Boekoorsig: Uit die Beek 2026

Hierdie Bybelse dagboek is al oor die honderd jaar oud. Die jongste weergawe, Uit die Beek 2026, is pas deur Lux Verbi uitgegee en is reeds beskikbaar by goeie boekwinkels. Stephan Joubert, ’n teoloog, bekroonde skrywer, prediker hoof van eKerk is ’n buitengewone professor by verskeie universtiteite. Hy is verantwoordelik vir die dagstukkies in Uit die Beek 2026.

Die uitgewersbrief lui: “Dit was deur al die jare heen die doelwit van die onderskeie skrywers om lesers die hele Bybel te laat lees, nie net geliefde gedeeltes nie. God het immers sy héle Woord aan ons gegee om ons op sy pad te lei. In hierdie uitgawe, Uit die Beek 2026, begin ons ons reis by Genesis. Ons lees in die Ou Testament ook uit Eksodus, Rut, 1 Samuel, 2 Samuel, Ester, Psalms, Spreuke, Prediker en Jesaja. In die Nuwe Testament lees ons uit Markus, 1 Korintiërs, Filippense, 1 Tessalonisense, 2 Tessalonisense, 1 Timoteus en 2 Timoteus. Soos gewoonlik word die belangrikste seisoene van die kerkjaar in ag geneem met ’n spesiale boodskap vir Lydenstyd, Paasfees, Pinkster, Koninkrykstyd, Advent en Kersfees. Mag jy, liewe leser, vanjaar opnuut hoor dat jy aan Jesus Christus behoort, dat die Here by jou is, dat sy genade vir jou genoeg is en dat Hy jou dra. Altyd. Elke dag.”

Dominee Joubert skryf in die voorwoord dat hy die dagstukkies nie uit eie krag geskryf het nie. Dis sy wens dat lesers opnuut sprakeloos sal staan oor die goedheid van God.

Die ontwerp en uitleg is visueel aantreklik, met elke maand se dubbelbladsy wat ‘n baie mooi geskakeerde wit en swart bergtoneel bevat. Elke dagstuk word met ‘n gepaste gebed afgesluit en daar is ook voorstelle vir verdere leeswerk.

Hier is ‘n voorbeeld van een van die kort gebede: “Hoor ons, Here, wanneer ons na U roep. Hoor ons wanneer ons pleit dat U die nasies se oë al oopmaak en hulle harte sal sag maak. Gee dat u heilige teenwoordigheid ‘n magnetiese aantrekkingskrag oor die ganse aarde sal uitstraal en die mense na U toe sal laat stroom” (bl. 177).

Hier is ‘n uittreksel uit die dagstuk van 30 Januarie 2026: “Vandag nog is liefde die fondament van elke verhouding, tussen lewensmaats, tussen vriende en familie. Meer nog, die Nuwe Testament verwag van ons om ook onbekendes lief te hê, selfs ons vyande. Liefde is nie in die eerste plek ‘n emosie nie. God se liefde is lojaliteit, getrouheid en diensbaarheid. Dié eienskappe word aangevuur deur die Heilige Gees, en ons oefen dit in deur ons volgehoue wilsbesluit om aan mekaar lojaal te wees. Ons doen dit op die regte manier, soos dit binne elke verhouding en in elke situasie gepas is.”

Reeds met die deurblaai van Uit die Beek 2026, kon ek sien dat hierdie besondere dagboek vol lewenswaarhede, interessante vertellinge en Skrifgefundeerde wysheid is. Dit hoort op elke Christen se bedkassie. Ek beveel dit heelhartig aan. Dominee Joubert is ‘n ervare en kundige skrywers en het al meer as 200 000 boeke verkoop.

Skaf jou kopie van Uit die Beek 2026 by jou naaste boekwinkel aan of bestel dit aanlyn.

Kompetisie:

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n eksemplaar van Uit die Beek 2026 wen. Die boekprys kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom, kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 September 2025.

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

5 Comments

  • Ek was nog altyd lief vir Stephan Joubert se boeke, die dag stukkies maak dit makliker om tyd te maak in my besige oggende om die dag reg te begin

    • Geluk, Sanet! Jy wen ‘n eksemplaar van Uit die Beek 2026. Ons sal jou per e-pos kontak.

  • Soveel nuwe avonture in 2025! Ek sal so bederfd voel met so boek, aangesien dit my Verjaardag is op 24 September, ek het myself vir die eerste keer in 5 jaar in ‘n nuwe verhouding begewe, ek het paar maande terug ‘n leap of faith geneem, en ‘n nuwe werksaangeleentheid aanvaar, en ek word ook ouma van ‘n kosbare baba seuntjie! Ek sal sowaar net nôg meer geseënd wees, deur so geskenk te ontvang!

    • Geluk, Juanita! Jy wen ‘n eksemplaar van Uit die Beek 2026. Ons sal jou per e-pos kontak.

  • Baie goed

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui