesondheid. Doen wat jy as verantwoordelike persoon kan om voorbereid en veilig te wees in hierdie tyd waarin ons leef, maar moenie dat vrees en bewing jou kniehalter en daarvan weerhou om ’n vol lewe te lei nie. Hê balans. Vervang negatiewe insette met positiewe insette. Dink innoverend en maak ’n plan of twee of drie as dit moet, maar moenie boedel opgee nog voordat jy probeer het nie. Omring jou met mense wat doeners en nie klaers is nie.

En bo alles, wéét waar jou hulp vandaan kom. Tel jou seëninge en leef in dankbaarheid. Dis moeilik om in negatiwiteit te verval wanneer jy ’n dankbare hart het.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui