Hoe gaan die einde van Suid-Afrika lyk?
In September 2021 is die toekoms van Suid-Afrika beskryf as ‘n Lappiesrepubliek, ‘n verbrokkelde nasionale staat bestaande uit drie dele. In Somalië is daar geen sentrale gesag nie en word gemeenskappe arbitrêr geregeer deur bendeleiers en stamhoofde. Wes-Kaapland word deur ‘n bekwame staat geregeer uit Kaapstad. Die Federasie van Orania is ‘n losse netwerk van georganiseerde selfstandige gemeenskappe.
Sedertdien versnel die tendens op die pad na hierdie toekoms. Dit wat Suid-Afrika bymekaar hou verbrokkel teen ‘n versnelde tempo. Elke jaar styg die gemiddelde vlak van beurtkrag soos verskaf deur die sentrale energieverskaffer, Eskom. Die poskantoor is bankrot. Die hoeveelheid passasiers wat vervoer word deur PRASA het met 97% gedaal sedert 2019. Van die nasionale lugdiens is bykans niks meer oor nie en plaaslike en provinsiale paaie word toenemend meer slaggat as pad.
Die nasionale regering het géén plan om hierdie trajek van verbrokkeling om te keer nie en gedesentraliseerde enklawes is besig om hulle planne in werking te stel. Burgers stem ook met hulle voete en semigreer na hierdie enklawes.
Wes-Kaapland eis al hoe meer outonomie. In Kaapstad en baie Wes-Kaapse dorpe word tenders uitgereik vir die verskaffing van energie. Kaapstad eis met groeiende erns dat hulle voorstedelike treine kan oorneem. Lugvervoer en posdienste is lank reeds deur privaatoperateurs oorgeneem en slaggate is in die Wes-Kaap ‘n rariteit.
Oor die land groei Orania en ander enklawes. Gemeenskappe bou hulle eie energiestelsels, waterstelsels, rioolstelsels, ens.
Terwyl die eise vir die desentralisasie van mag toeneem, klou die nasionale regering hardnekkig vas aan sentrale beheer. Die een na die ander wet in die parlement poog om meer mag in die nasionale staat te sentraliseer. Die spanning tussen hierdie gedesentraliseerde enklawes en die nasionale staat neem daarom toe.
Die groeiende spanning veroorsaak dat die nasionale regering begin om toegewings maak, veral in die energiesektor, om daarmee nog die illusie van nasionale beheer te probeer behou. Daar word byvoorbeeld ruimte geskep vir privaat operateurs om energie te lewer. Hierdie toegewings is egter totaal onvoldoende om dié spanning te ontlont.
Soos wat die spanning groei, gaan een of ander tyd ‘n Poetin-oomblik kom. Poetin het in 1989 by die KGB kwartiere in Oos-Duitsland gewerk. Toe hierdie kantoor bedreig is deur ‘n klein groepie protesteerders het hulle vir hulp by die Sowjet weermag gevra. Die antwoord van die weermag was: “Ons kan niks doen sonder instruksies van Moskou nie, en Moskou is stil.”
Een of ander tyd gaan plaaslike gedesentraliseerde enklawes die funksies oorneem van die nasionale staat, sonder toestemming. Die plaaslike kantoor van die nasionale departement gaan Pretoria bel, maar niemand gaan antwoord nie. Daardie moment gaan die teken wees van die einde van die huidige Suid-Afrika.