Ondersteun die industrie
Na afloop van die grendelstaat in reaksie op die Covid-19 pandemie, vind daar hierdie naweek, van 22-24 April 2022 twee geleenthede plaas vir die eerste keer sedert 2019. Ons nooi graag die KragDag gemeenskap uit om hierdie geleenthede te besoek en sodoende ook ‘n industrie, wat hewige skade gedurende die ramptoestand gelei het, te ondersteun.
Pretoria Fees en Buitelug Ekspo
Op 22, 23 en 24 April 2022 neem KykNET, MTN, Pretoria FM, Maroela Media en die Waterpump Groep hande en bied vir die eerste keer Die Pretoria Fees by Legends MX aan. Die fees is familie-georiënteerd, plaaslik, en die verskeidenheid aktiwiteite wat jy kan verwag, sal omtrent jou mond laat oophang!
Besoekers kan uitsien na ‘n uitstalling van 40 000 proteas, 1 000 Koning Proteas en oor die 100 000 vetplante.
Die hoofverhoog spog met ongelooflike Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Refentse, Bernice West, Martin Bester en Francois van Coke – om net ‘n paar te noem. Die tweede verhoog verwelkom van Suid-Afrika se beste opkomende talent.
As Afrikaanse musiek nie jou ding is nie, kan jy jou skoene uitskop en jou tone by die Collision Festival in die sand gaan druk. Die fees is belaai met Alternatiewe Musiek, Rock en Roll, en self PSY Trance, die fees spog ook met ‘n MMA Boksring, vuurdansers en sirkuskunstenaars! Name soos Bittereinders en Black Cat Bones sal laatnag hierdie terrein aan die gang hou.
Legends Sky bied saam-vlieg geleenthede aan oud en jonk, en as jy veiliger op die grond voel kan jy die geleentheid om in ‘n Nissan GTR saam te jaag met twee hande aangryp! 4×4 liefhebbers kan nou hulle 4×4’s inskryf in ‘n reeks kompetisies wat op die perseel sal plaasvind!
Kaartjies sowel as enige inligting is beskikbaar op die fees se webtuiste.
Huntex 2022
Na Huntex se hofsaak teen die polisie opslae gemaak het in 2021, wat die weg vir ander geleenthede (soos KragDag) gebaan het om voort te gaan, sal hierdie gewilde ekspo van 22-24 April voortgaan te Gallagher Estate in Midrand.
HuntEx is ‘n internasionale verbruikersuitstalling wat opsies bied vir jagters, sportskuts, wildplaaseienaars en wildtelers, mense met persoonlike en defensiewe beskermingsvereistes, buitelugmanne, hengelaars, sekuriteits- en beroepslui. Die ekspo is ‘n ervaring met demonstrasies en insiggewende praatjies deur kundiges.
Op die skou is die nuutste in jag, sport, taktiese en verdedigende vuurwapens, ammunisie, toerusting, bykomstighede, skiet- en herlaaitoerusting, optika, jag, buitelug- en taktiese kledingstukke, skoene, messe, boogskiet, taksidermie, jag- en visvangbestemmings, voertuie, kampeer, buitelugtoerusting, wildskuns, en nog baie meer. Dit alles aangebied deur kundiges wat glo in die produkte wat hulle verkoop.
Vir meer inligting, besoek die webtuiste.