Kan jou gesin ’n noodgeval hanteer?
Daar is al hoe meer mense wat hulle huishoudings op ’n gereedheidsgrondslag plaas ten einde meer weerbaar te wees teen moontlike natuurrampe of katastrofes wat aan menslike bedrywighede toegeskryf kan word. Hierdie gebeure kan enige tyd en enige plek skielik en sonder waarskuwing plaasvind.
Die meerderheid van hierdie persone – kom ons noem hulle voorbereiders – is nie paranoïes of oorversigtig nie maar heel rasioneel. Hulle is van nature doeners, los graag probleme op en hou daarvan om selfvoorsienend te wees. Dit is vir hulle belangrik om in enige denkbare situasie hulself en hulle geliefdes so veilig as moontlik te hou. Hulle neem dus proaktief stappe om hulle oorlewing te verseker indien die spreekwoordelike papaja dalk die waaier tref.
Voorbereiders verkies dat hulle sake in orde is vir sou iets onvoorsiens en ondenkbaars wel plaasvind. Hulle wil die gerustheid hê dat hulle nie onkant gevang sal word nie. Dat hulle ’n plan in plek het en derhalwe ’n kans het. Van die heel basiese voorsorgmaatreëls sluit in die opgaar van nieberfbare voedsel, water en medisyne. Met die onlangse oorstromings en ook onluste in Kwazulu-Natal het Suid-Afrikaners weer eens besef hoe maklik dinge buite beheer kan raak. Ons het gesien hoe gemeenskappe in sommige gevalle op hulself aangewese was om hulle lewens en eiendom te beskerm.
Die skokkende misdaadsituasie in die land, die treurige Eskom-debakel en die ineenstortende munisipale infrakstukture noop mens ook om verder as die hier en nou te dink en vra te vrae wat begin met “wat as …?” Wat as die kragnetwerk in duie stort? Wat as daar nie brandstof by die petrolstasies beskikbaar is nie? Wat as daar nie kos op die winkelrakke is nie? Wat as daar nie water uit die krane kom nie? Wat as jy nie elektronies toegang tot jou geld het of kontant kan trek nie? Wat as …?
Jou “wat as”-vrae hoef nie op die skaal of in die strekking van dié hier bo te wees nie. Jy wil beslis nie jou ore uitleen aan Jan Rap en sy maat wat fopnuus versprei, gemoedere opjaag of haat en vrees aanblaas nie. Dis nou nie asof jy ’n bomskuiling wil bou nie. Maar jy wil beslis nie met jou broek om jou enkels betrap word as jy soos met die onlangse pandemie weer vir weke lank huisgebonde moet wees of dalk op kort kennisgewing jou huis moet verlaat nie. Noodsituasies, net soos ongelukke, vra nie om te gebeur nie.
Jy kan natuurlik ook vrae vra soos: Weet my kinders hoe om op te tree in die geval van ’n gewapende huisbraak, ontvoering, kaping of selfs ’n huisbrand? Weet hulle wat om te doen indien ons mekaar om watter rede ook al nie kan kontak nie? Het ons belangrike kontaknommers gememoriseer? Het ek en my gesinslede basiese noodhulpkennis? Is ons fiks en neem selfverdedigingsklasse? Is daar ’n noodhulptassie en brandblusser in die huis en in die motor? Weet my dogter hoe om ’n band om te ruil vir ingeval sy met haar motor langs die pad gaan staan? Hoe veilig is ons aanlyn teen moontlike kuberkrakers of identiteitdiewe? Het ek ’n noodfonds vir sou ek dalk by die werk afgelê word? Is my testament en polisse in orde?
Die beweegrede agter hierdie vrae is nie om jou die skrik op die lyf te jaag of ongemaklik te laat voel nie. Maar hopelik laat dit jou bietjie nadink oor hoe voorbereid jy en jou gesin is vir onvoorsiene gebeure. Dalk is dit tyd dat jy en jou gesin ’n dinkskrum hou en julle weerbaarheid opskerp.