
Leë beursie? Bederf steeds jou geliefdes.
Hoe gemaak wanneer jy jou sente ’n paar maal moet omdraai, maar steeds jou geliefdes af en toe wil bederf en spesiaal laat voel? Met dié dat so baie gesinne tans spartel en spook om kop bo water te hou, is duur uitstappies en geskenke vir eers van die baan. Gelukkig kos dit ’n mens niks om jou verbeelding te gebruik nie.
Ons verbeeldingskrag stel ons in staat om te visualiseer, te dagdroom en planne te maak. Daarmee saam groei die begeerte om werk te maak van ons drome en dit te realiseer. Dit steek ’n vuur van hoop en durf in ons binneste aan. Jonas Salk het gesê: “Hoop lê in drome, in verbeelding en in die moed van diegene wat die waag om drome te verwesenlik.”
Wonderlike moontlikhede en geleenthede lê immers binne dié se bereik wat dit raaksien en vir hulself toe-eien. Wat is nou lekkerder as om iets wat jy in jou verbeelding opgetower het te sien vorm aanneem soos jy dit skep? Wanneer jou inisiatief of skepping iemand anders se hart verbly of hulle lewe bietjie makliker maak, ervaar jy ’n gevoel van genoegdoening en prestasie. Dis mos lekker om te weet dat jy iets beteken vir ’n ander. Dit gee jou gevoel van eiewaarde ’n hupstoot en kweek in jou ’n gesindheid van dankbaarheid.
Daag jou hartsmense uit om kreatief te wees en kosteloos iets kosbaars vir iemand anders te maak of doen. So leer ons om opnuut weer die dinge te waardeer wat nie met geld gekoop kan word nie. Dit is nie net ontspannend en terapeuties om kreatief te wees en vernuwend te dink nie, maar boonop kan ons met ons talente woeker en ons vaardighede ontwikkel. Die kans is goed dat ander dalk so van jou idee hou dat jy dalk ’n inkomste daaruit kan begin verdien.
Hierdie aktiwiteite hoef ook nie noodwendig in isolasie plaas te vind nie. Die hele gesin kan ywerig meedoen.
Hier volg ’n paar idees oor hoe jy jou geliefdes kan bederf al is jou beursie plat:
- Neem ’n pen en papier en skryf ’n brief, gedig of storie in jou eie handskrif. Versier jou skrywe, rol dit op en bind dit netjies vas met ’n stukkie tou. Fynkam die tuin vir ’n veer, besondere blaar, klippie of blom en plaas dit op jou geliefde se kopkussing.
- Onderneem om vir ’n tydperk lank ’n taak waarvoor jou geliefde gewoonlik verantwoordelik is, op jou skouers te neem. Jy kan bv. aanbied om vir ’n week lank iemand se bed op te maak, die skottelgoed te was en weg te pak, die motor in die motorhuis te trek of aandete voor te berei.
- Verras jou geliefde met ’n heerlike pamperlang-sessie of twee. Ontwerp jou eie komplimentêre koopbewyse as geskenk. Jou geliefde kan dan besluit op ’n datum en tyd wat hom of haar pas om van jou aanbod gebruik te maak. Jy kan jou geliefde bederf met bv. ’n manikuur, pedikuur of luilekker kopvelmassering of rugkrap.
- Nooi jou gesinslede na ’n outydse gesinsaand. Skakel die ligte af en steek ’n kers of twee aan om atmosfeer te skep. Kyk wie kan die meeste skadufigure teen die muur met hulle hande maak. Speel stomstreke. Hou konsert. Vertel spookstories of staaltjies uit Ouma en Oupa se dae. Haal familiefoto’s en bordspeletjies uit. Skep kosbare herinneringe aan saamwees.
- Spandeer tyd saam in die natuur. Hou ’n piekniek soos in vervloeë dae met eenvoudige toebroodjies, gekookte eiers en ’n fles koffie. Kyk hoeveel verskillende spesies insekte, voëls of diere kan julle waarneem. Lê rustig agteroor en luister na die wind, die gekoer van bosduiwe en die vrolike getjirp van voëltjies. Eien patrone in die wolke. Sing uit volle bors saam. Draai in die rondte. Speel vroteier.
- Het jy enige afvalmateriaal soos hout, wol of karton? Gebruik dit om ’n geskenk vir jou geliefde te maak. Jy kan ’n kniekombersie hekel, ’n spesiale boekmerk maak of ’n kissie waarin kosbaarhede soos foto’s, juwele of selfs haarrekkies- en knippies pas.
- Neem ’n stap-vir-stap-video op van hoe jy jou geliefde se gunstelingdis voorberei. Jy kan ’n hele video argief opstel van tradisionele familieresepte en dit op ’n platform soos YouTube laai. Dit is ’n kosbare nalatenskap.
- Is jy meer bedrewe op die rekenaar as die res van jou gesinslede? Bied aan om vir Ouma ’n blog te skep waar sy haar gedagtes kan deel oor die Bybelstudie wat sy daagliks doen.
Die idee is dat jy jou geliefdes bederf met iets wat slegs tyd en moeite van jou kant af verg. Hou jou ore gespits en luister na jou gesinslede se behoeftes. Bedink dan ’n plan om hulle drome waar te maak. Wil boetie dolgraag in ’n Ferrari om die blok ry? Bel ’n vriend van ’n vriend wat iemand ken. Vra is vry. En dikwels is mense meer as bereid om te help om iemand se dag te maak. Wees bereid om ook dieselfde vir ander te doen.