Boek leer jou om minder kos te mors

Murdoch Books publiseer The Food Saver’s A-Z deur Alex Elliot-Howery en Jaimee Edwards. Dit is ’n stewige, hardeband publikasie en beslaan 518 bladsye.

Ek is sommer baie opgewonde oor hierdie besonderse boek en beveel dit heelhartig vir KragDag-lesers aan wat ernstig daaroor is om kosvermorsing hok te slaan. Die skrywers dra die boek op aan alle kokke van oraloor wat hulle bes doen dat so min as moontlik kos vermors word. Dis nie net moreel en eties nie reg om kos te mors nie, maar dis doodeenvoudig te duur om onverantwoordelik met kos om te gaan.  Soos die skrywers in die inleiding skryf: “It’s about real people cooking good, simple, affordable food while also making better environmental choices.” Hulle leuse is om eers te gebruik wat jy het alvorens jy winkels toe hol. Daarom plaas hulle meer as 150 algemene groente, vrugte, stapelkosse en selfs vis en vleis alfabeties onder die soeklig.

Hierdie kompakte, dik en tydlose boek is tjokkenblok vol waardevolle bergingswenke, idees vir voorbereiding, plaasvervangers en kortpaaie asook honderde heerlike randrekkerresepte om daardie laaste lekseltjie sous, poeier of meel sinvol aan te wend. Diegene wat daarvan hou om vars produkte uit die tuin te gebruik, sal bly wees dat soveel as moontlik van die eetbare dele van vrugte, groente en kruie gebruik en gepreserveer word. Trouens, daar is ’n baie handige preserveringsgids agter in die boek. Hoewel daar ook ’n paar illustrasies in die boek is, fokus die skrywers hoofsaaklik op die oordra van inligting deur middel van teks.

“The layout is an A-Z ingredient manual, designed to help you use up anything you’re sick of looking at or that’s going to go bad next week. We’ll show you how half a jar of tomato paste can be turned into dinner, just how many things you can do with a tired broccoli head, how delicious cauliflower leaves are, and how never to throw away cooked pasta or rice again. You’ll find advice on what ingredient goes with what, ways to store food properly for longer life, quick ideas for what to do with awkwardly small amounts of something, waste hacks, ingredient swaps, preserving tips and, of course, the answers to that endless question, ‘What’s for dinner?’”

Elliot-Howery en Edwards is beide entoesiastiese kokke en ervare opvoeders by die gewilde Cornerstone Cooking School waar hulle die afgelope 16 jaar lank hulle kookvernuf slyp. Hulle is nie net vriende en kollegas nie, maar hulle vorige boek getiteld Use It All is baie gunstig ontvang. Die positiewe reaksie en terugvoer op die boek het hulle laat besef dat daar ’n geweldige behoefte onder huishoudings van oraloor bestaan om hulle gewoontes in die kombuis aan te pas sodat minder kos verlore gaan. Mense wil nie net minder tyd in die kombuis bestee en omgewingsvriendelik te werk gaan nie, maar hulle wil boonop graag geld spaar. Hulle wil graag besuinig, maar sonder om smaak en voeding in te boet.

The Food Saver’s A-Z is die perfekte boek om in jou kombuis te hê, want jy kan blitsig naslaan wat jy met jou oorskietkos kan maak of hoe jy selfs jou piesangskille kan gebruik of jou ou soutbeskuitjies weer vars en krakerig kan laat proe.

Klik hier om te sien hoe die boek binne lyk.

Skaf gerus jou kopie van The Food Saver’s A-Z hier of elders aanlyn aan. ISBN: 9781911668534

Wen ’n boek!

Een gelukkige KragDag-leser kan met die komplimente van die uitgewers ’n kopie van The Food Saver’s A-Z wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die wonderlike prys, is om hier onder in die kommentaarveld te vertel waarom jy graag hierdie boek wil wen. Sluitingsdatum 14 Mei 2023.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

7 Comments

  • Die boek is presies wat ek nodig het! Met die kinders uit die huis is dit net ek en my man, en die groente en vrugte word heeltemal te stadig opgebruik! Die boek is ‘n wonderlike inspirasie en hulp om in hierdie uitdagende ekonomiese tyd so kos te maak dat niks verlore gaan nie.

  • Hierdie lyk na ‘n baie nodige en handige boek.

    Ons het ‘n projek waar ons vir die behoeftige gemeenskap kos uitdeel, wat eintlik dadelik gebruik behoort te word. Ons kry die kos maar by winkels en boere ens.

    Dit sal so lekker wees om vir hulle ‘n bietjie riglyne te kan gee, oor hoe om kos nie verlore te laat gaan nie, maar ook om van dit wat hulle kry, goed en lekker te kan gebruik.

    Wonder hoekom daar nie al lankal so ‘n boek geplubiseer is nie. Daagliks sien ek hoe kos vermors word, net uit onkunde.

    Mag die boek van krag tot krag gaan.

  • Ek het nou gekyk hoe die boek binne lyk – met jou klik hier opsie.
    Net by A vir appels het ek al reeds goeie idees gekry oor hoe om alternatiewe te gebruik en wat om met oorskiet appels te doen. Die boek sluit aan by een van Krag se vorige artikels oor wat ons kan doen in ‘n nood situasie en sou Eskom tot ‘n val kom en ons nie ‘kos’het nie. Die preservering seksie is beslis iets om na uit te sien.

  • Ek en my Ma draai ons sente om en die boek sal beslis help om ons geld verder te rek. Ons kook reeds konfyt en bottel slaaie.

  • As enkelma met slegs een inkomste, sal hierdie defnitief ‘n wenner wees. Dis nou eintlik ‘n ‘nose to tail eating’ boek vir groente, vrugte en alles tussen-in.

  • Ons het onlangs ons eie plaas gekoop om meer onafhanklik te leef. Hierdie boek lyk asof dit slim idees het om ons te help spaarsamig leef en sáám die natuur te leef.

    • Baie geluk, Jaco Mei. Jy wen ’n kopie van Food Saver’s A-Z met die komplimente van KragDag en die uitgewers.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui