Emily Hobhouse: Geliefde verraaier

Ek was so dankbaar toe Elsabé Brits, skrywer van Emily Hobhouse: Geliefde verraaier vir my ’n getekende kopie van haar besonderse boek stuur met die boodskap: “Beste Louise, geniet jou reis met Emily!” KragDag-lesers sal hierdie boek geweldig interessant vind, want die merkwaardige Hobhouse se verhaal getuig van durf en daad in uiters moeilike omstandighede en die opstaan vir wat reg is.

Die lokteks op die agterblad lui: “Die volle, grootliks onvertelde verhaal van Emily Hobhouse, nie net ’n Anglo-Boereoorlogheld nie, maar ook ’n aktivis en stryder teen onreg en onderdrukking op verskeie kontinente. Elsabé Brits het Emily se handgeskrewe notas, dagboeke en plakboeke in ’n trommel in Kanada ontdek, en haal hieruit en uit ander nuwe bronne aan. Só gee sy ’n genuanseerde, vars blik op ’n buitengewone vrou wat voortdurend in die spervuur was. Van kleintyd het Emily haar verset teen haar lot. Vir vroue was daar min geleenthede en sy moes boonop haar siek pa oppas. Tog raak sy wêreldwyd betrokke by die stryd teen onreg en oorlog. In twee oorloë het sy duisende lewens gered, en nogtans is sy – ’n ware patriot – in haar eie land onbekend en alleen dood. As kampvegter vir vrouestemreg en in haar uitgesproke teenkanting teen onreg is Emily Hobhouse ’n ikoon wat vandag nog inspireer. Ontdek die onbekende sy van ’n verbasend moderne vrou.”

Tafelberg Uitgewers het Emily Hobhouse: Geliefde verraaier reeds in 2016 uitgegee, maar hierdie boek bly steeds relevant en ’n kosbare aanwins op enige boekrak. Ons weet breedweg, soos Brits ook aanvanklik het, dat Hobhouse (1860-1926), ’n vrou uit die hoër Engelse Victoriaanse klas, haar oor vroue en kinders in die konsentrasiekampe ontferm het. Sy was egter ook ’n liberale sosialis, pasifis en feminis. Brits het kontak gemaak met Jennifer Hobhouse Balme wat ná haar huwelik in Kanada gaan woon het. Dié is die dogter van Oliver, Hobhouse se broerskind, oogappel en erfgenaam. Oliver het op sy beurt alles wat hy van Emily geërf het aan Jennifer nagelaat. En Jennifer het vir Brits volle toegang tot die bokse en ’n trommel vol dokumente gegee.

“Binne-in die trommel met ou foto’s is ’n boks. Toe ek dit oplig, lê dit daar: drie plakboeke wat Emily gemaak het, twee daarvan oor haar ervarings in Suid-Afrika en een oor haar werk in Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog. Dan is daar nog ’n ouer plakboek met sketse wat Emily se ma gemaak het, en ’n paar foto’s. En – om alles te kroon – in die trommel lê ook vier A5-boekies in hardeband, almal netjies gemerk. Dagboeke. Nog nêrens het ek van die bestaan daarvan gelees of gehoor nie. Dit het die Tweede Wêreldoorlog in oorlog in Oliver se prokureurskantoor in London oorleef te midde van honderde geboue wat tydens die bomaanvalle platgevee is. Ook in die trommel is daar honderde briewe, dokumente, foto’s en ’n afskrif van Emily se onvoltooide outobiografie” (10).

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier is ’n baie aantreklike en dik grootformaatboek van 352 bladsye. Daar is geweldig baie foto’s, aanhalings en interessante vertellinge. Die meeste van die foto’s is deur die Anglo-Boereoorlogmuseum beskikbaar gestel. Brits skryf boeiend en onderhoudend en slaag daarin om hierdie eertydse, dapper heldin voor oë te roep op ’n wyse wat respek afdwing. Hierdie omvangryke werk is ’n heerlike ontdekkingsreis en verdien groot lof. Hobhouse se as is aan die voet van die Vrouemonument geplaas. Tot vandag toe gedenk Suid-Afrikaners die rol wat hierdie anderlandse vrou met die groot hart gespeel het toe sy onverpoos gewoeker het om bewusmaking te skep en kos, mediese voorraad en fondse te in om vroue en kinders se lyding te help verlig tydens en ná die oorlog.

Aan die einde van Hobhouse se agt jaar lange werk in Suid-Afrika, bedank Jan Smuts haar só per brief: “You did your best to mitigate the miseries of war and thereafter you did your best to repairt its damages.” Hoe inspirerend!

Die kykNET-Rapport Boekeprys vir niefiksie 2017 is toegeken aan Brits vir Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Hierdie kort artikel kan nie eens begin om hierdie grootse werk aan die leser voor te hou nie. Skaf gerus die boek hier aan teen ’n baie goeie prys.  Dit is ook in Engels beskikbaar as Emily Hobhouse: Beloved Traitor.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui