
Die Imperiale somer-reeks
Protea Boekhuis publiseer die Imperiale somer-reeks soos geskryf deur Karel Schoeman. Die lekkerte van hierdie boeke is dat dit nie bloot die geskiedenistydlyn weergee met droë feite nie; daar is heerlike byvertellings, interessante brokkies en staaltjies, en ruim aanhalings uit verskillende bronne wat die periode en gebeure van die tyd glashelder voor die leser se oë bring. Natuurlik is die pragtige foto’s en illustrasies ook ’n groot bederf, want dit verleen ’n welkome visuele beeld van dié era.
Dié boeiende reeks bestaan uit vyf titels waarvan drie op hierdie stadium beskikbaar is. Die geskiedenis-entoesias kan gerus hierin belê. Selfs skrywers wat navorsings oor dié opwindende tydperke in ons land se geskiedenis wil doen, sal heelwat materiaal en inspirasie hieruit put. Tussen die bladsye van hierdie boeke kry geskiedkundige figure lewe en persoonlikhede. Dis asof daar ’n skrefie in die gordyn van tyd verskyn en die leser daardeur kan loer. Die endnote en bronnelys aan die einde van elke boek gee ’n aanduiding van die geweldige navorsing wat die skrywer gedoen het.
Boek 1: Imperiale somer: Suid-Afrika tussen Oorlog en Unie, 1902-1910
Hierdie hardebandboek met 575 bladsye beskryf die vier Suid-Afrikaanse kolonies gedurende die Eduardiaanse tydperk van 1902–1910. Die menslike element, van die omstandighede in die vier kolonies met hulle stede en dorpe tot die toestande in die inrigting vir melaatses op Robbeneiland, word belig. Mens lees meer oor die uitwerking wat die Naturelle Grond-wet van 1913 op die lewenswyse van swart mense gehad het direk ná Uniewording. Ek het dit veral interessant gevind om te lees van Wilhelm Wolfram, ’n Duitser wat aan die Rand as myningenieur gewerk het. Hy eindig egter op as ’n rondtrekkende filmvertoner om aan die “movie madness” of “bioscope fever” van die tyd te voldoen.
Uittreksel: Mrs Maturin se beskrywings van die situasie in en om die Goudstad in die onmiddellike nasleep van die oorlog, dikwels in insidentele flitse oorgedra, is besonder beeldend, soos in die mededeling dat die uittog na hul kampeerplek in Auckland Valley lank geduur het, ‘because the veldt is full of gold claims – big holes as deep as a room into the cart and we kept falling’, of die feit dat dit geleë was ‘near a ramshackle building riddled with bullets from the war, and which somehow is now running as a “country hotel”’.[1]
Boek 2: Rekonstruksie: Die naoorlogsjare in Suid-Afrika, 1902-1905
Hierdie hardebandboek van 320 bladsye beskryf die einde van die Anglo-Boereoorlog asook die beleid van rekonstruksie en verengelsing wat Lord Milner in die Transvaal- en Oranjerivierkolonie daargestel het. Die diggeweefde teks bevat kosbare aanhalings deur bekende geskiedkundige persone, o.m. Lord Milner en Florence Nightingale. Ek was ook verbaas om te lees dat Cecil Rhodes, bekend as die Empire-builder, reeds op 48-jarige ouderdom oorlede is aan sy hart ná ’n erge lyding wat hom bedlêend gelaat het.
Uittreksel: Met sy terugkeer na Suid-Afrika vroeg in 1902 het die somerhitte in die onmiddellike omgewing van Kaapstad dit vir Rhodes met sy harttoestand besonder swaar gemaak, soos deur Le Sueur beskryf. Rhodes would wander about the house like a caged animal, his clothes all thrown open, his hands thrust characteristically inside his trousers, the beads of perspiration glistening on his forehead beneath his tousled hair as he panted for breath to sustain the life within him, which was slowly ebbing away (32).
Boek 3: Babilon: Johannesburg in die koloniale tydperk, 1902-1910
Hierdie hardebandboek van 312 bladsye beskryf Johannesburg net ná die Anglo-Boereoorlog, van die swart inwoners met hulle eie stadskultuur tot die mynwerkers aan die Rand. Hierdie teks bevat ook kosbare aanhalings soos onder andere ’n artikel oor die opening van die B. & F. Wheeler His Majesty’s Theatre in Commissionerstraat wat in die Amerikaanse vermaaklikheidsblad The New York Clipper verskyn het. Ek lees byvoorbeeld die onderstaande uittreksel raak oor wat E.F. Knight in verband met Johannesburg geskryf het:
Uittreksel: In a city bustling and noisy by day, and strangely peaceful by night; for an hour when London’s chief streets are full of life, the streets of Johannesburg are empty, and one only encounters the rare policeman on his beat. But even then absolute stillness does not reign, for one hears a mysterious sound – inaudible by day for the din of traffic – a melancholy murmuring like the breaking of the sea on a distant beach. It comes from no direction but swells up from all around one. It is the sound of the mining machinery that never stops by day or night in the eager quest for gold (175)[2]
Die Imperiale somer-reeks is by goeie boekwinkels beskikbaar.