Soetkoekies vir Kersfees

Voor ons ons oë uitvee, is dit Desembervakansie en Kersfees. Menige ma kan getuig dat ’n kind op vakansie ’n honger kind is. Ons begin dus in die rigting van die leë koekblikke loer, want dit gaan nie vanself vol kom nie.

Winkelkoekies is vir baie van ons onbetaalbaar duur, verál as jou gesin kranige knagers is en altyd op soek is na iets om aan te peusel. Maar met beurtkrag, die prys van bestanddele en boonop min tyd tot ons beskikking, kan die gedagte daaraan om self te bak dalk vir baie van ons net een te veel wees.

Maar dink gerus terug aan jou eie kinderdae. Onthou jy hoe lekker het die huis geruik as jou ma gebak het? Moenie jou kinders die wonderlike ervaring ontneem om die versiersuikerlepel af te lek nie. Dis nou as jy hulle nie voorspring nie! Beplan vroegtydig om hierdie jaar ’n Saterdag opsy te sit om saam met jou gesin in die kombuis te woeker en die koekblikke boordensvol te bak. Hou ook die kamera gereed en neem tussenin foto’s van julle kosbare saamweestyd.

Daar is min koekies wat so lekker is soos die outydse, onopgesmukte soetkoekie. Nie net is dit vinnig en maklik om te bak nie, maar dit smaak vorentoe nét so of gedoop in ’n koppie boeretroos. Dit is en bly altyd ’n staatmaker om koekblikke mee te vul of om vir iemand geskenk te gee. Bowendien kan mens heel kreatief met die deeg te werk gaan en die koekies in allerhande vorms uitdruk en versier.

Kos-ikoon Peter Veldsman noem in sy artikel getiteld “Waar kom soetkoekies vandaan?” (SARIE Kos, Aug. 2017) dat outydse soetkoekies vir hom “hemelkoekies” is. Hy skryf: “Dalk het outydse soetkoekies saam met die Van Riebeecks in die Kaap voet aan wal gesit. Ons weet nie. Ek kon wel opspoor dat die resep vir die eerste keer in 1703 in die Nederlande gepubliseer is.”

Wanneer ek my goeie vriend Google raadpleeg, is dit duidelik dat daar nie ’n tekort aan soetkoekieresepte op die internet is nie. Hierdie vier resepte het egter vir my uitgestaan:

  • Andries Pretorius (eintlik die bekende voortrekkerleier se vrou) se soetkoekies. Hierdie resep is meer as 200 jaar oud. Kry die resep hier.
  • Voedselkonsultant Annelien Pienaar is ’n bakster van formaat. Haar soetkoekieresep lewer 50 koekies. Sy gee ook variasies op die resep. Kry die resep hier.
  • Koskenner Arina du Plessis se baie maklike soetkoekieresep lewer 5 dosyn en is flatervry. Die deeg hanteer maklik en is ideaal vir kinders wat wil help uitdruk, bak en versier. Kry die resep hier.
  • As jy gesondheidsbewus is, sal jy bly wees oor leefstylsjef Izelle Hoffman se gesonde soetkoekieresep wat heuning en tapioka-meel bevat. Kry die resep hier.

Die resep wat ek egter hierdie jaar gaan uittoets, verskyn in Kaap, kerrie & koesisters (Human en Rousseau, 2019), ’n wonderlike resepteboek deur tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien. Die resep lewer sowat 40 soetkoekies en word beskryf as heerlike botterkoekies en geurige en onvergeetlike lekkernye. “Die beste van hierdie teetyd-lekkerny is die onverwagte volgeroosterde grondboontjie in die middel van die koekie,” skryf Fatima op bladsy 186. Kinders sal ook daarvan hou om hierdie koekies met smarties te versier. Die uitgewer het hierdie resep gratis beskikbaar gestel vir KragDag-lesers. Klik hier om die PDF af te laai.

Bestel gerus vir jou ’n kopie van Kaap, kerrie & koesisters hier. Die lokteks op die agterblad beloof: “Jy sal die Kaaps-Maleise smake – koekies, kerries, sambals, smoortjies, bredies en brode, vleis en vis – herken, selfs al ken jy dalk nie die name van die geregte nie: Dis waarmee baie Suid-Afrikaners grootgeword het.”

KOMPETISIE

Een gelukkige leser kan met die komplimente van Human en Rousseau ’n eksemplaar van Kaap, kerrie en koesisters wen. Om vir die prys in aanmerking te kom, vertel hier onder in die kommentaarveld wat jy van soetkoekies dink. Onthou ook om in te skryf om KragDag se nuusbrief te ontvang. Sluitingsdatum: 30 November 2022.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

6 Comments

  • Lyk lekker. My familie het nie eintlik soetkoekies gebak nie. Maar ek hou natuurlik daarvan. Ek onthou as kind is daar blikke vol koekies met hawermout gebak in ons huis. So sjokolade weergawe. En dan, die alewige Hertzoggies. Wat natuurlik hemels is, maar waarvan ek miskien een te veel ingekry het om vandag te waardeer. Miskien probeer ek self bietjie soetkoekies bak die vakansie!

  • Ek is baie lief vir soetkoekies, en sommer geinspireer om hierdie vakansie te bak. Ek het die mooiste soetkoekies gesien wat ‘n ‘venstertjie’ van gesmelte suiker het – dink net hoe mooi sal dit op ‘n Kersboom vertoon! Of miskien is ek te optimisties om te dink dit sal hou tot Kersfees met ‘n kleuter en vier honde in die huis…

  • Soetkoekies bak ons voor Kersfees en versier hulle om aan ons Kersboom te hang (hoog genoeg sodat die wors honde nie hulle self help nie:) )
    Projek wat ek en my meisiekind elke jaar doen. Gewone outydse ouma se soetkoekies.
    Daar word ook deur die jaar gebak om die 3 plaaskinders se kosblikke vol te hou, veral met eksamen tyd!

  • Ek het groot geraak in ‘n huis waar kerfees tyd se beplanning al in Oktober begin het.

    Daar was blikke vol soet koekies, klapper koekies en vlakoekies.

    Kersfees het ons kersfees kaartjies gehang op garing draad van een hoek in die voorhuis tot die ander en herhaal in die ander hoeke.

    Die smaak van soet koekies laat my terug dink aan hierdie kosbare tye saam my ouma. Ek het altyd gehelp in die kombuis en dit was soos ‘n fees by homself. Net om die tyd saam te spandeer het was so kosbaar.

    My soet koekies word gedoop in lekker sterk koffie. Hoe verlang ek nou na daai tye.

    • Isabella, baie geluk! Jy wen ‘n kopie van Kaap, Kerrie & Koesisters. E-pos asseblief jou selfoonnommer en afleweringsadres na deon@kragdag.co.za.

  • Hello daar Louise.

    Vreeslik dankie. Ek is so opgewonde om die nuwe resepte boek te ontvang en gebruik.

    Baie dankie!

    Groete

    Isabella

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui