Hoe gemaak met duur vleispryse?

Vleispryse het die afgelope paar jaar beduidend al hoe duurder geword. Die dae toe mens nog soos in die ou dae kon weglê aan rys en groente met ’n ordentlike porsie vleis vir elkeen in die gesin is lankal verby. Van drie keer op ’n dag vleis eet is daar hoeka nie meer sprake nie. Ons moet almal maar ons vleistande een vir een uittrek.

Menige koskoper sal saamstem dat vleis die oorgrote deel van hulle kosbegroting opslurp. Kokke moet al meer innoverend dink om ’n ou stukkie vleis op die bord te plaas sonder om hulle in bankrotskap in te eet. Selfs die mees geharde vleisbraaiers het deesdae trane in die oë, want min mense kan nog wors én tjops én ribbetjies op een slag braai. Deesdae moet die nederige braaibroodjie of skep krummelpap en sous die mees prominente plek op die bord inneem. Mens eet die stukkie vleis happie vir happie om dit so lank as moontlik te laat hou. Ou Wagter smeek verniet met honde-oë vir ’n bekvol. Hy kry net die skoongeëete bene.

Ek het geleer om nie meer individuele vleisporsies vir my gesin van drie gaar te maak en op te skep nie. Dalk net op ’n spesiale okkasie soos ’n verjaardag of ander belangrike viering. Ek rek eerder die vleis deur roerbraaie, bredies of sop te maak. So neem ek byvoorbeeld een hoenderborsie en braai dit met uie, knoffel, soetrissie en selfs kool of bok choy en dan eet my mense soms vir twee dae daaraan. En nee, niemand ly honger nie. Vleis is net nie meer die hoofbestanddeel vir ons disse nie. Ek sal ’n enkele porsie kookvleis neem, dit in blokkies sny en dan rek met uie, wortels, tamaties, aartappels en enige ander groente wat ek tot my beskikking het. Met die nodige geurmiddels by word dit ’n heerlike en voedsame maaltyd. Ja, dis nie deurtrek van die vleis nie, maar dis dik en geurig en smaak na vleis. Mens moet darem baie ontevrede en ondankbaar wees om nie sulke lekker kos te waardeer nie. Ek doen presies dieselfde met ander vleissoorte soos maalvleis en wors.

Ons groei die meeste van ons groente, kruie, spesery en ook vrugte self. So spaar ons nóg meer op ons kosaankope. Ek het ook geleer om ’n aartappel gekook in die skilletjie op sy eie as meer as genoeg kos te sien saam met ’n vars slaaitjie of ’n skeppie roerbraaigroente. Probeer dit gerus. Dis heerlik gesond en meer as genoeg kos. Ons is ook lief vir eiers, en daarom sal ek dikwels eiers as proteïen inspan in die plek van vleis. Ja, eiers is ook maar duur en mens kan nie jou versadig wil eet daaraan nie, maar jy kan dit op soveel maniere inspan om innoverende disse te maak sonder dat jy vleis benodig. Ek dink byvoorbeeld hier aan ’n omelet wat met ’n basiese groenteroerbraai gevul word.

Die groot geheim is om kreatief met kos om te gaan. Om verder as die gewone te dink en om ’n plan te maak met wat jy het. Mens kan byvoorbeeld liplekker pasta maak sonder vleis deur net tamaties, uie en knoffel saam te braai en by te voeg. Daar is baie randrekkerresepte op die internet. Gesels ook met familie en vriende en deel idees. Jy is ook welkom om hier onder in die kommentaar te vertel hoe jy met minder vleis vir jou gesin kos voorberei. So leer ons by mekaar.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui