Kruie in die apteek

Ek het onlangs op ‘n Facebook-groep waar tweedehandse boeke verkoop word, ‘n hardeband boek getiteld Kruie in die apteek: die bese natuurlike alternatiewe vir toonbank- en voorskrifmedisynes raakgeloop. Dit is geskryf deur Linda B. White en Steven Foster met oorsig deur dr Ian Banks. Dit is as naslaanwerk bedoel en is nie ‘n mediese handboek nie.  Die inligting daarin vervat kan volwassenes wel help om kundige besluite oor hulle gesondheid te neem. Daar is wêreldwyd ‘n beweging waar mense al meer verkies om self beheer te neem oor hulle gesondheidskeuses, en baie verkies om dit op so ‘n natuurlike wyse moontlik te doen.

My kopie van Kruie in die apteek beslaan 626 bladsye en daar is vier dele, naamlik “Vind jou pad deur die kruiewêreld”, “Geneesmiddels en hul kruie-alternatiewe”, “Bekyk jou opsies vir behandeling”, en “Profiel van kruie”.

Ek lees in die inleiding van deel 1: “Onthou hy nog jou laaste besoek aan die apteek om nievoorskrifmedisyne te kry? Hoe lank het jy die middels op die rakke bekyk, die fynskrif op etikette van die onderskeie produkte gelees, dosisse en newe-effekte vergelyk, en gewonder oor die prysverskille tussen middels wat oënskynlik dieselfde bestanddele bevat? Nog erger, het jy al ooit ‘n slegte ervaring gehad met voorskrifmiddels? As jy gereeld medikasie vir hoë bloeddruk, allergieë, diabetes of ‘n ander langtermyntoestand gebruik, het jy al moontlik newe-effekte ervaar wanneer jou dokter die dosis wysig of verskillende farmaseutiese formules probeer om net die regte een vir jou te vind. Die goeie nuus is dat daar alternatiewe beskikbaar is, alternatiewe wat min kos, net so goed of beter werk, en algemene gesondheid met minder newe-effekte bevorder. Jy kan hulle vind in ‘n plek wat ons die kruie-apteek noem.”

Vir die doeleindes van dié boek word ‘n kruid gekassifiseer as “enige plantmateriaal wat gebruik word om ongewenste simptome te verlig of om algemene gesondheid te verbeter”. “Kruiemedisyne behels dus die gebruik van plante, plantekstrakte of plantpreparate om gesondheid te verbeter.” (bl. 9) Hoewel kruiemiddels in die algemeen minder en baie matiger newe-effekte as farmaseutiese middels het, moet mens steeds goed ingelig wees oor die gebruik daarvan. Dit kan ook allergiese en ander ongewenste reaksies veroorsaak. “Gebruik die regte hoeveelheid van die regte kruid op die regte tyd vir die regte aantal dae. En as jy wel ‘n aanhoudende gesondheidsprobleem het of ‘n voorskrifmiddel gebruik, is dit noodsaaklik om jou dokter te raadpleeg voordat jy met ‘n kruieprogram begin.” (bl. 19)

Ek het spesifiek vir hierdie artikel nagelees oor die gebruik van sekere kruie vir baie algemene toestande. Ons onderskryf ‘n selfonderhoudende, onafhanklike leefstyl waar ons so ver moontlik ons eie voedsel produseer. Ek stel baie belang in die medisinale eienskappe van plante, want dis ons persoonlike keuse om enige kwale eerder so natuurlik as moontlik te behandel as om farmaseutiese medikasie te gebruik. Ons is ook te ver uit die naaste dorp om sommer net vir ‘n hoofpyn vinnig by die apteek ‘n draai te gaan maak.

Uit Kruie in die apteek, kry ek toe die volgende raad (my eie opsomming):

Laventel: Wend met ‘n wattestokkie die essensië olie van laventel – wat antibakteries, anti-inflammatories en sametrekkend is – aan algemene velirritasies en minder ernstige brandwonde om verligting te bring. Gooi ‘n dosyn druppels by jou badwater, of gebruik dit ook helfte-helfte met ‘n groenteolie soos amandel, olyf of sesam as masseerolie.

Roos: Spuit rooswater wat van essensiële roosolie gemaak is, met ‘n spuitflessie aan jou lyf. Dit ruik lieflik en het ‘n strelende, antiseptiese werking.

Pynappel: Die vars vrug het anti-inflammatoriese eienskappe en kan verligting vir artritistoestande bring. Eet dus gereeld pynappels as jou lyf seer en styf is.

Rooi- of brandrissies: Dit kan help vir babelas. Gooi ‘n knippie of twee verpoeierde cayennepeper oor jou kos of neem daarvan in ‘n glas tamatiesap die oggend nadat ná jou kuiersessie.

Avokado: Wend verpulpte avokado (of die olie) aan ekseemkolle. Dit is goed vir jou vel en sal die gejeuk, droogheid en inflammasie help verminder.

Tee: Maak ‘n teesakkie (groen of gewone swart tee) klam en plaas dit op kneusplekke. Dit kan help vir swelling en blou-oë.

Pampoenpitte: Neem sowat drie eetlepels fyngemaalde rou pitte per dag om ingewandswurms en -parasiete mee uit te dryf.

Doen gerus jou eie navorsing oor die gebruik van medisinale plante om die simptome van kwale te verlig of te genees. Hierdie tipe kennis kan baie waardevol wees. Jy kan ook baie van hierdie plante organies in jou eie tuin kweek.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui