Genoeg is genoeg
Suid-Afrikaners is toenemend gefrustreerd met die verval van die land as gevolg van wanbestuur deur die staat. Die Demokratiese Alliansie (DA) het tydens ‘n virtuele byeenkoms op 22 Mei hierdie frustrasies probeer aanspreek. Volgens die DA het baie burgers die punt bereik waar hulle sê: Genoeg is genoeg. Hulle roep gefrustreerde burgers op om ‘n verskil te maak deur vir hulle te stem.
Miljoene burgers het oor die laaste dekades alreeds besluit dat genoeg, genoeg is. Hulle het nie die situasie gelate aanvaar totdat ‘n politieke party hulle oproep om iets te doen nie. Hulle het reeds ‘n verskeidenheid stappe geneem.
- Meer as ‘n miljoen hoogsgeskoolde burgers het fisies geëmigreer na ‘ n land waar die vlakke van wanbestuur minder is. Waar die treine betyds loop en dit veilig is om saans buite te wees.
- Vir die wat nie kan of wil emigreer nie, het goedkoop vliegroetes en die internet dit moontlik gemaak vir professionele mense om te semigreer na dorpe aan die kus, weg van verstopte 10-baan snelweë, blouligbrigades, gewapende rooftogte, ensomeer.
- In die 2014 verkiesing het 26% van die burgers nie gestem nie. In 2019 het hierdie persentasie gestyg na 34%. Hierdie statistiek beskryf stoïsynse burgers wat in hulle gedagtes geëmigreer het na ‘n droomland sonder politici met leë beloftes en leuens. Hulle byt maar vas en hanteer dinge soos dit kom, en het geen verwagting dat dinge gaan verbeter nie.
- Sommiges emigreer nie slegs na ‘n droomland nie, maar is selfdoeners en bou hulle eie klein land wat onafhanklik is van die nukke en grille van politici. Hulle buurtwagte en kommando’s verseker hulle sekuriteit. Hulle panele wek hulle eie elektrisiteit op. Ouers versorg hulle eie onderwys. Hulle bou ‘n eie universiteit vir minder as wat die Gauteng onderwysdepartement spandeer aan Covid-higiëne.
Die DA probeer die gefrustreerde burgers bereik deur hulle op te roep om te stem vir eerlike politici wat ‘n bekwame staat gaan daarstel en die land bestuur in die belang van sy inwoners sodat almal veiligheid en welvaart kan ervaar.
Gefrustreerdes reageer verskillend op hierdie narratief. Emigrante stel nie belang om herinner te word aan die ellendes van Suid-Afrika nie. Semigrante in DA-gebiede mag dalk entoesiasties vir hulle stem. Stoïsyne mag dalk deur die DA-verskil opgewek word om weer te stem.
Die selfdoeners frons egter. Waar die DA regeer is dit moeilik om gemeenskappe af te sper. Sonpanele en boorgate moet geregistreer word. Tuisonderwys het verdwyn uit die DA se beleid. In Kaapstad word oorweeg om troeteldiere te registreer. Selfdoeners vra die vraag: Moet hulle stem vir ‘n bekwame staat?
Die regerende party sien die staat as ‘n middel tot selfverryking en vernietig die staat in die proses. So ‘n falende staat skep vrugbare teelaarde vir selfdoeners om eie dienste te verskaf. Op ‘n ironiese wyse kan ‘n falende staat dalk ‘n beter omgewing skep vir selfdoeners as ‘n bekwame staat. Hierdie soort oorwegings maak dit moeilik vir die selfdoeners om vir die DA te stem.