
Boekoorsig: Kookboeke vir kinders
Dit is so lekker om te sien dat ‘n uitgewer moeite doen om kookboeke vir kinders uit te gee en te bemark. Die koerier het onlangs twee pragboeke by my afgelaai, naamlik Kombuistaal en Jan Braai Junior In Die Kombuis. Beide hierdie pragtige kookboeke is perfekte geskenke. Dit sal menige seun en meisie se hart steel en aan hulle ure se genot in die kombuis verseker.
Kombuistaal
Hierdie besonderse resepteboek uit die pen van Vickie de Beer spog met versies deur die gesogte Antjie Krog en illustrasies deur Roelien Immelman. Die boek beslaan 104 bladsye, gesonde resepte en volkleurfoto’s. Dis werklik ‘n baie mooi boek, een wat mens sal wil bewaar vir die volgende geslag ook.
Die lokteks lui: Kombuistaal gee vir kinders die woordeskat en vaardighede om seker te maak dat hulle van jongs af weet hoe om kos te kies wat gesond en heilsaam is. Selfs grootmense word touwys gemaak oor hoe om slim keuses te maak om hul besige kinders gesond en sterk te hou – alles gebaseer op wetenskaplike navorsing. Kosmaak is ‘n naelstring tussen jou en jou lyf. Om te eet wat jou hande maak is om ‘n prysbrief vir jou lyf te skryf. Boonop is dit ‘n lekkerleesboek propvol nuwe gedigte deur Antjie Krog.”
Vickie leer kinders om veilig in die kombuis te wees, maar raai ouers aan om hulle kinders altyd onder toesig te laat kook. Kinders leer ook kombuistaal, soos onder meer die betekenis van woorde soos blansjeer, prut, klop, rooster, ensovoorts. Die instruksies is puntgewys en duidelik. Kinders kry vooraf die gesonde bestanddele en gereedskap reg. Wenke en inligting saam met die prettige illustrasies en mooi foto’s maak van dié boek ‘n wenner.
Hier volg ‘n paar van die resepte wat kinders kan probeer: Bloubessie-muffins, Reënboogslaai, Bobaas hamburgers, Woema fudge, Bessie-energiestafies, Rotskoekies, Pizza met pizzazz en Hupstoot-tee.
Skaf jou kopie van Kombuistaal by ‘n boekwinkel aan of bestel dit hier.
Jan Braai Junior In Die Kombuis
Jan Braai het geen bekendstelling nodig nie. Sy kookboek vir kinders wemel van resepte, tegnieke en praktiese raad. Dit beslaan 63 bladsye en aptytwekkende volbladkleurfoto’s. Jan Braai maan kinders ook om veilig in die kombuis te wees en hulle gesonde verstand te gebruik. Hy skryf: “Sommige van die resepte in hierdie boek sal sonder twyfel jou eerste treë in jou ontdekkingsreis wees. Ander resepte word dalk dié wat jou vir die res van jou lewe sal bybly, net soos dit hier geskryf is, omdat hulle almal maklik is om te maak maar die resultate só uitstaan dat jy nooit ‘n ander weergawe daarvan in jou versameling nodig sal hê nie.”
Die lokteks lui: “Jan Braai Junior In Die Kombuis is ‘n boek vir die volgende geslag. Dis geskryf in Jan Braai se kenmerkende styl en die hele gesin kan maklik volgbare stap-vir-stap-resepte geniet. Wanneer jy heerlike kos suksesvol maak en vertroue in jou vaardighede in die kombuis ontwikkel, pak jy ‘n lewenslange reis aan waar jy spesiale etes met gemak en selfvertroue sal kan maak. Hierdie gebruikersvriendelike boek bevat die grondbeginsels van kookkuns wat elke persoon behoort te ken, en gebruik basiese toerusting en sakpas bestanddele. Met Jan Braai se wenke en raad sal Jan Braai Junior In Die Kombuis jou gereedmaak om vir die res van jou lewe soos ‘n kampioen te kook!”
Ek noem hier ‘n paar van die resepte in die boek: Plaatkoekies, Luilekker skons, Pasteihappies, Nacho’s, Bolognese-burgers, Pangebraaide rys, Rice Krispie-koekies, Choc Chip-koekies en Limonade.
Skaf Jan Braai Junior In Die Kombuis hier aan of kry dit by ‘n boekwinkel. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Jan Braai Junior In the Kitchen en kan hier bestel word.
Kompetisie
Twee gelukkige KragDag-leser kan elk ‘n kopie van beide boeke wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boeke graag wil wen. Sluitingsdatum 31 Januarie 2026.

Ek is bevoorreg om die ouma van ‘n Engelkind te wees wat net wil bak en brou. Dit is wonderlik om te sien die inisiatief wat sy op 10 jaar in die kombuis neem en die feit dat ons haar ‘normaal’ groot maak.