Hou-die-ligte-aan kompetisie bied model sonkragstelsel
Virseker en KragDag was van oordeel dat dit nogal lekker sou wees om in hierdie tyd van groeiende energie-onsekerheid iemand te bederf met ‘n volledige sonkraginstallasie en so het die Hou-die-ligte-aan kompetisie ontstaan. HAWK Solar & Construction het toegetree om vir ons ‘n stelsel en die installasie daarvan te verskaf.
Dit was vir ons belangrik om nie sommer maar net die eerste die beste stelsel hiervoor aan te bied nie, maar om ‘n kwaliteit modelstelsel beskikbaar te stel, wat as praktiese voorbeeld kan dien vir al daardie “Waar begin ek?” en “Hoe moet my stelsel lyk?” vrae.
Die Hou-die-ligte-aan stelsel het ‘n paar belangrike eienskappe wat behoeftes aanspreek wat waarskynlik deur negentig persent van diegene wat energiesekerheid of -selfstandigheid verlang, ervaar word. Dit sluit in:
- Die stoor van energie in ‘n batterybank vir daardie tye wat daar geen Eskom krag of sonkrag (in die nag) is nie.
- ‘n Energie opwekkingsvermoë deur fotovoltaïese sonkragpanele vir die tye wanneer Eskom nie sy kant bring nie.
- ‘n Netwerk gekoppeldheid om Eskom-energie te benut wanneer dit wel beskikbaar is.
- Gebruik van jou eie gratis sonenergie voordat vir Eskomkrag betaal word.
- Die moontlikheid om die stelsel modulêr te kan vergroot vir ‘n gefaseerde implimentering of ‘n moontlike toekomstige groei in behoefte – selfs tot die punt waar jy heeltemal gespeen van die sisteem is.
Voordat ons verder gesels oor die Hou-die-ligte-aan stelsel, net eers weer ‘n paar algemene rigtingwysers wanneer jy oorweeg om sonkrag te installeer:
- Begin by die bepaling van wat jy eintlik nodig het (of mee oor die weg kan kom). Dikwels begin mense by wat ‘n sekere stelsel kan doen. Deur ‘n nugter benadering te volg kan egter baie geld gespaar word by die aankoop van ‘n stelsel. Dit sluit dinge in soos die aanskaf van alternatiewe vir kragvrate, soos songeisers, gasstowe en energie-effektiewe yskaste. Alhoewel van hierdie items duur kan wees, is die besparing in koste wat daardeur vir ‘n groter stelsel nodig sou wees, meestal oor en oor die moeite werd. Die benadering kan verder ook dinge insluit soos om jou energieverbruikpatrone te verander, sodat jy meeste van jou krag in die dag (veral tussen 10:00 en 14:00), wanneer die son skyn, gebruik, byvoorbeeld deur jou wasgoedmasjien, strykwerk ensovoorts dan te doen. Dit sal veroorsaak dat jy ‘n baie kleiner batterybank, wat ‘n duur komponent van jou stelsel is, benodig.
- Selfs voor bogenoemde stap kan dit insiggewend wees om sommer ‘n vinnige aanduiding te kry hoe groot jou sonkragstel sou moes wees as jy dit sou implementeer volgens jou huidige gebruik. Ek doen sommer gewoonlik as ‘n oorvereenvoudigde (maar maklik en binne vyf minute) aanduiding die volgende:
- Kyk op jou Eskom- of munisipalerekening wat is jou maandelikse energieverbruik. Deel die eenhede daarop deur die getal 150 (hoekom 150? 30 dae teen 5 son-ure per dag). As ek dus 900 eenhede per maand gebruik, sal dit my by ‘n antwoord van 6 bring, wat die kW leweringsvermoë van my panele moet wees. Dus benodig ek 6 kW se sonpanele (as ek ‘n netvas (aan Eskom gekoppelde) stelsel sou hê waar my sonenergie in die dag die Eskom meter sou terugdraai, sou ek met hierdie grootte installasie `1aan die einde van die maand met ongeveer ‘n nul-eenhede lesing op my elektrisiteitsrekening opeindig).
- Om die hoeveelheid sonpanele te bereken, deel ek bogenoemde 6kW deur die leweringsvermoë van ‘n sonpaneel bv. 300 W (hierdie is ‘n algemene grootte vir sonkragpanele). Dit gee 20 panele.
- Om die oppervlak dakspasie te bepaal wat ek gaan nodig hê, deel ek ook bogenoemde 6 kW deur 0,15 kW (of 150 W, wat rofweg die effektiwiteit van sonpanele per vierkante meter is) om by ‘n antwoord van 40 vierkante meter te kom.
- Loer ook gerus weer na die Bereken die grootte van jou sonkragstelsel in vier eenvoudige stappe artikel van Carel Ballack.
Bogenoemde is natuurlik glad nie ‘n akkurate berekening nie, want daar is byvoorbeeld nog verliese in die stelsel elke keer as die energie van die panele na die battery en weer vir jou gebruik omgeskakel moet word, maar dit is ‘n goeie wegspring en as jy dit gedoen het, kan jy soos hierbo gemeld begin om die nodige aanpassings in jou toestelle en verbruikspatrone te implementeer.
Die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding gebruik sowat 600 eenhede elektrisiteit per maand. Die Hou-die-ligte-aan sonkragstelsel, wat jy in die kompetisie kan wen, kan 240 kWh (eenhede) per maand lewer. Geïnstalleer sou hierdie stelsel jou sowat R190 000 kos. Deur 25% meer te spandeer (nog vyf sonpanele en twee batterye) sal die stelsel se vermoë reeds verdubbel kon word. In samehang met die aanpassing van verbruikspatrone, sou dit baie huishoudings in staat kan stel om selfs heeltemal sonder die netwerk klaar te kom.
Die Hou-die-ligte-aan sonkragstelsel is die model wegspring vir jou energievryheid en met bogenoemde agtergrond kan jy ‘n beter beoordeling maak van die stelsel in verhouding tot jou eie behoefte. Meer kan gelees word by Beurtkrag.co.za oor die stelsel en die komponente waaruit dit bestaan en jy kan ook hier inskryf vir die kompetisie om hierdie stelsel te wen.