Is daar ‘n gemene deler in die regering van nasionale eenheid?
Ons leef in ‘n tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis waar uiteenlopende ideologieë en beleidsomgewings in een regering van nasionale eenheid saamgevoeg is. Die vraag ontstaan: Hoe kan ons ‘n gemene deler vind wat in die beste belang van die land se inwoners sal optree?
Ons staan voor groot uitdagings met beleidsverskille soos dié van die ANC, wat onteiening sonder vergoeding bepleit, teenoor die DA wat sterk staan vir die beginsel van eiendomsreg as die grondslag van welvaart. Dit is dus noodsaaklik dat die regte ekonomiese beginsels geïmplementeer word.
Vir 30 jaar het Suid-Afrika onder die ideologiese aanslag van ‘n regering geleef wat blyk om te glo dat welvaart bloot verdeel of aan kaders gegee kan word. Hulle verstaan nie noodwendig die beginsel van ekonomiese groei nie, soos gesien kan word in hulle beleidsomgewing. Hierdie benadering het gelei tot ‘n transformasiebeleid wat swart ekonomiese bemagtiging en kaderontplooiing insluit.
Die gevolg is falende infrastruktuur en swak dienslewering by staatsinstellings, omdat die nodige kundigheid en verantwoordelikheidsaanvaarding ontbreek. Dit is ‘n harde realiteit wat ons in die gesig staar. Te midde van onsekerheid oor toekomstige beleid, is die vraag of ons steeds ‘n sosialistiese rigting gaan inslaan, of daar meer rasioneel, ekonomies-gedrewe beginsels geïmplementeer gaan word. Slegs tyd sal leer.
Ten spyte van die druk op die landbousektor, het die bedryf in die eerste kwartaal goed gevaar, wat blyk uit produksiesyfers. Landbou het weer verseker dat Suid-Afrika nie ‘n ekonomiese insinking ervaar nie. Landbou bly telkens die stabiliseerder wat kos op die tafel bring en voorkom dat die land in anargie verval.
Die rol van landbou is dus van uiterste belang. TLU SA kan nie genoeg beklemtoon hoe trots ons is op ons boere nie. Ons wag nou om te sien hoe die nuwe beleidsomgewing spesifiek die landboubedryf sal ondersteun. Sal die nuwe minister van polisie verantwoordelikheid aanvaar, die polisiemag suiwer van ongewensde elemente, en seker maak dat SAPD-lede goed toegerus en opgelei is? Sal die publiek weer vertroue in die polisie hê? Of gaan ons voortploeter op die pad van wantroue wat misdaad laat gedy?
Die regering moet besef dat hy ‘n omgewing moet skep waarin beleggers graag wil belê. Suksesvolle ondernemings en plase dra by tot ekonomiese groei, wat op sy beurt belastinginkomste genereer. Dit lyk egter asof die staat dit as vanselfsprekend aanvaar, sonder om die nodige beleidsomgewing daar te stel vir die privaatsektor om effektief te funksioneer.
Die beleidsomgewing wat ná die nuwe regering se vestiging sal vorm, is bepalend vir toekomstige sukses. Die resultaat van ‘n beleidsomgewing is ‘n belangrike faktor wat nie geïgnoreer kan word nie. Die mate van probleme wat ervaar word in ons land kan grootliks teruggevoer word na ‘n ongunstige beleidsomgewing. Dit is daarom belangrik dat besighede hulself moet posisioneer t.o.v. hulle winsgewendheid. Besluite moet geneem word om volhoubaar in produksie te kan bly. Konstante kragvoorsiening in feitlik elke besigheid is van kardinale belang vir sukses. Dit is hoekom die bywoning van KragDag vir elkeen van groot belang is – buiten blootstelling aan uiteenlopende alternatiewe kragvoorsiening opsies is daar ook ‘n landbou-ekspo en dan natuurlik die kopskuif ateljee waar aktuele sake deurgepraat word.
Hier, in die landbou-omgewing, is dit noodsaaklik om positief te bly en die nodige druk op die regering uit te oefen sodat ons die irrasionaliteite kan oorkom. Ons moet seker maak dat die rol wat landbou tot nou toe gespeel het, as stabiliseerder in die ekonomie, voortgesit word. Mag landbou seevier en ‘n ekonomies-gedrewe beleid kry, sodat ons ideologiese hindernisse kan oorkom.