Gaan na die mier… kyk na sy weë en word wys!
So ‘n aantal weke gelede het ‘n video die media aan die gons gehad oor twee “slim” bye wat ‘n koeldrankbottel se lossittende prop oopdraai om by die geurige, oranje, soet inhoud van die bottel uit te kom. Sommige kommentators waarsku dat dit waarskynlik ‘n digitale misleiding kan wees, terwyl andere vas daarvan oortuig is dat hierdie video inderdaad die ware Jakob is. Maar die takie, wat hierdie twee bye onderneem het, is in die wêreld van bye, termiete en miere eintlik maar triviaal en ‘n beuselagtigheid.
Daar is seker min mense wat nie reeds swermgedrag in hulle lewe waargeneem het nie. Dink maar aan ‘n swerm voëls of ‘n skool visse wat in ‘n oogwink, kollektief, op en neer, heen en weer swiep. As ‘n eenheid swenk hulle óm hindernisse en stuikelblokke wat in hulle pad mag kom. Wanneer hulle skrik spat hulle nie uiteen soos ‘n mens sou wou dink nie, maar beweeg gesamentlik om die gevaar te vermy. En tog … daar is nie ‘n leier wat opdragte aan sy ondergeskiktes kommunikeer wat om te doen nie. Soms lyk dit, wanneer ‘n swerm wilde ganse in ‘n V-formasie vlieg asof een gans die leiding neem, maar rolle kan maklik omgeruil word en ‘n ander gans is ewegoed toegerus om voor te vlieg. Hoe kry swerms, skole en troppe dit reg om só gekoördineer, koherent en in samehang te beweeg? En soos gesê is… hierdie is alles is eintlik nog maar onbeduidende take of funksies wat met behulp van swermgedrag uitgevoer kan word!
Die vader van die swermdenkwyse myns insiens, wat nooit die nodige erkenning daarvoor gekry het nie, is niemand anders as die Afrikaanse digter, Eugène Marais nie. Alhoewel hy veral onthou sal word as leier van die Tweede Taalbeweging en vir sy gedig “Winternag”, het hy ook bekendheid verwerf vir sy bydraes tot die Etologie, die wetenskap wat dieregedrag bestudeer, vanweë sy waarnemings en studies oor die swartmamba, die spoegkobra, die pofadder en verál oor bobbejane. Gedurende die twintiger jare van die vorige eeu skryf hy ‘n reeks Afrikaanse artikels in die destydse Die Burger (1923) en Huisgenoot (1925 tot 1926) oor termiete met die titel “Die Siel van die Mier”. In hierdie artikels boekstaaf Marais sy waarnemings en gevolgtrekkings oor die gedrag van rysmiere, hoe hulle onder andere miershope bou en ook instandhou. Hy kom tot die gevolgtrekking dat ‘n rysmiernes nie as ‘n versameling van termiete gesien moet word nie, maar dat dit in werklikheid ‘n organisme is met organe wat op ‘n saamgestelde wyse as ‘n eenheid funksioneer. Die opskrif van een van sy artikels is juis “Die Wording van die Saamgestelde Dier”. Vanuit ‘n versameling – ‘n swerm – “dom” termiete kom daar, deur die wyse wat hulle werk, saamwerk en in interaksie tree, ‘n organisme te voorskyn (kom tot wording) wat die intelligensie het om ‘n miershoop met sekere eienskappe te kan bou én herstel – indien die miershoop beskadig sou word. In terme van die twee bye wat die koeldrankbottel oopdraai, word die wording van ‘n “intelligente handeling” waargeneem waar twee bye gesamentlik ‘n taak verrig wat lyk asof die organisme, in die geval twee bye, kan dink. Individuele bye reageer egter slegs op stimuli, waarskynlik reuk, wat hulle noop om gesamentlik op sekere maniere te reageer.
Eugène Marais skryf: “Jy moet ‘n miernes beskou as ‘n enkele dier waarvan die ledemate, anders as by die mens, nog nie inmekaargesmelt het nie. Een klas is die mond en voedingstelsel, ‘n ander is die kloue of horings vir verdediging en ‘n ander is die geslagstelsel.” Die miershoop lewe deurdat dit beskerm word deur soldaat-termiete, terwyl werker-termiete help met die bou van die miershoop en die verspreiding van voedsel deur die nes. Dit is sekerlik vanselfsprekend dat asemhaling en temperatuur-regulering van die nes ook moet plaasvind – alhoewel ek nie ‘n spesifieke verwysing daarna in Marais se artikels kon opspoor nie. Voortplanting in hierdie verwysingsraamwerk het nie te doen met die vermenigvuldiging van termiete nie, maar eerder met die vermeerdering van rysmierneste. Vermeerdering van termiete vind plaas ten einde die nes te laat groei en instand te hou. Verder vind kommunikasie tussen termiete waarskynlik plaas by wyse van kleur, reuk en klank.
Terloops, om te illustreer hoe Eugène Marais werklik sy tyd vooruit was, kan interessantheidshalwe verwys word na die boek Foundations of Trusted Autonomy (2018) wat uit ‘n aantal hoofstukke bestaan en deur verskillende skrywers geskryf is. In ‘n hoofstuk getiteld The Blessing and Curse of Emergence in Swarm Intelligence Systems, geskryf deur John Harvey, word die Engelse term “emergence” gebruik. Hierdie term word ook wyer in literatuur wat oor swerms handel gebruik en ek het gewonder wat ‘n goeie Afrikaanse term vir die begrip sou wees? Harvey verduidelik hierdie begrip as ‘gedrag op ‘n hoër vlak wat eerstens, nie deel vorm die inherente eienskappe van die individue op die laer vlak nie en tweedens, nie geredelik in terme van die individue op laer vlak se gedrag beskryf kan word nie’. Ofskoon Marais se artikels oorspronklik in Afrikaans geskryf is, het Dr Winifred de Kock in 1937 die artikels in Engels vertaal as “The soul of the white ant”. Soos vroeër genoem is een van Marais se artikels se opskrif “Die Wording van die Saamgestelde Dier”. Hoe het Dr de Kock hierdie opskrif vertaal? Slegs as “The Composite Animal”. En hier sit ek regop… Dr de Kock het óf die woord “wording” as onbelangrik beskou óf self nie die omvang van hierdie begrip raakgesien nie. Die Afrikaanse woord vir die moderne begrip “emergence” is inderdaad reeds byna ‘n 100 jaar gelede gebruik as die woord “wording”!
Omdat die Siel van die Mier oorspronklik in Afrikaans geskryf is, is dit ook die rede waarom sy artikels destyds in ‘n groot mate ontoeganklik vir die Engelse leeswêreld was. ‘n Franssprekende Belg, Maurice Maeterlinck, self ‘n dramaturg, digter en essayis, wat die Nobelprys vir literatuur in 1911 ontvang het en wat ‘n goeie kennis van die Flaamse taal gehad het, publiseer in 1926 onder sy eie naam die boek La vie des Termites, wat in Engels vertaal is as The Life of the White Ant. Die vermoede bestaan dat Maeterlinck toegang tot Marais se artikels in Die Burger en Huisgenoot gehad het, dit in Frans verwerk het, en dit as sy eie werk gepubliseer het! Die pleging van plagiaat deur ‘n wêreld-erkende skrywer het Eugène Marais geweldig omgekrap. Hy was veral ontsteld dat Maeterlinck vir homself die konsep van “organiese eenheid” toegeëien het. In ‘n brief aan Dr Winifred de Kock, kla Marais dat Materlink aan die lesers van sy boek probeer voorgee dat die teorieë, wat Marais 10 jaar se harde arbeid geneem het om te formuleer, eintlik sy eie werk is – en dit terwyl hy self erken het dat hy nog nooit ‘n termiet in sy lewe gesien het nie! Marais beskuldig Maeterlink daarvan dat hy so ver gegaan het om bladsy na bladsy verbaal te kopieer.
Marais het geregtigheid gesoek deur skrywes onder andere aan die Suid-Afrikaanse pers te rig. Hy het selfs gepoog om ‘n internasionale regsgeding aanhangig te maak, maar kon dit vanweë finansiële oorwegings nie deurvoer nie. Alhoewel daar nooit ‘n amptelike uitspraak oor die saak gemaak is nie, is daar op verskeie forums na die saak verwys. So het Professor David Bignell in 2003, tydens sy intreerede as Professor in Dierkunde by die Universiteit van London na hierdie geval verwys as ‘n klassieke voorbeeld van akademiese plagiaat. Professor V.E. d’Assonville het op sy beurt na Maeterlinck verwys as die Nobelpryswenner wat in sy lewe nog nooit ‘n termiet gesien het nie en nog nooit sy voet op grond in Afrika geplaas het nie – minste van alles op grond in die Waterberge.
Ons moet egter nie dink dat swerms, swermintelligensie en swermdenkwyse net ‘n onbenullige interessantheid is nie. Alhoewel dit ‘n relatiewe nuwe konsep is, vind ons orals vandag toepassings hiervoor. In wese kan die internet as ‘n intelligente swerm gesien word wat die wyse waarop miere kossoek na-aap. Wanneer ons dink aan Kunsmatige Intelligensie (AI) is swermintelligensie een van die wyses om intelligente besluite rekenaarmatig te neem. Kombineer dit met die Internet van Dinge (IoT), hommeltuie en robotika, en baie komplekse take kan onderneem en funksies uitgevoer word. Indien ons sou dink aan besigheid, bestuurswese en vervoer word die moontlikhede legio. Die goedkoopste en vinnigste roetes vir lugrederye wat pakkette vervoer word deesdae uitsluitlik deur algoritmes bepaal wat by wyse van die swermdenkwyse saamgestel is.
En vir die toekoms?
Kan kolonies op lewe-onvriendelike planete geïnisieer of gestig word deur die kombinering van selforganisasie-bestuursmodelle tesame met self-samestelling en selfmontering van produkte asook met 3-D drukkers? Kan swermdenkwyse met stelseldenkwyse geïntegreer word? Wat is die moontlikheid dat ons byvoorbeeld ‘n beleggings- of aandeleportefeulje kan beoordeel of saamstel in terme van swermgedrag? Of… kan ‘n demokratiese bedeling vervang word met ‘n bedeling wat op die swermdenkwyse geskoei is?
Ons hoop om later terug te keer na hierdie fassinerende onderwerp.