Boekoorsig: Jan Braai – Atmosvuur/Atmosfire

Jan Braai se jongste braaiboek getiteld Atmosvuur is ’n omvattende, hardebandgids met pragtige volkleurfoto’s. Dit is ook in Engels beskikbaar as Atmosfire. Beide boeke het pas by Penguin Random House South Africa verskyn.

Atmosvuur hoort nie net in die kombuis of braaikamer nie, maar beslis ook op die koffietafel. Dit beslaan 432 bladsye, 20 hoofstukke en meer as 200 smullekker resepte. Jan het die boek geskryf om die 20ste bestaansjaar ter viering van Nasionale Braaidag, wat jaarliks gewoonlik op 24 September gevier word, te gedenk.

Jan skryf in die inleiding ter agtergrond: “Ek het die voorreg gehad om boeke te skryf en te publiseer, deur Suider-Afrika en die wêreld te toer vir die verfilming van ’n televisieprogram oor reis en kosmaak, en Nasionale Braaidag te bevorder. Ek het verskeie braaiverwante produkte in die kleinhandel bekendgestel wat ek eers deeglik moes navors en toets. Dan het ek ook gebraai saam met duisende mense uit alle agtergronde by wie ek altyd ’n ding of twee oor braai kon leer wat ek nog nie geweet het nie. Ek het nou ’n skatkis vol braaikennis wat ek nie 20 jaar gelede, aan die begin van hierdie reis, gehad het nie. Dit het op ’n natuurlike manier oor die jare ontwikkel danksy dít waarmee ek elke dag besig is. Ek stel ook nog altyd daarin belang om te verbeter en ek aanvaar nie sommer die ou manier van doen (konvensionele wysheid) as die enigste manier om te braai nie. Hierdie is natuurlik nie my eerste en hopelik nie my laaste braaiboek nie, maar dit is verreweg die grootste skryfprojek wat ek al aangepak het – die boek is dikker as die voriges, bevat meer resepte en dek ’n wyer veld.”

Braai-entoesiaste kan hulle tande slyp vir moeitelose, onopgesmukte resepte waarvan die bestanddele maklik verkrygbaar is. Daar is ook waardevolle wenke en raad. Die hoofstuktitels gee ’n aanduiding waaroor die resepte, wat duidelike instruksies het, handel: ontbyt; die hamburger; steak; peri-peri-hoender; pasta en pizza; in die kole; direkte hoë hitte; direkte lae hitte; smoor en braai; hoe om te spitbraai en ’n balieroker te gebruik; pap; klassieke potjies; kerriepotjies; internasionale potjies; seekos; wildsvleis en voëls; sop; brood; nagereg; wanneer jy erg huis toe verlang.

Die volgende resepte het my aandag getrek: beesfilet met sampioensous, dikrib met kerriebotter, peri-peri-hoenderlewertjies, potjiepizza, steak en knoffel in die kole, duiwelsruiters, spanakopita, kerrielamsosaties, skaapstertjies, soet-en-taai-hoendervlerkies, biltong-en-kaaskrummelpap, gepluiste beesborsstukrolletjies, birjani, coq au vin, moesakapotjie, brandrissie con carne, nachos-potjie, snoek met soetpatat, mosselpotjie, kreef, wildsvleisbobotie, fynvleis-jaffels, lemoeneend, biltong-brokkoli-bloukaassous, boereworsroosterkoek, spinasie-en-kaas potbraaibolletjies en, brandewyn-en-kola malvapoeding.

Lesers leer hoe om onder meer vars vis, wagyu-steak en hoenderstukkies te braai en op die regte manier tradisionele braaibroodjies te bou. Daar is selfs resepte vir piesang-en-nutella-karosse, blatjang en beskuit.

Die verskeidenheid resepte sal vleiseters oneindige eetplesier verskaf en sorg vir ure se kuier om die houtvure. Die fotograaf Toby Murphy en assistent-fotograaf Maliza Masumpa se foto’s sorg ook vir kykgenot en komplimenteer die resepte perfek.

Jan Braai skryf: “Dankie aan elke persoon van oor die hele wêreld wat ooit saam met my gebraai of langs my rondom ’n atmosvuur gesit het. Hierdie boek is die produk van al die gesamentlike, stille kennis wat by al daardie vure bymekaargemaak is.”

Ek beveel Jan Braai se Atmosvuur en Atmosfire heelhartig aan. Skaf gerus hierdie publikasies by deelnemende boekhandelaars aan of koop dit aanlyn. Jy kan Atmosvuur hier koop en Atmosfire hier.

Kompetisie

Een gelukkige KragDag-leser kan ’n kopie van Atmosvuur wen. Nog ’n gelukkige leser kan ’n kopie van Atmosfire wen. Skryf in die kommentaarveld hier onder watter boek jy graag sal wil wen en waarom. Die boeke kan slegs na ’n adres in Suid-Afrika gekoerier word. Sluitingsdatum  30 Januarie 2025.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

5 Comments

  • Ek sal graag die engelse boek Atmosfire wil wen aangesien ons gereeld eerder op die vuur probeer kos maak siende dat krag gewoonlik n probleem is.
    Ek is baie lief daarvoor om nuwe idees en resepte te probeer.
    Rede hoekom ek die engelse boek verkies is omdat my dogters almal Engels hooftaal is en ook graag kos maak.

  • Kragdag is n moet. Soveel idees en kontakpersone om in jou arsenaal te hou. Ir wanneer nodig. N Nonus is die kosstalletjies en eg Suid-Afrikaanse disse soos skilpaadjies,pannekoek,pap en kaiings ens. Lekker om tussen ons eie volksgenote te wees.

  • Ek sal graag Atmosvuur wil wen. Elke bietjie hulp sal help dat ons braai verbeter en besonders sal wees. Dink net aan al daardie lieflike interessante bykosse. ‘n Braai sal nooit weer dieselfde wees nie.

  • Ek sal atmosvuur wil wen omdat dit Afrikaans is.

  • Ek sal graag die Atmosvuur wil wen asb.
    My man verjaar amper en dan is ons 24jaar getroud hy hou van kos maak en om die vuur kuier dit sal n mooi geskenk vir hom wees.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui