
‘n Week in die lewe van ontbytSAKE

Om ʼn gewilde ontbyt-en kuierprogram soos ontbytSAKE saam te stel kos moed en insig. Alles begin nadat die uitvoerende vervaardiger Louis McLaren en regisseur Melinda Meyer vergader het. Dan begin die volgende fases.
Weg van die ateljee deurkruis die projekbestuurders (PB’s) die land om die hoogs gewaardeerde en vindingryke sakeondernemings te besoek en te kontrakteer vir die SAKEfokussegment, waarna die gesoute kameraman Jan Botha die besighede tot in die kykers se huise neem.

Melinda begin beplan en kyk watse nuus op almal se lippe is. Daarvolgens word gaste gekies en deur produksiebestuurder Maderi Louw van Berk gekontak en uitgenooi.
Insetsels van besighede wat tydens daardie week uitgesaai word, word ongeveer ’n maand voor die tyd geskiet en geskeduleer, terwyl Melinda die tegniese span soos ateljee-kameramanne, die vloerbestuurder Marius Kemp en die uiters bekwame aanbieders navigeer.

Maderi maak seker al die ateljeegaste word verwelkom en is op die regte plek en op die regte tyd vir die opname. Wat van haar opval, is haar rustige bedaardheid, selfs gedurende daardie klein katastrofes wat enige program maar kan tref. Sy is weekliks verantwoordelik vir die bestuur van stemopnames wat vooraf deur stemkunstenaars Hannelie Warren en Anrich Herbst gedoen word. Na deeglike navorsing verskaf sy inligting oor ateljeegaste, stel gesprekspunte voor en skryf die ateljeeteks volgens die program se looporde, wat deur Melinda elke week fyn beplan en opgestel word. Dis die belangrikste dokument van elke ateljeedag en almal in die span kry ‘n afskrif waarvolgens hulle verskillende take uitgevoer word.
Jana Pienaar is die tegniese regisseur en onder haar werk ‘n groot tegniese span. Sy besluit ook wat wanneer op kamera gewys word. Sy is die hart van die ‘boks’ soos na die beheerkamer verwys word, waar sy soos ‘n wafferse dirigent (saam met Melinda) regstreeks beheer wat op die vloer gebeur.

My eie fliektydSAKE is ‘n reuse taak. Ek moet weke voor die tyd besluit wat ek wanneer kan sien, watter produksies aandagtrekkers mag word (soos die TV-reeks Niggies) en gewild sal wees. My assistent Werner Klopper kry dan al die lokprente van ongeveer 12 verskillende bronne. Hy redigeer dit volgens my teks en dan stuur hy dit aan die hoofredigeerder van die program Zeldie van Heerden, ook al 16 jaar in dié posisie, wat besluit of die lokprente geskik is en in ontbytSAKE se hoë standaard vir kwaliteit voldoen.
Hier moet bygesê word dat al die aanbieders, veral ek, met fliektydSAKE absoluut in die hande van die papegaailens-operateur (autocue-roller), die immer-betroubare Gerrie Visser, is wat te alle tye sy tempo só moet aanpas dat hy bly by wat die aanbieder sê, indien ‘n teks gelees word.

Die produksie-koördineerder Leonie Human is ook ‘n onmisbare skakel in die span wat al die skietwerk van insetsels wat vooraf vervaardig word, moet reël, beheer en bestuur.
Maar aan die hoof van die program bekyk Louis McLaren hoe alles verloop … voortdurend aan’t notas maak! Hy staan ook aan die roer van borgskappe, sakevennootskappe en inhoud, terwyl Melinda met die samestelling van die segmente en die uitvoering daarvan betrokke is.
Met talente soos die slimkop Anika de Beer, voortreflike sjef Corli Prinsloo, die spitsvondige Leon Gropp, veelsydige Charlene Lackay en skerpsinnige Dawie Roodt, verloop elke program seepglad.
Hierna sorg die kreatiewe digitale mediaspan dat ontbytSAKE op Facebook, Instagram, TikTok en ander platforms aandag trek.
Ligte … kamera … aksie …. en volgende week maak ons weer só!