Boekresensie: Planetarium
Titel: Planetarium
Uitgewer: Protea Boekhuis
Outeur: Raman Prinja
ISBN: 978-1-4853-1152-2
Planetarium bied aan lesers die geleentheid om ’n leersame interstellêre reis in Afrikaans mee te maak tussen die 112 bladsye van dié indrukwekkende reusehardebandboek (370 x 272 mm). Ek is baie opgewonde oor hierdie publikasie, verál omdat gesinne nie sommer meer snags in veiligheid op die grasperk kan lê en hulle verstom aan die uitspansel se blink sterreprag en wonders soos die Melkweg en verskietende sterre nie.
In Planetarium verken lesers die ruimte deur die oë van Raman Prinja, ’n professor in astrofisika aan die Universiteitskollege Londen (UCL). Prof. Prinja spesialiseer in massiewe sterre, stervorming en die evolusie van sterrestelsels. Die talentvolle Chris Wormell – hy is onder meer bekend vir gewilde prenteboeke soos George and the dragon – het gesorg vir die asemrowende illustrasies wat die ruimte vir lesers meer toeganklik maak en ook sommige van die geheimenisse van die heelal ontsluit. Burgert Behr was verantwoordelik vir die mooi vertaling in Afrikaans.
Prof. Prinja skryf in die Voorwoord: “Ons beleef tans ’n ongelooflik opwindende tyd in ons verkenning van die heelal. In die volgende dekade sal die lansering van nuwe ruimtetuie en die bou van reuseteleskope ons toelaat om verder as ooit tevore van ons planeet af te sien. Nuwe waarnemings kan ons leidrade oor van die heelal se grootste onbeantwoorde vrae gee. Is ons alleen in die heelal? Is daar heelalle benewens ons eie een? Hoe lyk die binnekant van ’n swartkolk? G’n mens weet wat die sterrekundiges van die toekoms kan ontdek nie, maar hulle sal ongetwyfeld die grense van ons kennis verskuif.”
Op die agterblad staan geskryf: “Maak dié boek oop om die heelal in al sy glorie te verken.” Wat ’n uitnodiging! Lesers blaai verstom deur hierdie “museum” met sy “uitsonderlike versameling hemelliggame, van klein, ysige mane tot enorme, warrelende sterrestelsels.” Planetarium beslaan die hoofstuk getiteld “Ingang” (Ons plek in die heelal) en sewe galerye, nl. “’n Kykie na die ruimte”, “Die sonnestelsel”, “Die Son”, “Die naghemel”, “Die sterre”, “Sterrestelsels”, “Die heelal” en dan is daar ook die “Biblioteek” (Indeks). In die galerye “sal jy plekke besoek waar geen mens nog geloop het nie en uitstallings sien wat te groot is om in enige museum te wys – buiten dié een” (p. 1). Van moderne sterrewagte tot kosmiese botsings en die oerknal – Planetarium is propvol fassinerende inligting, soos bv. dat die heelal met sy geskatte 2 biljoen sterrestelsels ’n ondenkbare 93 miljard ligjare breed is (p. 5).
Hoewel gemik op kinders van 9 tot 14 jaar, het ek as volwassene Planetarium geweldig interessant gevind. Dit is die derde titel in die baie gewilde Welkom by die museum-reeks en volg op Botanicum en Dinosourium. Die grootte van die boek, die duursame hardeblad, en die kleurvolle en verbeeldingryke illustrasies maak dit die ideale Kersgeskenk vir die kind wat ’n lewendige belangstelling koester in die ruimte. Ek begeer al vir etlike jare ’n eie teleskoop, maar vir nou het ek sommer die verkyker gegaps en met hernieude verwondering die maan en sy krateragtige oppervlakte bestudeer. En ek onthou dat ek eens op ’n tyd ’n ruimtereisiger wou word …
Skaf Planetarium gerus hier aan.