Boeke in die kerskous
Die feestyd is op hande. Gesinne skaal hulle bedrywighede af en spandeer meer tyd saam. Of julle nou met vakansie gaan of met Jan Tuisbly se karretjie ry – sorg dat daar sommer ’n stapel boeke binne reikafstand is. Gee gerus die volgende boeke as geskenke vir jou geliefdes dié Kersfees. Baie van my boeke kom al vir jare saam met my – ’n boek is ’n geskenk wat hou!
’n Vry vrou (Antjie Krog)
Uitgewer: Human & Rousseau
Vir die liefhebber van poësie is daar Antjie Krog se digbundel getiteld ’n Vry vrou wat ’n uitsoekversameling van die gevierde, deurdagte en deurwinterde digter se gedigte oor 50 jaar bevat. Karen de Wet, die samesteller, skryf op die agterflap só van die boek: “Die intense poëtiese, erotiese, skromelose Krog is hier aan die woord. Die essensiële Krog. Jou onontbeerlike Krog.” Krog is inderdaad ’n meesterdigter en skrywer wat geen bekendstelling nodig het nie. Haar werk daag uit, ontroer en laat nie die leser onaangeraak nie. Sy gaan met gemak om met die geskrewe woord en span dit bedrewe in as netjies gevlegde seekoeisambokke of sagte fluisteringe in die oor – soos De Wet inderdaad ook aanvoer: “’n Digter wat liries stem gee, eroties meevoer en ontnugterend oopvlek.” Die bundel bevat meer as 100 gedigte saamgestel uit elf bundels wat oor vyf dekades verskyn het. Bestel hier.
Africa’s Wild Dogs: A Survival Story (Jocelin Kagan)
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
Vir die natuurentoesias is daar Africa’s Wild Dogs: A Survival Story deur die skrywer en fotograaf Jocelin Kagan. Sy beywer haarself om met haar talente te woeker om sodoende voorbrand te maak vir alle diere op die planeet. Die hardebandboek wat 224 bladsy beslaan en propvol pragtige volkleurfoto’s is, is opgedeel in agtien interessante hoofstukke waarin sy onderhoudend vertel van haar avonture as wildfotograaf en ook haar interaksie met die Afrika-wildehond waarvan daar so min as 6 600 oor is. Sy beskryf die wildehonde as pragtige, intelligente en ikoniese diere wat integraal staan tot die ekosisteme van die Afrikabos. Sy noem hierdie predatore met komplekse sosiale strukture merkwaardig, nie-konfronterend en nuuskierig. Hierdie boek hoort op elke koffietafel, en meer nog, die tantième gaan aan Africa’s Wild Dog Survival Fund. Bestel hier.
Bak dit self (Marlene Schoeman)
Uitgewer: LAPA
Vir diegene wat graag koeke bak om babas se vreugdevolle koms mee te vier, is daar Marlene Schoeman se Bak dit self. Dié resepteboek van 132 bladsye bevat 50 heerlike koekresepte en is ook propvol wenke en raad vir die koekbakker. Feestelike geleenthede soos om ’n baba te verwelkom kan meer bekostigbaar wees wanneer jy self jou hand aan die gebak waag en dit nie ten duurste hoef aan te koop nie. Nie net is daar koekidees vir die bekendmaking of die baba ’n seuntjie of ’n dogtertjie is nie, maar daar is ook voorstelle vir ooievaarstees, verjaarsdae en selfs morskoeke (“smash cakes”) vir wanneer daar foto’s geneem word. “Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, die alomgewilde rooifluweel- en wortelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Allerlei soorte versiersels en strope is ook ingesluit.” Die lekkerte van alles is dat niks jou verhoed om hierdie maklike resepte ook vir ander geleenthede as dié wat met babas en kinders te doen het, uit te toets nie. Bestel dit hier.
Die avonture van Kuifie-reeks (Hergé)
Uitgewer: Protea Boekhuis
Vir die ywerige versamelaar van strokiesverhale is daar die immergewilde Die avonture van Kuifie-reeks, pragtig vertaal in Afrikaans deur Sonya van Schalkwyk-Barrois. Wie ken nou nie die jong Belgiese verslaggewer, Kuifie, sy spierwit brakkie, Spokie, kaptein Sardijn, professor Sonneblom en die ander geliefde karakters nie?! Hulle avonture, ekspedisies en noue ontkomings is wêreldwyd bekend; daar is al meer as 200 miljoen kopieë in sowat sestig tale verkoop. Spanning, humor, fantasie, wetenskapsfiksie, misdaad, tong-in-die-kies gekskeerdery … daar is voorwaar nie ’n enkele vervelige oomblik in hierdie kleurvolle en goed nagevorste boeke nie. Human & Rousseau het meer as ’n dekade gelede Afrikaanse uitgawes van die reeks uitgegee. Dié weergawes is skaars en moeilik bekombaar. Protea het reeds sewe Afrikaanse titels beskikbaar en vroeg volgende jaar verskyn nog twee en so teen die middel van die jaar ’n verdere drie. Bestel gerus by martie@proteaboekhuis.co.za
Lekker lees!