Boekresensie: Weber se Beste Braaiboek

Titel: Weber se Beste Braaiboek

Outeur: Jamie Purviance

Uitgewer: Struik Lifestyle

ISBN 978-1-43231-030-1

ISBN ePub 978-1-43231-042-4

Prys R390,00

Die befaamde braaispesialis, sjef en kosboekskrywer, Jamie Purviance, is al vir twee dekades lank verantwoordelik vir Weber, die wêreld se voorste braaifirma, se topverkoper-kookboeke. Sy opwindende Weber se Beste Braaiboek is spiksplinternuut op die winkels se rakke en beloof om ’n treffer te wees vir enige buitelugkookkuns-entoesias. Die indrukwekkende hardebandresepteboek beslaan 352 bladsye en bied 125 watertandresepte. Dit sluit gedetailleerde stap-vir-stap instruksies en sowat 750 aptytwekkende foto’s in.

Purviance gee kwistig as meesterbraaier waardevolle raad aan beginnerbraaiers én ervare braaiers. Hy gebruik verbeeldingryke en vars bestanddele en tower daarmee die heerlikste braairesepte op wat die leser omtrent verlei om sommer dadelik die kole aan te steek. Volgens die insiggewende Inleiding is Weber se Beste Braaiboek ’n “hoogs visuele ondersoek na die tegnieke wat beter kos op jou tafel gaan sit.” Purviance skryf: “Ek het hierdie bepaalde resepte gekies omdat ek vas glo hulle is nie net die moeite werd om te berei nie, maar ook puik voorbeelde van vaardighede wat jy op baie ander resepte kan toepas. My missie is om jou soveel van kosmaak oor die kole te leer dat jy groot hoogtes sal bereik elke keer wanneer jy voor jou braaier aantree.”

Die inhoud van Weber se Beste Braaiboek is só ingedeel: Inleiding; Die Vier T’S (Temperatuur, Tyd, Tegniek, Toerusting), Voorgeregte; Bees- en Lamsvleis; Varkvleis; Pluimvee; Seekos; Groente en Bykos; Nageregte; Die Spens (Vryfmengsels en Pastas, Marinades en Pekels, Braai- en slaaisouse & Meer); Register. Daar is ook 10 BBQ Genius-resepte “wat voorafgegaan word met noodsaaklike wenke en tegnieke, asook ’n brokkie “braaiwetenskap” wat jou ’n beter begrip sal gee van wat gebeur met jou bestanddele op en weg van die rooster. Dan volg die resep self, aangebied met stap-vir-stap-foto’s in die fynste detail sodat jy jou pad oop kan kyk en kook. Ná elke BBQ Genius-resep is daar “groot geur”-variasies – maklike kortpadresepte vir weeksaande gebaseer op die tegnieke in die BBQ Genius-resep” (p. 6).

Ek het die deel oor beroking op bladsye 36 tot 43 baie interessant gevind. Dit is egter die “Kry meer uit jou braaier”-afdeling op bl. 48 wat my aandag gehou het. Met topwenke vir die gebruik van braaipanne, pizzastene en woks kan die braaier met groot selfvertroue alledaagse gunstelinge in ’n japtrap voorberei. Dit was ook vir my baie leersaam om deur die verskeie Vrae en Antwoord-sessies te lees. Die Braai-Wetenskap gedeeltes verduidelik meer oor die wetenskap agter die bestanddele. Op bl. 95 word die volgende vraag beantwoord: “Vleis met ’n bruin kleur is nie noodwendig sleg nie, maar kan jy dit vertrou?” Die Braaigidse (ble. 24 tot 29) vir beesvleis, lamsvleis, varkvleis, pluimvee, vis en seekos, groente en vrugte is veral baie leersaam en goed om te raadpleeg.

My gunstelingresepte in hierdie besonderse boek propvol allerheerlike braairesepte is die volgende: Bruschetta met Gemarineerde Soetrissies; Buffalo-Hoenderslaai; Klassieke Amerikaanse Kaasburger; Maandagaand-Liesskyf; Geskroeide Riboogsteaks met Sampioene; T-beensteaks met Planksous; Vark-en-Groenteroerbraai met Hoisinsous; Hoenderborsies met Rooiwyn-Uiekonfyt; Pangebraaide Salm op Rys; Aspersies met Suurlemoen-Vinaigrette; Tandoori-Blomkool met Kruieblatjang; Geroosterde Baba-Aartappels met Kruie; Sjokolade-en-Piesang-Broodpoeding en natuurlik die Perske-en-Bloubessie-Poeding.

Ek is baie trots om my kopie van Weber se Beste Braaiboek. Dit sal die perfekte kersgeskenk wees vir die braaier in jou lewe! Dit is ook beskikbaar in Engels as Weber’s Ultimate Braai Book. Skaf jou kopie hier aan.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui