Boekresensie: Fortuine

ISBN: 978-1-86842-756-7

Uitgewer: Jonathan Ball

Die lokteks op die agterblad van Fortuine, Ebbe Dommisse se onthullende boek oor die wel en wee van Afrikaner-magnate, het my belangstelling geprikkel: “Fortuine verklap waarom alles wat sakeleiers soos Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Johan van Zyl, Douw Steyn en ’n aantal megaboere aanraak skynbaar in goud verander.” Dit herinner die leser: “Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is dié mediagroep tot ’n internasionale beleggingshouergroep omvorm. Johann Rupert het Richemont as die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot die grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel in Afrika uitgebou het.”

Fortuine beslaan 440 bladsye en handel onder meer oor die werksetiek, strategiese vennootskappe en aptyt vir risiko wat hierdie groep Afrikaners die reënmakers van die ekonomie maak. Van hierdie sakereuse het ongekende welslae bereik en is dollar-miljardêrs met  indrukwekkende internasionale belange – dít ten spyte van die regering se onwrikbare volharding met swart ekonomiese bemagtiging.

Dommisse het Fortuine oor ’n tydperk van drie jaar voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie voltooi. Hy noem in die Skrywersnota dat die kern van die boek berus op onderhoude en e-korrespondensie met hooffigure in die sakelewe en die megalandbou. Volgens hom is die boek die relaas van ’n joernalis wat oor ’n lang tydperk ontwikkelinge in die verwante terreine van die Suid-Afrikaanse ekonomie en politiek waargeneem het. “Die meeste van hierdie sakelui en megaboere het met nie veel nie begin, maar het hulle onderskei as entrepreneurs wat met waagmoed en dryfkrag tot voorlopers in die sakelewe uitgestyg het. Hierdie persoonlikhede se doen en late en hul onderlinge interaksies is so onbevange moontlik beskryf.”

Hy ondersoek onder andere die opspraakwekkende ineenstorting van Steinhoff Inernasionaal onder Markus Jooste, waardeur enorme welvaart van die tafel gevee is. Dan word daar ook gekyk na megaboere, nl. Dutoit Groep, ZZ2, Karsten Boerdery, Schoeman Boerdery, Wildeklawer, Charl Senekal, Estelle van Reenen, Milaan Thalwitzer, Nick Serfontein en BP Greyling. Dié tiental megaboere word beskryf as ultrapreneurs: ”megaboere wat as innoverende landbouers die modernste tegnieke gebruik om volskaalse en volhoubare produksie te verseker” en is “markleiers en kreatiewe sakelui wat hulle boerderye soos ’n multinasionale sakeonderneming bedryf” (3).

Dis lekker om te lees dat menige Afrikaner-magnate nie nét daarop ingestel is om geld te maak nie, maar dat hulle ook gewers is. “Volgens die globale Barclays Wealth Culture of Philantrophy Report van 2010 is Suid-Afrikaners die wêreld se tweede vrygewigste nasie (naas die Amerikaners) gemeet aan die deel van hul inkomste wat individue aan gemeenskapsake gee” (361). Forbes het byvoorbeeld in 2012 vir Francois van Niekerk van die Mergon Groep aangewys as Afrika se voorste filantroop. Ek hou van hoe Koos Bekker dink: “Die rol van besigheid is om werk te skep en werk bring weer ekonomiese groei, belasting en dies meer. Dis die staat se rol om daardie belasting dan op die mees sosiaal-effektiewe manier te benut. As mense in hul privaatlewe goed wil doen, is die Bybelse advies dat jou linkerhand nie behoort te weet wat jou regterhand doen nie” (377).

Ek het dit geniet om te lees hoe hierdie merkwaardige individue haas onuitputlike rykdomme vergaar het. Die laaste hoofstuk, getiteld Reënmakers, skets die moeilike en uitdagende klimaat in ons land waarin, nog voor die afkondiging van die ramptoestand in Suid-Afrika, die ANC se ekonomiese beleid misluk het en die land tot rommelstatus afgegradeer is. “In die knelgreep waarin ’n interafhanklike wêreld beland het, het Suid-Afrika se ekonomiese kreeftegang en toenemende werkloosheid getoon dat die tyd verloop het vir politici wat wil steel en verdeel” … “Baie van die land se sterkste bates is buite die ANC-regering geleë, daarom neig die burgerlike samelewing in sulke omstandighede om op soveel terreine moontlik selfvoorsienend te wees eerder as om staat te maak op die staat” (423).

Ek is baie bly oor my kopie van Fortuine. Dit lees maklik en vloeiend en die goed nagevorste feite, statistieke en bedrae word op ’n lesersvriendelike wyse aangebied. Dit lig ook die wonderlike moontlikheid uit dat “met verantwoordbare leierskap met integriteit én onwrikbare optrede om staatswanbestuur en korrupsie uit te roei” ons land wel “’n vooruitstrewende land kan wees waarin alle Suid-Afrikaners na die sterre kan reik” (423). Dalk, net dalk, is daar iewers ’n ambisieuse entrepreneur wat hierdie boek verslind en dit weldra regkry om ook as ’n Afrikaner-magnaat gereken te word.

Meer oor die outeur: Ebbe Dommisse is onder meer die skrywer van die topverkoper Anton Rupert – ’n Lewensverhaal. Hy was voorheen hoofredakteur van Die Burger en het afgetree ná ’n loopbaan van 40 jaar in die joernalistiek. Naspers het hulle hoogste eerbewys, die Phil Weber Medalje, aan hom toegeken.

Skaf Fortuine hier aan.

WEN!

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ’n kopie van Fortuine wen met die komplimente van Jonathan Ball Uitgewers. Skryf HIER in en vertel vir ons hoekom jy graag die boek wil wen. Dalk is jý ’n gelukkige wenner. Sluitingsdatum 30 Junie 2021.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui