
Boekresensie: Help! My kind is anders
Titel: Help! My kind is anders
Outeur: Christien Neser
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 978-0-7993-9629-4
Help! My kind is anders
deur Christien Neser
Hierdie broodnodige opvoedkundige selfhelpboek hoort op elke ouer, onderwyser en terapeut se rak en is gerig op “diegene wat op ’n ontdekkingstog saam met hul voorskoolse kind is en rigtingwysers langs die plek soek” (p. 10). Dit is propvol wenwenke deur kenners oor hoe om die ster in jou anderster kind te ontdek. ’n Span kundiges – onder meer spraakterapeute, arbeidsterapeute, fisioterapeute, speelterapeute, oudioloë, sielkundiges en ander medici – deel hulle ervaring en kennis met Christien Neser, ’n spraakterapeut wat al vir vier dekades in praktyk is.
Help! My kind is anders beslaan 272 bladsye. Hoewel nie ’n akademiese handboek nie, bemagtig dit ouers wel “om te weet wat hulle self kan doen, maar ook waar hulle om hulp kan aanklop”. “Dis vir elke ouer wat onseker is oor wat terapeute doen, watter dokters en sielkundiges ’n mens kan raadpleeg en wat elkeen se spesialiteitsveld is”, en dis ook “vir die onderwysers wat met hierdie kind in die klaskamer te doen gaan kry, veral in die preprimêre klas” (p. 11). Die volgende paragraaf som dit mooi op: “Dis ’n boek wat die sluier probeer lig oor die dinge wat ouers bekommer. Hoe gemaak met ontwikkelingsagterstande, met ’n gehoorprobleem, ’n spraak- of taalprobleem, outisme? Sal my kind eendag kan lees en is daar iets wat ek kan doen om te help?” Dis net ’n paar kwessies wat behandel word. Daar word ook aandag gegee aan “teksboekbabas, daardie outjies wat ’n tipiese genetika het, tipies ontwikkel en geen sensoriese uitvalle het nie” (p. 10).
Hierdie praktiese gids rus die ouer toe met ’n handige gereedskapskis aan die hand van 11 boeiende en ware gevallestudies wat hoop, bemoediging en dapperheid onderskryf. Shéri Brynard, onder andere ’n Internasionale Ambassadeur vir Downsindroom en ’n ontvanger van die Presidentstoekenning, skryf in die voorwoord ’n boodskap aan elke ouer: “Julle moet julle kinders geniet, of hulle sukkel of nie. Julle moet saam met hulle lag en speel en julle moet dit vir julle kinders lekker maak om te leer. Maak vrede in jou hart dat ons hemelse Vader ons almal verskillend gemaak het.”
Die boek is opgedeel in drie dele. Deel een vra wat is “normaal” en raak die kwessie aan oor waarom soveel kinders vandag in terapie is. Daar word gekyk na hoe jou kind se ontwikkeling gemeet kan word en hoe jy ’n kampioenspan kan kies om jou te help om jou kind se volle potensiaal te ontwikkel. Deel twee hanteer die “Wat as …?”-vrae wat ’n ma het, bv. wat as my kind nie begin praat/lees nie, of wat as my kind outisties is, AGHS het of angstig is? Daar word ook gekyk na skoolgereedheid. Ek het veral deel drie baie interessant en van waarde gevind, want hier deel ouers en terapeute saam die pad wat húlle gestap het om ’n kind te ondersteun, want kinders ontwikkel nie net op een vlak nie. Dis aan die hand van hierdie voorbeelde dat ouers hoop skep dat hulle kinders ook gehelp kan word. Vyf elemente moet saam ontwikkel “ten einde ’n kind gereed te maak om formeel te begin leer: Intellektuele/kognitiewe ontwikkeling; fisieke ontwikkeling; taalontwikkeling; sensoriese ontwikkeling; en emosionele ontwikkeling (p. 29). Dan het ek ook die verduideliking waardeer op ble. 54-72 wat verskillende kundiges as diensverskaffers se rolle omskryf waar dit jou superspesiale kind aangaan.
Die verwysings en leeslys agter in die boek is ’n goudmyn vir dié ouer wat graag self verder navorsing wil doen. Hoewel die bystand wat kundiges ouers en kinders kan bied waardevol is, lê die boek ook klem op die ouer as terapeut. Die Franse skrywer Marcel Proust het immers gesê: “Die ouer is ’n kind se eerste en belangrikste onderwyser.” Onthou egter, soos dit op bladsy 72 duidelik geskryf staan, dat jou kind jou “in die eerste plek as ’n mamma” wil hê. “’n Superspesiale ma, een wat haar kinders gaan slim práát, lees en speel, sonder dat hulle agterkom dat julle met terapie besig is” (72).
Meer oor die skrywer: Christien Neser het by Tukkies as spraakterapeut gekwalifiseer en beskik ook oor ’n honneurs in Frans (UNISA) en ’n MA in Toegepaste Linguistiek en Vertaling (UJ). Sy werk bedags deeltyds as spraakterapeut en saans skryf sy. Die supergewilde Elle-reeks vir tienermeisies het onder meer uit haar pen verskyn.
Help! My kind is anders is gesaghebbend maar lesersvriendelik geskryf vir ouers wat van hulle kinders kampioene wil maak. Bestel gerus die boek hier. Dit is ook beskikbaar as e-boek.