
Maak jou kinders geldslim met idiome
Ek wil nou nie aandik of altyd op dieselfde aambeeld hamer nie, maar soms moet mens die stoute skoene aantrek en die aap uit die mou laat. Wie A sê, moet ook B sê, en daarom sal ek nou aanstaltes maak om vir KragDag-lesers die abc van iets te leer. Hierdie skrywe is spesiaal aan ouers se adres gerig wat nie wil hê dat hulle kinders hard met die aarde kennis maak nie. Jy hoef nie op alles ja en amen te sê nie, maar ons kan akkoord gaan dat mens nie maar net Gods water oor Gods akker kan laat loop nie. ’n Man van twaalf ambagte en dertien ongelukke moet immers op die harde manier leer van arbeid adel. Geld groei op niemand se rug nie – en dit is presies wat ouers hulle kinders op die hart moet druk.
Voor ek dus ’n appeltjie met jou skil, is dit belangrik dat jy jou kinders leer dat die beginsel van ’n appel en ei vir iets betaal baie wenslik is anders gaan hulle gou op hulle baadjie kry. Dis wys om altyd maar ’n agterdeur oop te hou en die aftog te blaas as dit moet, want op die ou einde is daar tog hoop. Agteros kom immers ook in die kraal en kan ’n nuwe blaadjie omslaan. Dis nou nie asof ek ’n berg van ’n molshoop maak of my kop in ’n bynes wil steek nie, maar mens kan nie aan jou kind goue berge belowe nie. Buig die boompie solank hy jonk is, anders sal dit naderhand wees soos om bloed uit ’n klip te probeer tap.
Dit gaan met almal van ons deesdae maar broekskeur, niemand het dit breed nie en ons trek noustrop. Hou dus op om mooi broodjies met jou kinders te bak en verduidelik jy sal dit nie kan bybring nie wanneer hulle liewer dood as uit die mode wil wees. Klere en toestelle kos sakke vol geld, veral as jy geen duit besit nie. En vir skuld moet mens so bang wees soos die duiwel vir ’n slypsteen. Vertel jou kinders kaalkop die waarheid dat skoonheid vergaan, maar deug bly staan. Moedig hulle aan om ook skouer aan die wiel te sit. Hulle sal dalk die klok hoor lui, maar nie weet waar die bel hang nie, maar dis tyd dat hulle hul kinderskoene ontgroei en leer waar geld vandaan kom.
Dis ’n waarheid soos ’n koei dat hoe kaler jonker, hoe groter pronker. Hulle moenie dat hulle maats aan hulle kluitjies verkoop nie. Bo blink en onder stink. Hulle moet maar lont ruik en snuf in die neus kry as hulle maats hulle so slim soos die houtjie van die galg wil hou. Dis beter om hulle ore te spits vir die waarheid as om dit uit te leen vir elke Jan Alleman.
Leer jou kinders om murg in hulle pype te hê en ophou rinkink voor hulle hul rieme styfloop. Dit sal vir hulle ’n bitter pil wees om te sluk, maar dis beter om oop kaarte te speel as wat dit is om op die ou einde met die gebakte pere te sit wanneer armoede aan die deur klop. Hulle moet die kat uit die boom kyk en besef dat aansien en status van nul en gener waarde is. Ware wenners is hulle wat nie lyf wegsteek nie, pa staan vir iets en ’n eierdans kan uitvoer. Hulle moet weet dat erfgeld swerfgeld is en ook dat ’n leë eier beter is as ’n leë dop. Hulle moet spaar en nie skuld aangaan nie sodat hulle nie eendag nodig sal hê om genadebrood te eet nie.
Rome is nie in een dag gebou nie, maar mens moet ook nie gras onder jou voete laat groei nie. Die gewoonte maak die gewente, so dis beter om geen lui haar op jou kop te hê nie. Hulle moet armoede hand en tand beveg sodat hulle nie later ’n hondelewe ly nie. Geld wat stom is, maar immers reg wat krom is. Laat hulle hande dus vir niks verkeerd staan nie.
Jy sal Job se geduld en Salomo se wysheid nodig hê om jou kinders geldslim te maak, maar aanhouer wen.
Ditsem Louise, vertel hulle waar Dawid die wortels gegrawe het…
Louise, kinders kan speel-speel met idiome begin klaarspeel deur Idiomepret by Podiumpret aan te skaf. ‘n Bordspeletjie wat sorg vir ure se pret – ongeveer 10 minute per ronde.