
Hoe skryf ek ’n artikel oor my besigheid, produk of diens?
Die KragDag-webtuiste lok duisende virtuele besoekers in ’n maand en ons nuusbrief gaan ongeveer elke twee weke uit na bykans 105 000 intekenare oftewel potensiële kliënte. Ons verskaf toepaslike KragDag-inligting en wetenswaardige inhoud rondom die “Doen jou eie ding!”-tema en bied dit met trots gratis aan ons breë lesersmark.
Die KragDag Ekspo vind vanjaar op 11, 12 en 13 Augustus plaas. KragDag nooi weer vanjaar uitstallers uit om, met die oog op die aanloop tot die ekspo, artikels oor hulle besighede, produkte of dienste voor te lê vir publikasie. Uitstallers kan hierdie artikels self skryf en inhandig vir keuring om gepubliseer te word. U kan ook kies dat KragDag die artikel namens u skryf. Die datums waarop hierdie artikels kan verskyn, is 13 Julie, 3 Augustus en 8 Augustus. Artikels moet minstens tien werksdae voor publikasie ingehandig word.
Hier is u opsies:
Opsie 1: ’n KragDag-medewerker skryf u artikel – R1800,00
’n Professionele medewerker sal met u ’n onderhoud voer en dan ’n artikel van 800-1000 woorde oor u onderneming of produk skryf. U verskaf die nodige inligting en foto’s en ons medewerker verwerk dit tot ’n afgeronde artikel. Natuurlik kry u die geleentheid om die artikel voor publikasie te lees en goed te keur. U besigheidslogo en kontakbesonderhede sal saam met die artikel geplaas word. U is ook welkom om ’n video of skakel na ’n podsending te verskaf om daarmee saam te verskyn.
Opsie 2: U skryf self u artikel – R350
Ons verwelkom goedgeskrewe, teksversorgde artikels (800–1000 woorde lank) in Afrikaans. Artikels moet vergesel wees van goeie kwaliteit, hoëresolusiefoto’s of illustrasies. Die grafika moet afsonderlik gestuur word met duidelike byskrifte en aanduidings waar dit in die teks inpas. U besigheidslogo en kontakbesonderhede sal saam met die artikel geplaas word. U is ook welkom om ’n video of skakel na ’n podsending te verskaf om daarmee saam te verskyn. Die artikel word gekeur om seker te maak dat dit aan ons standaard voldoen.
Hoe skryf ek ’n artikel oor my besigheid, produk of diens?
- Stel u besigheid aan die lesers voor. (Wat is die besigheid se naam? Hoe lank bestaan die besigheid al? Hoe het die besigheid ontstaan? Hoekom het die besigheid ontstaan? Wie is die eienaars/stigters? Is dit ’n familiebesigheid? Wat is die besigheid se visie en missie?)
- Stel u produk(te) of diens(te) aan die leser voor. (Wat verkoop u of watter diens lewer u? Beskryf die unieke kenmerke daarvan. Wat maak dit anders of ’n beter keuse as dié van u mededingers?)
- Spog met u besigheid. (Het die besigheid onlangs enige prestasies behaal of toekennings verwerf? Is die besigheid betrokke by liefdadigheid of uitreike in die gemeenskap?)
- Spog met u personeel. (Het die personeel onlangs enige prestasies behaal of toekennings verwerf? Watter tipe opleiding bied u vir die personeel aan? Watter interessante staaltjie kan u oor die personeel vertel?)
- Spog met u kliënte. (Vertel gerus ’n staaltjie oor ’n baie tevrede kliënt waarvoor die besigheid die ekstra myl geloop het.)
- Vertel meer oor die stigter/eienaar. (Deel, met toestemming, dalk iets meer persoonliks om die menslike element, betrokkenheid en dryfkrag agter die besigheid te demonstreer. Beskryf die mens agter die besigheid. Wie is die eienaar? Wat is sy of haar passies en stokperdjies?)
- Skryf met die doel om wetenswaardige inligting in ’n gemaklike geselstrant oor te dra.
- Gebruik volsinne, maar hou dit kort en bondig en kom tot die punt.
- Sit die inligting of verduidelikings duidelik uiteen in maklik verstaanbare taal.
- Hou u leser (potensiële kliënt) in gedagte. Wat wil u vir hulle vertel van u besigheid?
Lekker skryf!