Leer ons jongmense vaardighede

Ons vier op Vrydag 15 Junie 2022 Wêreld Jeugvaardigheidsdag. Die gedagte agter hierdie verdienstelike dag is om bewusmaking te skep rondom die al hoe groter wordende persentasie werklose jeug. En nee, dit is nie net in Suid-Afrika waar jong mense sukkel om werk te kry nie. Dit is ’n kommerwekkende internasionale tendens wat wêreldwyd reuse-afmetings aanneem.

Dit raak al hoe meer broodnodig om die jeug toe te rus om selfstandig te wees, praktiese vaardighede aan te leer en entrepreneurskap aan te moedig ten einde hulle toekoms te verbeter. Dikwels moet nie net arbeidsvaardighede in jong mense geïnvesteer word nie, maar ook basiese lewensvaardighede. Dit verg in baie gevalle ’n holistiese opvoedingstaak om jongmense geestelik, emosioneel, verstandelik en liggaamlik toe te rus om nie net hulle plekke in te neem in die kompeterende arbeidsmag nie, maar ook in die samelewing.

Mens kan geweldige bevrediging daaruit put om ’n pad met jongmense te stap en hulle te mentor. Ons moet besef dat dit lankal nie meer genoeg is om net finansies beskikbaar te stel vir iemand om ’n ambag te loop of verder te studeer nie. Veral nie in vandag se tyd waar disfunksionele gesinne aan die orde van die dag is, en kinders dikwels grootword in huise waar sosiale euwels soos verslawing en mishandeling hoogty vier nie. Boonop leef ons in tye waar baie ’n daaglikse stryd voer om liggaam en siel bymekaar te hou. Werkloosheid, armoede, misdaad en ’n uitsiglose toekoms dwing al meer mense om in hopeloosheid te verval. En daarmee saam kom afhanklikheid. Die prentjie kan egter so anders lyk. As elkeen van ons maar net bereid wil wees om iets vir iemand anders te beteken op ’n manier wat lewens- en toekomsveranderend is! Kinders het leiding nodig. Navolgingswaardige voorbeelde. Jý kan daardie voorbeeld wees.

“Charity begins at home” sê die Engelsman mos. Sorg eerstens dat jou eie kinders selfstandig is, innoverend dink en uitvoerbare planne kan maak as dit moet. Kan jou dogter ’n motor se band omruil of ’n bedding omspit? Kan jou seun ’n ete kook of sy broek omsoom? Weet hulle waar geld vandaan kom? Dat hulle daarvoor moet werk en moet spaar vir wat hulle wil hê? Ken hulle die waarde van ’n ruiltransaksie, al is dit net om uie vir aartappels te verruil? Voorsien jy so mildelik in jou kinders se elke behoefte dat hulle nét so afhanklik van jou is as dié wat op die staat staatmaak vir ’n aalmoes? Maak jy jou kinders weerbaar groot? As hulle skielik wees gelaat sou word in ’n situasie waar hulle om oorlewing op hulle vaardighede moet staatmaak terwyl chaos in die land heers, sal hulle die mas opkom? Toegegee, dit is ’n uiterste voorbeeld, maar steeds. En as hulle ouer word, sal hulle ingeligte besluite kan neem rakende hulle studievelde en beroepe? Het hulle die inbors en stamina wat dit verg om te werk én te studeer of betaal Pa vir hulle studies, verblyf, sakgeld en ’n motor?

Stel belang in jou kinders se doen en late. Motiveer hulle om dinge self te doen en te probeer. Moedig hulle aan om vaardighede aan te leer en dit dan aan te wend om ’n inkomste te verdien. Leer hulle die beginsel dat dit eerbaar is om te werk, al sny jy gras, maak toilette skoon of verf dakke. Gaan lees gerus hier oor kindervriendelike, hedendaagse vaardighede wat hulle kan aanleer wat in die toekoms deure vir hulle kan oopmaak, soos byvoorbeeld programmering, robotbou, hommeltuigbou, rekenaar bou, 3D-drukwerk en die ontwikkeling van videospeletjies. Dan is daar ook praktiese vaardighede soos hoe om jou motor te versien, hout- en naaldwerk te doen en konfyt te kook met vrugte wat jy self groei.

Identifiseer ook kinders buite jou eie gesins- en familiekring en belê in hulle toekoms. Dra jou eie kennis en vaardighede aan hulle oor. Steek ’n vuur onder ons jongmense aan die brand deur in hulle belang te stel en aan hulle te wys dat hulle wel kan uitsien na ’n hoopvolle toekoms. Hulle toekoms is immers ook ons toekoms.

Gaan lees hier meer oor Wêreld Jeugvaardigheidsdag:

https://unevoc.unesco.org/home/World+Youth+Skills+Day

https://omny.fm/shows/driesestig-1/aanlegtoetse

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui