Dis heerlike lente

Hier by ons in die Oos-Kaap begin die vyebome letterlik bot. Die lente is hier. Daar is sowaar klein vruggies aan ons vroeëperskebome en moerbeibome. Die pruimedantboom het bloeisels aan. Nog een reenbui, dink ek, en al wat vrugteboom is gaan soos bruide in blomgewade lyk. Saans kwaak die paddas en die krieke kriek. Soggens vroeg kwetter die voëltjies alte lustig. Dis darem maar wonderlik hoe die natuur net ongesteurd haar gang gaan … terwyl die mensdom met mekaar skoor soek en oorlog maak.

So saam met die seisoensverandering waarna ons almal ná die koue winter en Augustusmaand se hare-deurmekaar-krap-wind verlang het, voel dit mos ‘n mens moet vir ‘n slag wegpak, regpak, skoonmaak en nuut begin. ‘n Bietjie “spring cleaning” doen, soos die Engelsman sê. Ontslae raak van al die opgegaarde bagasie wat stof versamel en onnodige plek opneem. Jou omgewing opruim en netjies maak. Bestek neem van wat jy het of nie het nie. Opname doen van wat jy nie wil hê nie en wat jy van ontslae wil raak. Ruimte maak vir ‘n nuwe seisoen of fase. Hierdie kan ‘n letterlike, fisiese oefening wees, soos wanneer jy jou motorhuis, tuin of ingeboude kaste takel. Of dit kan ‘n geestelike en/of emosionele oefening wees, waar jy introspeksie doen en jou hart, gedagtes en gesindhede ondersoek.

So ‘n skoonmaaksessie, letterlik én figuur, innerlik én uiterlik, verg natuurlik energie, wilskrag en deursettingsvermoë. Maar dis asof die veranderinge wat ons oral om ons in die natuur waarneem, nuwe lewe oor alles blaas. Dit werk tog in ‘n mate sielkundig op ons in. Ons hande jeuk en ons voel lus om oor te begin, weer te begin, nuut te begin. Om nóg ‘n kans te hê. Ons voel hoe hoop in ons binneste begin ontbrand. Hoop dat dinge vorentoe beter sal lyk. Dat ons kan mooimaak en tooi, kleur en geluk kan bring na wat tot nou vaal en droewig was. Dit is lekker om uit te sien na iets. Om saad in die grond te sit in verwagting dat jy vorentoe ‘n oes sal hê. Die ou dinge agter te laat en die nuwe te omhels.

Kom ons kyk met sagte oë na mekaar in hierdie sit-dit-agter-jou-proses. Dit verg harde werk en gaan soms met baie leed en pyn saam. Van ons rol ons moue op en vaar die tuin binne om bome en struike te snoei en ontslae te raak van onkruid en oortollige groei. Ander was winterslakens en -klere en pak dit weg. Sommige sit egter met albums op hulle skote of kyk na foto’s wat verbyrol in ‘n digitale fotoraam. Kiekies van geliefdes wat nie die winter oorleef het nie, wat onherroeplik weg is … En nou moet die foto’s weggebêre word, want die lewe gaan aan en dis te seer om elke dag aan verlies herinner te word.

Ons lees in die Bybel: “Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar’ … ‘Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet'” (Op. 21: 4b, 5-6, 7b). Watter heerlike troos én vooruitsig is dit nie!

Die ou dinge gaan verby, maar Hy maak alles nuut. Omarm die seisoensveranderinge waarin hierdie waarheid sigbaar weerspieël word. Soos die bekende lied deur Theo W. Jandrell gaan: “Dis heerlike lente, die winter’s is verby.”

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui