Van die plaas tot op jou vurk: Die rol van antibiotika
Antibiotika word reeds sedert die Tweede Wêreldoorlog as terapeutiese middel in diere gebruik. Dit is ‘n belangrike geneesmiddel wat gebruik word om veral skadelike bakterieë hok te slaan.
Met verbruikers wat tans meer seggenskap kan uitoefen oor die voedsel wat hulle in hulle aankoopmandjies plaas, is daar by hulle groeiende kommer oor die gebruik van antibiotika in lewendehawe-produksie.
By vee word antibiotika gebruik om siektes te behandel, verspreiding binne die trop hok te slaan en om as voorkomende behandeling te dien teen besmetting by gesonde diere. Verder word dit aangewend om gesonde groei te bevorder deur die regte balans van bakterieë in die ingewande te handhaaf, om sodoende beter benutting van voedingstowwe te bewerkstellig. Verskeie landboubedrywe soos rooivleis-, pluimvee-, melk- en varkprodusente maak van antibiotika gebruik vir die bevordering van produksie en groei.
Die Verenigde State se Administrasie vir Voedsel en Medisyne het in 1951 die gebruik van antibiotika as dierlike voerbyvoeging sonder veeartsenykundige voorskrif goedgekeur. Verskillende Europese lande in die 1950’s en 1960’s het hulle eie nasionale regulasies oor die gebruik van antibiotika in veevoere goedgekeur. Oorhoofse Europese wetgewing wat die gebruik van bymiddels in veevoere in alle lidlande beheer is in 1970 gepubliseer. Slegs die byvoegings wat op daardie publikasie en voorskrifte gelys was, kon by dierevoeding ingesluit word. In die daaropvolgende jare is regulasies en administratiewe bepalings in plek gestel vir verdere beheer van byvoegings in dierevoeding.
In die 1970’s is antibiotika reeds in klasse verdeel, naamlik vir menslike of veeartsenykundige gebruik. Daar was van die begin af kommer dat die wydverspreide gebruik van antibiotika as ‘n voedingsbyvoeging kon lei tot die ontwikkeling van bakterieë wat weerstandig was vir die middels wat gebruik word om infeksies te behandel.
Verdere kommer is ook uitgespreek oor die potensiële risiko’s van antibiotika-byvoegings op die verbruiker. Juis om hierdie rede het die Wêreldgesondheidsorganisasie in 1997 en die Europese Unie se Ekonomiese en Sosiale komitee in 1998 bevestig dat die gebruik van antimikrobiese middels in veevoer ‘n openbare gesondheidsprobleem kan inhou. Op grond van wetenskaplike inligting wat deur Swede verskaf en gepubliseer is, is daar toe bepaal dat antibiotika , met die uitsluiting van antikoksidiose-middels, slegs tot einde 2005 gebruik sou kon word. Na hierdie datum is dit nie meer as byvoegings tot veevoer in Europese lande toegelaat nie.
Bekommernis vanaf verbruikers rakende die gebruik van antibiotika-middels in pluimveevoer het daartoe bygedra dat ‘n nuwe beleid in Amerika in 2013 aangekondig is om die gebruik van antibiotika, wat slegs vir die groei van vee gebruik word, uit te faseer. Weens hierdie kommer het pluimveeprodusente in 2007 die gebruik van antibiotika in veevoerbyvoegings verwyder. Gevolglik het een van die grootste pluimveeprodusente in Amerika, teen 2015, reeds meer as 50% van hulle produksie sonder antibiotika geteel.
Die vraag is: Waar laat dit die produsente en die verbruikers van Afrika? Is die vermindering van antibiotiese middels slegs ‘n bemarkingsperspektief of is dit net ‘n Eerste Wêreld tendens?
Vir ons in die lewendehawe-bedryf is daar ‘n aantal strategieë wat ons almal kan toepas om die gebruik van antibiotika op ons plase te verminder. Ons kan dit alleenlik reg kry deur die manier waarop ons groei en siektes bestuur.
Dit is egter makliker gesê as gedaan. Kan ‘n produsent steeds koste-effektief sy boerdery bestuur en ‘n wins toon? Produsente se antwoorde op hierdie vraag sal daadwerklik verskil, maar die mark toon wel aan dat vir “antibiotika-vrye, organiese produkte” soos deur sekere supermarkte voorgehou, daar ‘n premie betaalbaar is.
Met die aanpassing van bestuurspraktyke en holistiese benaderings tot lewendehawe-produksie kan hierdie doelwitte wel bereik word en is daar tog produsente wat met ‘n holistiese benadering winsgewend boer.
Veeartse, voedingkundiges, genetiese maatskappye en produsente moet nouer saamwerk. Strategiese beplanning rakende die voorkoming, korrekte identifisering van siektes, korrekte dosis van medikasies en die gebruik van “alternatiewe produkte” moet ondersoek word. Voorkoming is beter as beheer, dus moet entingsprogramme in samewerking met streeksveeartse streng nagevolg word en alle uitbrake moet gerapporteer word.
Verder kan die volgende ook gedoen word:
- Bestuurspraktyke moet hersien word en ‘n sterk klem moet geplaas word op biosekuriteit, verbetering in behuising en algemene higiëne op die plaas. Die toepassing van biosekuriteit moet ten doel hê om blootstelling van vreemde organismes aan plaasdiere so ver moontlik te vermy en derhalwe siektetoestande te voorkom.
- ‘n Streng pes- en plaagbeheerprogram word aanbeveel om blootstelling van muise, rotte en voëls te beheer.
- Streng higiëne in water- en voerbakke word aanbeveel aangesien hierdie toerusting gunstige broeiplek verskaf vir organismes se groei.
- ‘n Premie op residu-vrye produkte kan as positiewe maatstaf ingestel word om die voorkoms van antibiotika-gebruik te verminder.
- ‘n Gesonde verhouding met jou veearts, farmaseutiese konsultant se tegniese adviseur asook voedingskonsultant sal produsente van hulp wees om ‘n plaas-spesifieke biosekuriteitsplan te ontwikkel.
Suid-Afrikaanse verbruikers is egter nog nie genoegsaam op kwaliteitsbestuur ingestel nie en verdere opvoeding rakende die risiko’s van antibiotika-residu’s moet verder ondersoek word om die kwaliteit en veiligheid van produkte te verseker.
Gevolgtrekking:
Die totale verbanning van antibiotika in die produksie van lewendehawe is nie ‘n oplossing nie. ‘n Kopskuif na bestuurspraktyke wat die vermindering van die gebruik van antibiotika ten doel stel, asook die meegaande verantwoordelikheid teenoor die verbruiker, moet ‘n sterk oorweging by die produsent wees.