
Boekoorsig: Geloofsgedagtes vir jongmense
Dominee Jaco Strydom se boek getiteld Eendag is te ver: Geloofsgedagtes vir jong Jesusvolgelinge (180 bladsye) het onlangs by Lux Verbi verskyn. Dit is die perfekte boek om vir jongmense (15 tot 25) geskenk te gee, veral dalk matrikulante wat eersdaags klaar met skool is en die grootmenswêreld moet trotseer. Tieners en studente sal die boek ook van waarde vind. Trouens, die beginsels hierin vervat is tydloos, en ek as grootmens het ook baie daaruit geleer.
Die agterbladteks lui: Jonkwees is ‘n superpower. Dwarsdeur die geskiedenis was dit dikwels juis jongmense wat die groot verskil gemaak het. Jesus het nie vir kinders gesê word groot nie, Hy het vir grootmense gesê word klein. En dis goeie nuus. Ook vir tieners en studente wie se bydrae tot die samelewing vandag dikwels onderskat word. Te veel jongmense glo die leuen dat jy eers klaar moet wees met skool – en verkieslik ‘n graad moet hê – voor jy aan die groter gesprekke kan deelneem en ‘n verskil kan maak. Vra nou al die groot vrae, leer die belangrikste geloofsgewoontes aan, sien die misterie van God se teenwoordigheid op nuwe plekke raak en neem deel aan Jesus se rewolusie van hoop. Daar is voordele aan jonkwees, tyd is kosbaar en eendag is eenvoudig te ver!
Jaco skryf oor Eendag is te ver: “Daar is gedagtes oor die kuns van vrede maak en die groot uitdagings rondom armoede in ons land, riglyne vir Bybellees, motiverings vir selfbeheersing, gesprekke oor die natuur, gebed, die dood, om maar ‘n paar te noem. En heelwat stories.” (p. 10) En dit is reeds hierdie trefferstories, wat Jaco in ‘n boeiende geselstrant skryf, wat hierdie boek so kosbaar maak. Dit illustreer lewens- en geloofsbeginsels op ‘n praktiese en toeganklike wyse wat jongmense geensins as prekerig of dweperig sal ervaar nie. Inteendeel, dit is interessant, leersaam en vol impakmakende stellings.
In Eendag is te ver hou hy aan jongmense die goeie nuus voor dat in God se hand hulle nie instrumente van minder waarde as dominees, pastore, politikusse of skatryk miljoenêrs is nie. Hy span inspirerende stories saam met toepaslike Bybelverse in om waarhede, wenke en raad uit te lig. Die hoofstukke is kort en kragtig, reeds om die maksimum 5 minute-trefkrag te gee in jongmense se dikwels oorvol skedules. Die kernwaarhede bly egter in mens se kop draal en jy oordink dit deeglik. Onthou, Jesus het gelykenisse, oftewel stories, ingespan om mense se harte aan te raak. Jaco kwoteer ook aanhalings deur bekendes soos Winston Churchill, Carl Jung en Friedrich Nietzsche.
Uittreksel: “Maar wat beteken dit rêrig om geseënd te wees? Die godsdienstiges in Jesus se tyd – soos die meeste godsdienstiges in ons tyd – het geglo om geseënd te wees beteken dat goeie dinge óm jou en mét jou gebeur. Jou oes is groot; jou vyande word verslaan; jy erf ‘n klomp geld … Maar Jesus was anders. Radikaal anders. Volgens Jesus gaan geseënd-wees nie oor goeie dinge wat mét jou of óm jou gebeur nie. Dit gaan oor goeie dinge wat ín jou en déúr jou gebeur. Dis ‘n groot gedagte. So groot dat dit jou lewe kan verander.” (p. 85-86)
Uittreksel: “Hoe meet jy geestelike groei? Jy meet dit aan liefde! Jy vra jou af of jou hart besig is om te groei in liefde. Jy vra: Het ek vandag meer liefgehad as laas week, as verlede jaar hierdie tyd? Eers dan begin die ander belangrike dinge soos geloof en kennis en gawes en toewyding tot hulle reg kom.” (p. 78)
Hier volg net enkele van die hoofstuktitels: Onvrede in die vriendekring; Jy sê jy wil ‘n leier wees?; Moet nooit sê dinge kan nie erger raak nie; Sê nou jy het drooggemaak?; Beledigings en kritiek oor die regte dinge; Die lewe maak jou bitter of beter; Die moeilikste ding wat God van ons vra; As jy wonder of jy moet bid; en Hoe help ek my pel?
Jaco is bekend om boeke soos Leef lig, Alle sondaars welkom, Confessions oor kerkwees en Daka. Hy is ‘n avonturier, rubriekskrywer, blogger en ook leier van die Echo-gemeenskap. Skaf gerus Eendag is te ver by deelnemende boekwinkels aan of bestel dit aanlyn. Dit is ‘n boek wat elke jongmens behoort te lees.
Kompetisie:
Drie gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n eksemplaar van Eendag is te ver wen. Die boekprys kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom, kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 Januarie 2026.

Ek wil graag die boek vir my 2 kleindogters gee. Ek glo dit sal hulle help in die toekoms om regte besluite te maak. Hoe om situasies te hanteer soos die Here sou wou hê hulle dit moet doen. Hulle is 19 en 17 jaar oud.
Ek sal graag hierdie boek vir my matriek dogter wil gee want hoekom nie? Dit klink na die regte riglyne vir haar toekoms, wat haar net kan help. Dankie vir die geleentheid.
Ek glo dat God vir ons elkeen plaas waar Hy ons nodig het vir elke seisoen.
Ek is tans by ‘n gemeente waar daar soveel jongmense weekliks tot inkeer kom maar ons het geen bekerings klasse vir herdie jongmense nie. Ek het paar weke gelede amper 16 jongmense gedoop wat tydens 2025 hul harte vir die Here gegee het, maar vir die jaar wat ek daar is was daar geen doop nie, totdat ek eendag gevra het wanneer doop ons dan, die doop was die volgende Sondag en hulle het my gevra om saam met een van die ouderlinge die doop waar te neem.
Ek wil graag volgende jaar ten minste 2 keer per maand ‘n bybel studie doen met die jongmense.
Indien enigeen enige goeie bekerings materiaal het maak asb kontak met my want my hart brand vir ons jeug
Mooi en geseende kersfees aan almal
EK glo die boek sal my kan help om die jongmense beter leiding te gee tydens my Bybelse berading sessies.