Hoe skryf ek ’n kinderstorie?

Ek werk al etlike jare vryskut as manuskripontwikkelaar, redigeerder en teksversorger. ’n Groot verskeidenheid onafgeronde manuskripte (fiksie en nie-fiksie in verskeie genres) beland klokslag op my lessenaar. Dit is ’n wonderlike voorreg en ’n groot verantwoordelikheid om voltyds met skrywers, boeke en stories te werk. Ek verstaan en ken die drang om met woorde te skep so goed, want ek is self ’n skrywer met ’n hele paar publikasies op my kerfstok.

Ek het al honderde boeke – kinderboeke inkluis – geresenseer. Dit is ook deel van my werk om kinderboekmanuskripte vir ’n uitgewer te keur. Ek het dit dus goedgedink om hier ’n paar wenke met jou te deel oor die skryf van kinderboeke.

Lees en bestudeer kinderboeke

Moenie eens daaraan dink om ’n kinderboek te skryf indien jy nie self kinderboeke verslind nie. Die snelveranderende kinderboekmark is uiters kompeterend. Dit is belangrik dat jy tred hou met dít waarna uitgewers op soek is. Hulle doen deeglik navorsing en weet presies watter tipe stories verkoop. Jou storie, al is dit ook hóé oulik, sal nie deur ’n uitgewer opgeraap word indien daar ’n kans bestaan dat dit dalk nie tot die mark sal spreek nie. Vergewis jouself van watter tipe stories gewild is en probeer agterkom hoekom dit so is.

Nee vir Ouma of Oupa se slaaptydstories

Vergeet maar van ’n storie wat jy impromptu opmaak en aan jou kleinkinders voor slaaptyd opdis. Dit werk dikwels nie op papier nie. Die vertelstyl van hierdie tipe stories pootjie gewoonlik die storie wat in manskripvorm die wys-metode vereis.

Hier kan jy duidelik die verskil sien tussen “vertel” en “wys”:

Vertel

Sannie Veldmuis wys vir Jannie Veldmuis die groot slang wat verby seil op pad na die riete toe. Hulle skrik hulle boeglam, skreeu en laat spaander.

Wys

Sannie Veldmuis se oë rek toe sy die groot slang gewaar. Haar hele lyf is lam geskrik, maar sy wikkel haar snorbaarde verwoed om Jannie Huisrot se aandag te trek. “Jannie, k…kyk,” hakkel sy. “Dis ’n s…slang!”

Jannie sluk benoud toe hy die slang se blink lyf sien net voordat dit tussen die riete in verdwyn. “Help!” piep hy skril. Hy gryp vir Sannie sommer aan haar stert en trek haar saam toe sy bene onder hom begin maal. “Hardloop!”

Hou jou storie vaartbelynd

Waak teen omslagtige beskrywings en doelbewuste mooiskryf. Hou die teks skoon en eenvoudig. Dis ’n goeie idee om jou lesers se ouderdom en gemiddelde leesvlak in gedagte te hou. Hê ’n duidelike begin, middel en einde in gedagte. Gebruik dialoog en aksie om die storie te laat ontvou. Vra jouself af of daar karakterontwikkeling plaasvind. Het Heino sy vrees vir die donker leer beheer of oorwin teen die einde van die storie? Moet ook nie vir jou karakters outydse name gee nie. Maar moet nou ook nie moderne name gee wat geen kind kan lees, spel of uitspreek nie. Ek wou aanvanklik die karakter in my Bibi Babbelbek praat tot sy blou word Bettie genoem het. Hedendaagse kinders identifiseer egter baie eerder met die naam Bibi.

Moenie preek nie

Grootmense wil mos maar altyd vir kinders preke afsteek oor allerhande moets en moenies. ’n Storieboek is nie die plek daarvoor nie, behalwe as jy die les so vaardig en soomloos met die stories kan verweef dat die kind dit onbewustelik snap. Kinderboeke moet ontvlugting aan jong lesers bied en hulle verbeelding aangryp. Breek vir hulle die grense oop van wat moontlik is en wat nie.

Gee jou verbeelding vrye teuels

Karakters blits deesdae op hoverboards rond en het toegang tot slimfone om superskurke se profiele na te vors. Net maar nóg ’n storie oor Klaasvakie wat by die oop venster inglip om sand in Gertjie se oë te gooi, sal nie aftrek kry nie. Bedink ’n unieke karakter wat iets buitengewoons aanvang.

Speel die “wat as-” en “sê nou maar net”-speletjie. Wat as ’n uil een aand by jou kamervenster invlieg met ’n briefie in sy klou waarop “Help!” staan? Sê nou maar net die hysbak waarin jy klim begin skielik tol en verander in ’n ruimteskip? Wat as jy jou vasloop in ’n mal professor wat ’n toestel ontwerp het waarmee hy die ys op die pole wil smelt? Sê nou maar net jy word wakker in ’n ander wêreld waar alles en almal vreemd en anders is? Jy kry die idee.

Hou illustrasies in gedagte

Kyk gerus ’n dosyn of twee prenteboeke deur en let op hoe die teks en illustrasies ’n geheel vorm. Dit is bv. nie nodig om in die teks iets te noem wat die illustrasie kan wys nie. Sê nou maar jou karakter is in ’n rolstoel. Dit is nie nodig om te skryf “Jannie kan nie loop nie; hy is verlam” wanneer die kind dit van die illustrasie kan aflei nie.

Beplan jou storie deeglik

Geen skrywer kry dit reg om ’n storie met die eerste probeerslag foutloos neer te pen nie. Dit help indien jy eers jou storie deeglik bedink en beplan alvorens jy pen op papier waag. Wees trots op jou werk en raadpleeg woordeboeke vir die korrekte spelling van woorde. Vergeet vir ’n wyle van jou storie nadat jy dit geskryf het. Wanneer jy dit dan weer lees, kyk jy met vars oë daarna.

Lekker skryf!

Wees op die uitkyk vir skryfkompetisies en neem deel. Gaan loer gerus op uitgewers se webwerwe na hulle voorskrifte vir die voorlê van manuskripte. Net soos niemand vir die heel eerste keer ’n skêr kan opneem en iemand se hare perfek kan sny nie, net so moet skrywers oefen om te skryf. Ja, jy moet oor skryftalent beskik, maar op die ou einde is die dié wat uithou en aanhou en weer probeer wat sukses behaal. Geniet elke oomblik van die skryf- en skepproses.

* Erkenning aan Victoria Borodinova, Tumisu van Pixabay en Saral Cassidy vir hulle grafika op Pixabay verkry.

 

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Baie dankie vir hierdie insig. Ek is tans besig met ‘n skryfkursus maar het reeds verskeie kortverhale, novelles en kort tekse gepubliseer. My groot begeerte is egter om ook ‘n kinderboek aan te durf. Hierdie inligting is baie waardevol. Baie dankie.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui