Die droogte in die Noord-Kaap
TLU SA het gedurende die week van 19 – 24 April 2021 die Noord-Kaap besoek en in verskeie gemeenskappe ‘n draai gemaak. Die doel was om uit te reik na ‘n omgewing wat reeds vir etlike jare gebuk gaan onder ‘n knellende droogte. Om dié omstandighede te beleef is hartverskeurend. Die geringe hulp wat in sekere gemeenskappe gegee was, is eintlik weglaatbaar teenoor die nood wat tans onbestuurbare afmetings aangeneem het. DIt is inderdaad ‘n humanitêre ramp wat vanuit ‘n natuurramp ontstaan het.
Die Noord-Kaap is ‘n harde, maar ook ‘n dankbare wêreld. Daar waar ‘n strepie reën geval het, kan mens die effense groenigheid sien, maar dit het ook reeds begin wegkwyn omrede daar nog nie opvolgreën geval het nie. Maar, soos ons deur die gebied beweeg het, het ons kort-kort sprinkaanswerms gekry wat die bietjie groenigheid, wat nog oorgebly het, ook verorber het.
Die dele van die Noord-Kaap wat wel reën gekry het, is nog geensins uit hulle probleme nie. Dit gaan nog ‘n paar goeie reënseisoene verg om weer hoë-kwaliteit weiding daar te stel. Intussen het boere hulle veekuddes gesny na seker minder as 30% van wat normaalweg aangehou word.
Oral waar aangedoen is, het mens die karakter van die mense ervaar. Gebreidel deur ‘n harde omgewing is dit hartsmense, omgee-mense, wat steeds voortbeur na ‘n volgende reënbui. DIt was ‘n voorreg om te kon skakel met mense wat nog hulle dankbaarheid, in die volle sin van die woord, uitleef in ‘n streek van Suid-Afrika met unieke name soos die Knersvlakte, Boesmanland, Hantam, Richtersveld, Tankwa en Roggeveld. Hier word ook unieke geregte na die etenstafel gebring, soos skuinskoek, Karoo-afval, skaapkop, pap en kaiings en dan natuurlik koeksisters, melktert en die unieke smaak van ‘n Karoo-skaaptjop. Die gasvryheid, ten spyte van erge trauma waaronder almal gebuk gaan, bly steeds ‘n uitstaande kenmerk van hierdie mense.
Die belangrikheid om kommersiële boere óp hul plase en ín produksie te hou, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Buiten die bydrae wat gemaak word tot Suid-Afrika se kosmandjie word die inspuiting wat die landelike gemeenskappe gee om plattelandse dorpies te laat leef, nie altyd verreken nie. Waar landbou tot stilstand knars, word die effek onmiddelik ervaar deur die besighede wat nie meer ‘n ekonomiese bestaan kan maak nie. Dan word die kultuurlewe, soos die skool en die kerk, asook die sosiale lewe soos byvoorbeeld sport, ook stil.
Daar moet egter ook hulde gebring word aan die vroue van daardie wêreld. Die wyse waarop hierdie vroue stewig agter hulle mans staan, en hoe hulle ondersteunend ‘n verskeidenheid planne maak om die pot aan die kook te hou, is verblydend. Van koekiebak-projekte tot die maak van allerlei kunswerke om fondse te genereer, is reeds ‘n kenmerk van hulle.
TLU SA is deel van die Manna vir Boere -projek waar organisasies individueel en gesamentlik uitreik na gemeenskappe in nood. Die ander rolspelers is: Agri NW, Save the Sheep, Caring Daisies, Saai, Gift of the Givers, Afriforum en die Boere in Nood -groep. Die afgelope besoek was ‘n feitesending, maar TLU SA het ook as ‘n gebaar van meelewendheid ondersteunende hulp aangebied aan mense in nood. TLU SA vra nie aan watter organisasie ‘n boer behoort wanneer daar hulp verleen word nie. Gemeenskappe in nood word gehelp waar, en so goed as, moontlik. Dit is belangrik om te besef dat vir my eie voortbestaan dit belangrik is dat die buurplase ook in produksie sal bly. Daarom word almal gehelp. Verder is dit ook belangrik om te besef dat ons uiteindelik net so sterk kan wees as wat ons boere is. Om die rede is dit noodsaaklik dat ons grondvlakstruktuur in stand gehou en uitgebou moet word.
Gedurende ons besoeke is daar baie klem op gelê om vir gemeenskappe realistiese hoop vir die toekoms te gee. In ons Grondwet, sowel as in ons Manifes, bely TLU SA ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel. Dit is die enigste plek waar ons antwoorde sal vind. Wanneer ons nie meer daaraan vashou as ons enigste hoop vir die toekoms nie, het daar besonder min vir ons oorgebly. Terselfdertyd het ons ook kortliks verwys na daardie sake wat landbou se toekoms raak, soos byvoorbeeld veiligheidsaangeleenthede en die beginsel van privaat besitreg.
TLU SA het ‘n Art 18A-instelling geregistreer waar donateurs belastingsvoordele kan ontvang indien donasies gemaak word in die Traumafonds. Die beleid ten opsigte van TLU SA se Traumafonds is R1 in – R1 uit. Daar word geen administratiewe fooie teruggehou of enige ander kostes vanuit donasies gedek nie. Alle donasies word volledig aangewend om te help vir noodverlening. Die fonds word jaarliks geoudit en die state is beskikbaar vir enige individu om te besigtig. Om meer uit te vind oor hoe donasies gemaak kan word, kan Ute van Wyk gekontak word by fin@tlu.co.za.
Mede-Suid-Afrikaners kan op verskeie plekke hulp verleen aan mense wat in uiterste nood verkeer. TLU SA rig ‘n pleidooi aan daardie gemeenskappe waar dit nog goed gaan, om ook te dink aan ‘n spesifieke deel van ons land waar die nood só groot is. Met ‘n afwesige regering, ook in hierdie ramp, kom mens opnuut tot die besef dat die hulp wat in onsself gesetel is, daadwerklik ‘n verskil kan maak.