Boekoorsig: Gebedsjoernale vir manne en vroue

Twee gebedsjoernale het onlangs op my lessenaar beland: een vir mans en een vir vroue. Ek glo dat KragDag-lesers baie baat hierby sal vind. Beide joernale, Vroue van geloof: Geloof soos ‘n mosterdsaadjie en Manne van geloof: Geloof om berge te versit, word deur Christelike Uitgewers Maatskappy uitgegee. Die gebedsjoernaal vir vroue is vertaal uit die Women of Faith Prayer Journal (Christian Art Publishers) en die gebedsjoernaal vir manne is deur die alombekende en geliefde Angus Buchan geskryf.

Vroue van geloof: Geloof soos ‘n mosterdsaadjie

Die lokteks lui: “Ontsluit die krag van gebed in jou eie lewe wanneer jy die lewensverhale lees van 30 vroue van geloof – vroue soos Corrie ten Boom, Susanna Wesley, Francis Havergal en Amy Carmichael, en ook Bybelkarakters soos Hanna, Maria, Rut en Ester.”

Die joernaal beslaan 128 bladsye en daar is vrae vir nadenke en ook riglyne vir gebed. Ek hou veral daarvan dat daar plek is vir persoonlike aantekeninge en gebede. Dis eintlik ‘n minikursus op sy eie, een wat ruimte laat vir selfondersoek en jou vol moed sal laat om enige probleme op jou pad te trotseer.

Uittreksel: “Maar God het ‘n ander einde vir Naomi se verhaal beplan. Hy sou haar nie bitter laat nie, maar haar herstel en seën. God is getrou en min het Naomi geweet dat sy Goddelike plan en doel deur haar skoondogter Rut en haar losser-man, Boas, geopenbaar sou word. Deur Naomi se verlies het die wêreld uiteindelik ‘n Redder verkry. Deur haar bitterheid is die wêreld uiteindelik geseën. Uit Rut en Boas se huwelik is ‘n seun gebore wat die oupa was van koning Dawid, en uit hierdie koninklike geslag is ons Here en Verlosser, Jesus Christus gebore.” (65)

Manne van geloof: Geloof om berge te versit

Die lokteks lui: “Ondersoek die lewens van 30 geloofshelde wat berge verskuif het deur getroue gebed, waaronder Charles Spurgeon, Oswald Chambers, E.M. Bounds, Johannes Calvyn, Augustinus, en ook Bybelkarakters soos Dawid, Job, Abraham en Salomo. Hierdie gebedsjoernaal sal jou help om die man van God te word wat jy bedoel is om te wees.”

Die joernaal beslaan 128 bladsye en daar is ook insiggewende vrae wat manne sal laat nadink en riglyne vir kragtige gebede. Die meer as genoeg plek vir persoonlike aantekeninge en gebede inspireer jou om interaktief met die boodskap om te gaan en dit werklik jou eie te maak.

Uittreksel: “[William] Carey het in sy leeftyd gesien hoe Indië sy deure oopmaak vir sendelinge, hy het gesien hoe die edik uitgevaardig word wat suttee verbied (die verbranding van weduwees op die brandstapels waarop hulle oorlede mans verbrand is), en hy het gesien hoe baie mense hulle tot Christus bekeer. Hy het Indiërs aangemoedig om sendelinge te word en gehelp om die landbouvereniging van Indië tot stand te bring. Hy het groot dinge van God verwag en groot dinge vir God gedoen!” (29)

Die goed nagevorste lewensverhale van die vroulike en manlike geloofshelde is baie leersaam en interessant.

Skaf jou kopie van Vroue van geloof: Geloof soos ‘n mosterdsaadjie hier aan en kry Manne van geloof: Geloof om berge te versit hier.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van beide boeke wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boeke graag wil wen. Sluitingsdatum 27 Februarie 2026.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

6 Comments

  • Hi. Ek sal graag die boeke wil wen, want ek is verbind tot my geestelike groei en verdieping. Hoewel ek ongetroud is, kan ek die boek vir mans vir ‘n vriend gee.

  • Ek het 2 Januarie 2026 my lewe aan God gegee op 62 jarige ouderdom. Ek het inspirasie gevind om te sien hoe God my seun se lewe omgekeer het en tot die besef gekom dat slegs God my verhoudings kan red.
    Ek het ook toe besef hoe my vrou alleen deur gebed en geloof ons verhouding en ons familie gedra het terwyl ek “afwesig” was.
    Al die Glorie aan GOD

  • Ek sal graag die boeke wil wen o m as geskenke re gee aan my seun en dogter wat beide sukkel deur uitdagings in hul volwasse lewe. Beide het pas opnuut besef dat hul enigste hoop in gebed lê. Ek glo die boeke sal hul help om hul geloof te versterk.

  • Ek is deur ongelooflike verliese – eers my man, toe my seun, toe my jongste boetie en drie weke gelede my ma. Ek besef ek moet soos Job die slegte met die goeie uit die Here se hand aanvaar. Dalk net wat nodig is om uit die seer te groei …

  • Die boeke is spesiaal veral Oom Angus is so goed om die Woord te bring sonder om homself voor te stoot.
    Ek lees graag Christelik maar nie alles nie. nie almal het iets te se wat ek wil hoor nie.Geloof maak ons egter sterk en ons kan altyd daarin groei.
    Dit sal in my lewe ‘n groot verskil maak. Ek sal dit hoog op prys stel want ek is al ouer (55) en weet nou meer om uit te kyk vir ongeloof en ompad.

  • Ek wil bittergraag die boeke as n geskenk vir my seun en sy britse vrou gee.
    Glo dit sal baie vir hul beteken.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui