Leesstof vir die herfsmaande

Met die temperatuur wat daal, wil mens mos leesstof aanskaf waarmee jy op koue aande voor ’n kaggelvuur jou tyd kan verwyl. Die volgende lesenswaardige boeke het onlangs die lig gesien en is beslis die moeite werd om aan te koop.

Vlam

Human & Rousseau publiseer Sidney Gilroy se speurverhaal getiteld Vlam. Dié blitsblaaier beslaan 277 bladsye en is die derde boek waarin speursersant Sollie Mthembu alles in die stryd werp om moordverdagtes vas te trek. Dit is spanning en intrige op sy beste. ’n Kunsgalery brand af in Parys, en die oorskot van ’n vrou word in die ruïne gevind. Daar is ’n paar verdagtes, en Sollie moet sy storie ken om agter die kap van die byl te kom. As jy hou van boeke wat met jou gedagtes smokkel en jou op die punt van jou stoel hou, lees Sidney Gilroy se werk. Sy eerste boek, Klikbek, word opgevolg deur Middernag wat in 2021 met die kykNet-Rapport-filmprys bekroon is.

Openingsinne: Die voorlaaste week van Januarie begin met reën wat in vlae uitsak oor die plase rondom Parys in die noordweste van die Vrystaat. Teen Woensdag het daar reeds meer as 120 millimeter in die distrik geval. As die boere oor modderige plaaspaaie verby mekaar sukkel, word daar met bekommerde gesigte oor en weer geknik. Méér reën en daar sal groot skade aan die mielies wees – ’n mistroostige voorspelling vir 2022 se oes.

Kry Vlam hier.

Veldhospitaal 12

Tafelberg publiseer Marinda van Zyl se historiese roman getiteld Veldhospitaal 12. Hierdie roman van 254 bladsye behou ’n fyn balans tussen feite en fiksie. Fiktiewe én historiese karakters kleur die mooi verhaal in. Briewe en ’n dagboek, wat meer as net ’n familiegeskiedenis behels, wys dat Jurgens en Susan Schoeman afstammelinge is van ’n mediese student, Helmut Schumann, wat by die veldhospitaal vir Herero- en Nama-gevangenes in Lüderitz (1905-1907) gewerk het. Helmut dokumenteer die onmenslike omstandighede daar en skryf ook oor sy liefdeservaringe met ’n Boerenooi en ’n Nama-meisie. Die verhaal word deur middel van briewe en dagboekinskrywings vertel wat sorg vir ‘n anderste leeservaringe. Van Zyl is ook die skrywer van Amraal, Dors en Rooiborslaksman.

Openingsinne: Jurgens Schoeman speel geïrriteerd met sy pen terwyl hy luister na ’n nuwe versinsel wat die pasiënt opdis. Meneer Smit, in sy vroeë tagtigs, is ’n moeilike neut om te kraak, besig met ’n skaakspel; praat in raaisels en verwag van hom om dit te ontsyfer. Ná twaalf sessies kan hy maar netsowel erken Smit het hom van die eerste dag af ore aangesit. “Matrone dreig om my uit die ouetehuis uit te skop oor ek glo die ander inwoners se nagrus versteur terwyl ek snags soos ’n klip slaap. Hulle is seker bang vir my, want my pa was ’n moordenaar.”

Kry Veldhospitaal 12 hier.

Grootgeluk

Human & Rousseau publiseer Jan van Tonder se historiese roman getiteld Grootgeluk. Dié boeiende en pretensielose verhaal (1850’s tot 1914), waarin die menslike natuur tot op die been gestroop word, speel af in die Klein-Karoo. Tijs Velaat word aangekla van moord, maar eintlik begin die storie reeds vóór sy geboorte toe die jong egpaar Dries en Hendrien die galbitter beker van teleurstelling tot op die droesem moes ledig. Die skrywer se deeglik deurdenkte woordkeuse en treffende taalgebruik beïndruk. Die snaarstywe storielyn is deur ’n meesterstorieverteller geskep wat sy mense- en agtergrondkennis skynbaar moeiteloos inspan. Jan van Tonder is ook die skrywer van Roepman, Die verevrou en Is weer Sagie.

Openingsinne: Een keer nog moet ek, Tijs Velaat, in die koort wees, die Ommegaande Hof, wanneer hy hier op Oudtshoorn kom sit, want onse magistraat het besluit my saak is te ernstig vir sý rang. Ek wag om aangeluister te word. Nie om genade te vra nie, maar vir die regter en advokate – God sinne inkluis – en die nege manne van die jurie én die klomp nuuskieriges wat die spektakel gaan kom bekyk, vir die hele spul, wil ek skreeu: Dit gaan nie oor die dag in die waenhuis op Grootgeluk nie. Op daardie klag is ek onskuldig!

Kry Grootgeluk hier.

KOMPETISIE

Een gelukkige leser kan met ’n kopie van Vlam, Veldhospitaal 12 of Grootgeluk wegstap. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om 1) in te teken op KragDag se nuusbrief (as jy nie reeds ingeteken is nie) en 2) in die kommentaargedeelte hier onder aan te dui watter boek jy graag wil wen en hoekom. Die kompetisie sluit einde Junie 2022.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

5 Comments

  • Ek sal graag Veldhospitaal 12 wil wen, asseblief. Ek het Dors van Marinda van Zyl op RSG geluister en baie van die boek gehou. Dus dink ek Veldhospitaal 12 sal ook in my kraal val.

  • Ek sal so bly wees as ek Sidney Gilroy se Vlam kan wen!

  • Ek sal graag Grootgeluk van Jan van Tonder wil wen want ek het baie gehou van Jan van Tonder se ander boeke en die boek lyk ook belowend.

  • Grootgeluk asb. Ek het van die skrywer se vorige titels, soos Roepman, baie geniet. Ook het ek nog net goeie resensies van die boek gelees. Uiteraard ń moeilike keuse tussen drie baie goeie skrywers.

  • Baie geluk, Marieta McGrath! Jy is die wenner van jou gekose boek. KragDag sal met jou in kontak wees om te reël dat jou boekprys by jou afgelewer word met die komplimente van die uitgewer.

    Baie dankie aan almal wat deelgeneem het!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui