Hou moed, sê skrywers
Dit is net menslik dat baie van ons in hierdie dae voel dat ons maar kan tent opslaan op moedverloor se vlakte, want hoe bly ’n mens positief wanneer jou bekende wêreld soos ’n legkaart inmekaar tuimel en daar op die oog af geen einde is aan al die verwoesting nie? Ek het by drie Afrikaanse skrywers gaan kers opsteek oor hoe hulle moeilike tye hanteer. Hulle gesindheid van moedhou en aanhou dien ook vir ons as inspirasie om positief te bly ten spyte van Covid-19, die ellendige ekonomie, misdaad, werkloosheid, rassespanning en ander sluwe jakkalse wat die wingerd vernietig.
Praat oor jou situasie
Maretha Maartens skryf dat sy in hierdie tyd van inperking besef hoe nodig kommunikasie met haar eggenoot, ds. Hennie Maartens, is. Hulle kan vir mekaar sê: “Kom ons praat vandag oor die slegste moontlike toekoms-scenario wat werk en inkomste aanbetref.” En dan doen hulle dit. “Dit ontlont spanning, dit bring perspektief. Dit skep ruimte vir beplanning en dit loop keer op keer uit op ’n eenvoudige, persoonlike geloofsbelydenis.” Hennie sal byvoorbeeld sê: “Maar ons skuil onder God se vleuels.” Met iets soos die slegste moontlike scenario wat hulle in hul menslike kortsigtigheid sou kon voorsien as vertrekpunt, beweeg hulle saam in die ruimte van geloof in die Onsienlike in.
Maretha is ’n bekroonde en veelsydige skrywer. Van haar boeke wat al die lig gesien het, sluit in: Die beste ding since popcorn (CUM, 2005), Die nagkat (Tafelberg, 2004), en ’n Pot vol winter (HAUM, 1989). Bethel se berg is onlangs aangewys as naaswenner in LAPA se 2019-jeugromankompetisie.
Hou vas aan jou geloof
Helene de Kock reken dat geloof baie belangrik is om staande te bly in uitdagende omstandighede. Sy vertel dat haar man, Jos, in die moeilikste tye nog altyd na die Here opgekyk het vir leiding. “Juis dit het stabiliteit en sekerheid te midde van die onsekerheid van die lewe verskaf. Ook nou in die grendeltyd waar ons ’n nuwe lewe, vir ons abnormale, lewe leer ken, kan hy kophou.” Die dood van hulle oudste seun, Jaco, etlike jare gelede het hulle nog die hardste getref. Hulle mantra is egter Markus 5:36, ’n teksvers wat hulle seun, Herman, hulle mee vertroos het toe dié sy broer se troosdiens gelei het: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”
Helene is eweneens ’n bekroonde en veelsydige skrywer. Haar mees onlangse publikasies sluit in: Debora en seuns (Human & Rousseau, 2015), Debora gaan huis toe (Human & Rousseau, 2017), Kruispad vir Kara (CUM, 2018) en Die kind uit die wingerd (Human & Rousseau, 2019).
Wees goed vir jouself
Alta Cloete vertel dat haar en haar man, Schalk, se grootste uitdaging die depressie is waarmee sy al jare lank saamleef. As ervare depressievegter het sy onmiddellik besef dat sy veral tydens inperking ekstra mooi na haarself moet omsien. Gelukkig ken sy al teen dié tyd die moets en moenies om haar depressie suksesvol te bestuur. Buiten medikasie en terapie wanneer nodig, behels dit onder meer ook gesond eet, gereelde matige oefening, genoeg slaap, sinvolle sosiale kontak met ander en ook die uitleef van doelbewuste dankbaarheid en naastediens. Voeg hierby ook daaglikse meditasie, joga en asemhalingsoefeninge en jy is op die regte pad. Weens die geweldige uitdagings van hierdie tyd is sy meer gemotiveerd as gewoonlik om na haarself te kyk, want sy besef dat die gevaar van ’n terugval baie groot is. Sy maan: “In ons ou lewe was dit maklik om laks te word, maar nou kan ons nie bekostig om te laat slaplê nie.”
Alta, wat ook skryf as Marilé Cloete, se onlangse publikasies sluit in: Opdrag van oorkant (LAPA, 2015), Reg vir my (LAPA, 2018), Vir altyd lente (LAPA, 2020) en Nooit weer winter (LAPA, 2020)
Afsluiting
Dit is belangrik om op ’n konstruktiewe manier besig te bly en ons aandag en fokus te plaas op dié dinge wat ons gemoed lig en ons liggame gesond en sterk hou. Let op na wat in jou gedagtes aangaan. En onthou wat Reinhold Niebuhr gebid het: “God, gee my die kalmte om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge wat ek kan te verander en die wysheid om die verskil te ken.”