Brood en botter: ’n lewe van kook

Human en Rousseau publiseer Nic van Wyk, ’n gekwalifiseerde sjef, restauranteur en TV-aanbieder, se resepteboek getiteld Brood & botter. Nic is veral bekend daarvoor dat hy ’n beoordelaar was vir die inheemse koswerklikheidsreedse Kokkedoor en Kokkedoortjie.

Ek het baie respek vir ’n skrywersjef wat weet waar kos vandaan kom en voedselprodusente vanuit die staanspoor bedank. “Ek dra graag hierdie boek op aan al die boere en vervaardigers van voedsel, dié bestanddele waarmee sjefs en kokke elke dag kook. Dankie vir jul toegewyde en harde werk – sonder jul passie en liefde vir wat julle doen, sal ons nie kan doen waarvoor óns lief is nie.” Hy sê ook dankie vir sy gesin, familie en mentors. “En laaste maar nie die minste nie: Al die sjefs, kelners, bestuurders, boekhouers en mense saam met wie ek die afgelope 21 jaar gewerk het – julle het almal ’n rol gespeel om my te bring waar ek vandag is.”

Nic vier met Brood & botter 21 jaar van kook en noem dit sy kulinêre mondigwording. “Ek voel gemaklik met die besluit om ’n kookboek te skryf. Om só terug te dink aan wat ek deur die jare geëet het, wie dit berei het, watter smake ek die beste onthou en wat dit vir my beteken het. Mag die resepte in hierdie boek ’n staatmaker word in jou kombuis, dan was die eerste 21 jaar in my kosloopbaan die moeite werd gewees. Lekker kook!”

Brood & botter is in vier afdelings ingedeel, naamlik “DIE BEGIN 21 jaar van kook”, ONTHOUKOS my kinderdae”, “RESTAURANTKOS van toe tot nou: en “HARTSKOS mondig en vorentoe”.  Dit beslaan 192 bladsye en is tjokkenblok vol heerlike resepte. Donna Lewis se baie mooi kosfoto’s is ook ’n lus vir die oog.

Klik op foto vir resep (pdf, 0,5M)

Die lokteks op die agterblad lui: “Die boek herinner aan Kook en geniet, met die klassieke manier van kosmaak en basiese kookmetodes, maar Nic neem sy resepte ’n stappie verder: onthoukos soos groenbone met witpepersous en lepel-eet-stokvis. Sy onopgesmukte restaurantkos, soos hoenderkrokette met truffel-en-mieliesous of appelstrudel met gemmerroomys, gaan jou verras met dieplekker geurkombinasies, en sy lankstaan-skaaprib en hamburger met aïoli, tamatiekonfyt en komkommerpiekels – sy hartskos – weerspiëel sy voorkeur vir kos sonder fieterjasies.”

Errieda du Toit skryf die volgende in Brood & botter se voorwoord: “Met sentiment as een van sy hoofbestanddele delf hy diep in herinneringe aan kleintyd-kuiers by sy oupa Boet en ouma Liena. Sy oë blink as hy vertel van die groot berge kos, die witmielies en waatlemoen uit hul tuin en ingelegde geelperskes uit die spens. Die oorsprongstorie van die soetsuur lewer op sy restaurantspyskaart lê juis in sy ouma se toetskombuis. Elke keer as ek sy lamsrib maak, wat net met sout, koljander en goeie asyn gegeur word, dink ek aan die vertelling van sy oupa wat die ribbetjie met sy Joseph Rodgers-messie afgekerf het as ’n voor-ietsie aan tafel.”

Klik op foto vir resep (pdf, 0,5M)

Die goeie versameling resepte in Brood & Botter getuig van ’n talentvolle sjef wat sy komvandaan respekteer maar nie tradisie slaafs navolg nie. Die kookboek is propvol waardevolle raad en wenke. Ja, daar is nostalgie, maar daar is ook ’n vars manier van doen. Hier onder volg drie voorbeelde van resepte uit die onthoukos, restaurantgeregte en hartskos-afdelings:

Onthoukos: outydse soetsuur lewer, skaapblad met groenboontjiebredie en beestong met ’n soetmosterdsous

Restaurantkos: mosterd-afval met heuningkrummels, maklike vark-rafelvleis met mosterd, piekels en brood en wildslende, pampkoekies en ’n Kaaps-Maleise sous

Hartskos: rissiesous-hoender, plankie-beesbors oor die kole en visbondels op die vuur

Ek hou veral van die veelsydige vierbrood-resep op bladsy 126 waarmee mens ciabatta, broodrolletjies, platbrode of oliebrood mee kan maak.

Brood & botter is by vooraanstaande boekwinkels beskikbaar, maar jy kan dit ook hier bestel.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui