Marinda kook met blikkies en pakkies
Human en Rousseau publiseer Marinda Engelbrecht se derde boek getiteld Marinda kook met blikkies en pakkies. Hierin wys sy hoe lesers kortpaaie kan neem om met blikkies, pakkies, boksies en botteltjies smaaklike sonder-moeite-treffers voor te berei.
KragDag-lesers sal waarde put uit hierdie resepteboek. Wanneer jy graag kos wil opgaar vir moontlike noodgebruik wanneer vars produkte dalk nie geredelik beskikbaar is nie, is pakkies en blikkieskos dikwels ’n goeie keuse omdat dit ’n lang rakleeftyd het en nie maklik bederf nie. Kombineer dit met jou eie produkte wat jy self ingelê, ingesout of gedroog het.
Marinda kook met blikkies en pakkies beslaan 144 bladsye en 9 hoofstukke. Marinda gee ook ’n blik op haar kas en kos in haar koskas. Donna Lewis het vir die aptytwekkende volkleurfoto’s gesorg.
Koskenner Peter Veldsman skryf in die voorwoord: “[Marinda] neem ons op ’n kombuisreis en inspireer ons met haar, in die mooi sin van die woord, eenvoudige, maklik-om-te-maak resepte. Hier is geen hovaardigheid nie, geen aansit nie, net lekker kos wat moeiteloos berei kan word.”
Marinda skryf in die inleiding: “Daar kleef ’n stigma aan die gebruik van blikkies en pakkies. Kosfoendi’s sal moeilik erken dat ’n pakkie uiesoppoeier, ’n blikkie tamaties en ’n potjie Marmite al hul disse gered het. Gelukkig verdwyn die stigma so stadigaan. Ons lewe ’n kitslewe. Albei ouers werk dikwels, en daar is nie tyd om die wiel te herontwerp nie. Ouers maak staat op wat in hul kaste en vrieskaste is vir ’n maaltyd. Die gehalte van die inhoud van hedendaagse blikkies en pakkies voldoen aan geweldig hoë standaarde. Maak gebruik daarvan.” Sy voeg by: “Blikkies en pakkies het die lewe vir die kampeerder, student en buitelugentoesias makliker gemaak. Die voedingswaarde is hoog, dit kan nie breek nie, en dis heerlik. Met die meeste hedendaagse blikkies het jy nie eens meer ’n blikoopmaker nodig nie.”
Vir ’n oorsig van die inhoud van die resepteboek, gee ek hier onder die hoofstuktitels en noem twee geregte by elkeen:
Lank lewe deeg, pap, skyfies & beskuitjies: Ma se Oumabeskuitpoeding en Anderste hoenderpastei
Groente & vrugte vir geurige geregte: Blitsige ertjiesop en Pampoenbredie
Mielies, bone & ander peulgroente vir trooskos: Mieliepoffertjies en Kerriemaalvleis in ’n jaffel
Tamaties & chakalaka – koskas-kampioene: Rysfrikkadelle en Pangebakte puttanesca
Sampioene & sampioensop – romerig en ryk: Steak-en-sampioen-stroganoff en Steak in bier
Uit die see se spens – van huiskos tot onthaalkos: Seekospannekoek en Sardientjies op brood
Soppoeier – die geheime towerbestanddeel: Gekrummelde varkschnitzel en Spek-en-uiebrood
Heerlike ham, hoender, worsies & ander vleis: Boeliebiefpoffertjies en Gatsby
Suiwel vir die soet-&-souttand: Gerooktesalm-kaaskoek en kondensmelk-tiramisu
Moenie die fout maak om te dink dat omdat die bestanddele uit blikkies en pakkies kom dit afskeepgeregte is nie. Dit is kreatiewe spoggeregte wat jy sonder skroom aan jou huismense en ook aan belangrike gaste kan opdis. Die wye verskeidenheid geregte beïndruk – daar is van sop tot brood en vleisgeregte tot poedings. Die geregte is ekonomies en tydbesparend en sal gou staatmakerdisse word. Marinda deel ook waardevolle koswenke en voorstelle by elke gereg.
Die uitgewer deel graag die resep vir die Anderste hoenderpastei met KragDag-lesers. Klik op die foto om die resep af te laai.
Marinda Engelbrecht se Marinda kook met blikkies en pakkies is by boekhandelaars beskikbaar, maar jy kan dit ook hier bestel. ISBN: 978-0-7981-8296-6