Skrywers pleit: Moenie rooflees nie!

Verlede week het daar weer eens ’n groot storm op Facebook losgebars nadat dit aan die lig gekom het dat enorme hoeveelhede Afrikaanse boeke in PDF-formaat onwettig deur ’n groep op Telegram versprei word. Dit is nou al die hóéveelste keer die afgelope tyd dat hierdie tipe onderduimse en misdadige bedrywighede op die een of ander digitale platform oopgevlek word en skrywers vies en moedeloos reageer omdat hulle so gewetenloos besteel word. Verlede jaar, tydens die aanvang van die nasionale grendeltydperk, is PDF’s van tydskrifte ook op grootskaal onwettig versprei. Dit was waarskynlik een van die laaste spykers in die doodskis van baie van ons se gunstelingtydskrifte. Vandag gaan soek ons tevergeefs op die winkelrakke na publikasies waarvan sommiges dekades lank te koop was.

As boekresensent en waarderende leser wil ek vandag ’n lansie breek vir elke skrywer wat pleit dat mense asseblief nie moet rooflees nie. Vandat ’n skrywer sy of haar manuskrip baie hoopvol aan ’n uitgewer voorlê en dit ná maande se stresvolle gewag uiteindelik aanvaar word, kan dit nóg ’n jaar of soms langer duur voordat die boek uiteindelik gedruk en versprei word. Daarna moet die skrywer geduldig wag tot die uitgewer een of twee ker per jaar tantième uitbetaal. Onthou, skrywers kry maar ’n baie klein snytjie van die koek en slegs ’n klein persentasie van die prys waarteen die boeke te koop aangebied word, beland in hulle sak. Boonop staan Jan Taks natuurlik ook bakhand. Rooflesers moet hulself afvra of húlle bereid sal wees om maande (indien nie jare nie!) se bloedsweetwerk te doen om ’n manuskrip te skryf en dan tot twee jaar of langer te wag op betaling – en dan hóóp jy maar daar het genoegsame kopieë verkoop sodat jou tantièmetjek vir jou ’n mandjie kruideniersware kan koop. Om dus uit te vind dat honderde of selfs duisende kopieë van jou boeke in e-formate onwettig versprei word, is ’n geweldige skok. Dis g’n wonder dat van ons land se gewildste skrywers dit oorweeg om op te hou skryf nie.

Enige iemand wat ’n werk wat aan kopiereg onderworpe is, reproduseer of versprei (al is dit gratis) is skuldig aan ’n misdryf oftewel kriminele oortreding. Die kennisgewings in boeke lui dan ook gewoonlik soos volg: “Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer word op enige manier, meganies of elektronies, insluitend laserskyf- of bandopnames en fotokopiëring, sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie, behalwe redelike aanhalings vir navorsings- en resensiedoeleindes.” Skrywers kan, wanneer hulle kopiereg geskend word, ’n kriminele klag by die polisie lê. E-boekdiewe kan, as hulle suksesvol vervolg word, ’n stewige boete van etlike duisende rande verwag en sal dan ook ’n kriminele rekord hê.

Daar wag ’n reuse-opvoedingstaak om die boekstelers- en delers aan die verstand te bring dat wat hulle doen verreikende gevolge vir hulleself, hul gunstelingskrywers en die boekindustrie as ’n geheel inhou. Dit lyk egter of skrywers nou hartlik siek en sat is daarvoor dat hulle so harteloos besteel word van broodnodige inkomste en dat hulle hul wel tot die reg gaan wend om skuldiges aan die pen te laat ry. E-boekdiewe kan hulle dus maar regmaak dat skrywers wel kriminele klagtes gaan begin lê.

Elsa Winckler, geliefde skrywer van liefdesverhale, betreur die onwettige verspreiding van e-boeke: “Wanneer iemand ’n e-boek onwettig op ’n groep aanbied of aflaai – of dit nou ’n groep op Telegram, WhatsApp of waar ook al is – oortree hy of sy die wet en steel dus. Dis so goed mens eien jouself die reg toe om ’n gedeelte van iemand anders se salaris te vat. Dis vir my ontstellend om te lees hoe diegene wat deelneem aan hierdie tipe misdaad, hulle optrede regverdig – my salaris is te min / boeke is te duur / dis my saak wat ek doen / blok die persoon wat vir ons wil preek … Om e-boeke onwettig af te laai, stories wat met bloedsweet deur skrywers geskryf is, is meer as net ’n misdaad. Dis ook oneties. Skuldiges steel nie net skrywers se geld nie, maar ook hulle kreatiwiteit. Só ’n persoon lewer ook geen bydrae om van die samelewing ’n beter plek te maak nie. Inteendeel.”

Fanie Viljoen, bekende skrywer van onder meer kinderboeke, voel só daaroor: “Ek kan nie verstaan hoekom mense hulleself so roekeloos aan vervolging blootstel nie. Hulle deel onwettig boeke met mense wat hulle van geen kant af ken nie. Wil jy werklikwaar só graag ’n kloppie op jou skouer by totale vreemdelinge hê dat jy selfs bereid is krimineel daarvoor vervolg te word?”

Madelie Human, gewilde liefdesverhaalskrywer, laat hoor: “Ek deel graag my liefde vir Afrikaans deur goedvoelverhale te skryf om vir mense ’n ontsnaproete uit die nare werklikheid van die lewe te bied. Die nare werklikheid is ook dat ek die bietjie inkomste wat ek daarmee verdien, broodnodig het. Dis jammer dat gewetenlose persone dit nodig vind om daardie inkomste van my te steel.”

Helene de Kock, ’n gevierde skrywer van verhoudingsverhale, maan: “Intellektuele eiendom is net so konkreet steelbaar as ’n papierboek. Boeke is intellektuele eiendom.”

Jaco Jacobs, wat al die koning van kinderboeke in Suid-Afrika genoem is, sê: “Ek voel mense móét teen dié tyd tog besef hoe die rondstuur van onwettige e-boeke die bedryf skaad. Dit is so maklik om net daardie aanstuurknoppie te druk, maar elke keer as jy ’n onwettige e-boek aanstuur, ontneem jy ’n skrywer van ’n paar rand tantième, en jy ontneem ’n uitgewery van broodnodige inkomste. Die meeste skrywers word nie ryk uit boeke nie; ’n mens kan dankbaar wees as jy bloot net ’n bestaan uit skryf kan maak. Die boekbedryf trek op die oomblik noustrop. Asseblief, doen jou deel vir Afrikaans en vir ons skrywers en die Suid-Afrikaanse boekbedryf, en moenie e-boeke onwettig versprei nie.”

Eerlike boekwurms maak skrywers se rûe toe en beskerm hulle teen kriminele uitbuiting. Eerlike boekwurms maak hulle nie skuldig aan rooflees of e-boekdiefstal nie. Eerlike boekwurms laai nie e-boeke onwettig af of versprei dit nie. Eerlike boekwurms ondersteun en bedank skrywers vir die voorreg om hulle pennevrugte te lees deur hulle boeke op ’n wettige manier aan te skaf.

Skrywers maak staat op lesers om hulle by te staan in hul stryd teen die onwettige aflaai en verspreiding van e-boeke. Wees waaksaam en moenie wetend of onwetend betrokke raak by misdaad nie. Sê NEE vir rooflees en die onwettige aflaai en deel van e-boeke! Indien jy weet van persone wat hulle skuldig maak aan hierdie misdryf, laat weet dadelik die skrywer en uitgewer daarvan. Maak duidelik en hard kapsie en voed mense op in wat wetlik en moreel die regte ding is om te doen.

Erkenning: Fokus-illustrasie deur Robinraj Premchand (Pixabay).

3.83 avg. rating (78% score) - 6 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

4 Comments

  • Dankie hiervoor, Louise!

  • Wel, dit hang alles af van wat met diefstal bedoel word. Ek onthou nog duidelik dat ek in oorlede Dions gestaan en kyk het na beide die DVD en VHS formaat van Jumanji. Die DVD was net ‘n klein bietjie goedkoper as die VHS kasset (gaan haal ‘n ou VHS kasset uitmekaar om te sien hoe ingewikkeld dit is om hom te vervaardig). Hoekom het skrywers en musikante deeesdae nog uitgewers nodig? As jy nog nie verstaan nie, kyk wat betaal ons vir melk en vra die boer hoeveel hy kry per liter.

    • Koos, met diefstal word bedoel om onwettiglik te vat wat nie joune is nie. Dis tog eenvoudig. En waarom skrywers uitgewers nodig het: Vir objektiewe, kundige redaksionele insette. En vir verspreiding. Jou Dion-storie sinspeel op die koste van die fisieke materiaal. Die fisieke boek se koste is maar ‘n klein deel van die boek se totale produksiekoste. Die grootste deel is die skrywer se werk oor maande/jare. Die vergoeding daarvoor is wat roofverspreiders by skrywers steel. Terloops: Ek ken seker honderde skrywers, maar net een of twee wat van hulle skryfwerk kan lewe. Ons is nie so ryk soos die skrywers wat jy in flieks sien nie. Magtig.

  • Help my…is ek nou onkundig….wat is die verskil as ek ‘n boek koop by ‘n boekwinkel…nadat ek dit gelees het….gee ek dit aan vir familielede en vriende…..en as ek by tweedehandse boekwinkel’n boek koop…ontneem ek dan ook die skrywer van sy tantieme……wil maar net weet hoe dit werk.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui