
Die vraagstuk van die toekoms van energie in Suid-Afrika – ‘n antwoord?
Ek het die voorreg gehad om die Kragopwekkingseminaar, wat deur Akademia en Solidariteit gereël is, by te woon. ‘n Uitgelese aantal sprekers het hulle kundigheid met seminaargangers, fisies teenwoordig en aanlyn, gedeel. Die doel van die seminaar was om ‘n visie te gee vir elektriese kragvolhoubaarheid in ons gemeenskappe. Dit is werklik ‘n onderwerp wat uiters aktueel is vir ons tyd, plek en mense. Prof Hannes Rautenbach, Dekaan Natuurwetenskappe van Akademia het die seminaar geopen en die verwelkoming namens Akademia gedoen.
Hierna het Dr Dirk Hermann, Bestuurshoof van Solidariteit, die seminaar ingelei. Hy het verwys na die rol van die staat in elektrisiteitsvoorsiening en die groot pessimisme wat tans heers oor die vermoë van die staat om hierdie rol te vervul weens staatsverswakking. Daarteenoor het hy gewys op die moontlikhede wat innovasie en tegnologie bied wat dit binne die gemeenskap moontlik maak om gapings deur die regering gelaat, te vul om “anderkant die staat” ‘n alternatief in energievoorsiening te vind. Hy noem dit as ‘n groot rede tot optimisme. Kragopwekking het as gevolg van ontwikkeling in tegnologie verskuif van kapitaal-intensiewe, grootskaalse opwekking na bekostigbare kleinskaalse opwekking. Hy doen ‘n oproep dat ons moet ontdek dat ons “self kan”. Met hierdie woorde het hy eintlik die KragDag-leuse van “Doen jou eie ding” in ander woorde ge-eggo. Sy inleiding het in ‘n groot mate die uitgangspunt van die seminaar verwoord.

Kragvoorsiening en -opwekking deur Eskom:
Mnr Jan Oberholzer, Bedryfshoof van Eskom, het die probleme van Eskom uitgelig wat in ‘n groot mate te wyte is aan probleme met die invordering van munisipale skuld, asook aan gebrekkige onderhoud. Gelukkig kon hy aandui dat daar reuse vordering ten aansien van onderhoud gemaak word, maar het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom in die toekoms nie alleen in die energiebehoeftes van Suid-Afrika sal kan voorsien nie.
Die regulatoriese landskap:
Die volgende spreker was adv Albert Lamey en het die regulatoriese landskap aan die hand van ‘n regsraamwerk beskryf. Hierdie regsraamwerk vind sy ontstaan uit die Grondwet en sluit onder andere verder in die Handves van Menseregte, die Nasionale Energiewet (NEA), die Elektrisiteitsreguleringswet (ERA), die Omgewingsbestuurswet, Munisipale wetgewing en bywette, Verkrygingswette, die Elektrisiteitsnetwerkkode asook ‘n hele aantal ander wette en regsreëlings. Hy het die problematiek van die Staat as aandeelhouer van Eskom uitgestippel, wat onder andere die oorsaak is dat die ontginning van baie geleenthede vir Eskom ontoeganklik is.
Eskom, met die staat as aandeelhouer, is die de facto monopolie ten opsigte van opwekking, transmissie en verspreiding en is reeds oor baie jare gevestig. Adv Lamey het dit egter baie duidelik gestel dat hierdie monopolie nie deur die Grondwet, Munisipale wetgewing of die Elektrisiteitsreguleringswet (ERA) gewaarborg word nie. Nuwe ERA-regulasies ten aansien van die verhoging van voorsieningskapsiteit, hernubare energie, die rol van privaat kragopwekkers en ook munisipaliteite wat self, of deur middel van ‘n eksterne privaat-diensverskaffer krag kan opwek, is ‘n tree in die rigting van ‘n toekoms waar Eskom minder dominant sal wees. Dit sal lei tot die ontsluiting van onafhanklike kragopwekkers en -verspreiders. Adv Lamey voorsien dat ‘n punt bereik sal word waar Eskom se dominansie nie meer rasioneel regverdigbaar gaan wees nie en dus nie die toets van die Grondwet sal kan deurstaan nie. Dit geld ook vir ander regulasies wat tans die ontsluiting van privaat-markkragte strem.
Die verlede, hede en toekoms van hernubare energie:
Mnr Jaco Botha, tans uitvoerende hoof van Solareff en direkteur van GridCars, was die volgende spreker, en het ‘n oorsig gegee oor hernubare energie se geskiedenis, dit wat tans gebeur en hoe die toekoms sal lyk. In sy aanbieding het hy uitgewys hoe batterye en sonpanele besig is om goedkoper te word. ‘n Interessante punt wat hy gemaak het is die problematiek rondom die laai van elektriese voertuigbatterye. Tans word die benutting van elektriese voertuie (EV’s) beperk omdat energievoorsiening in terme van voorsieningsplekke, voertuie se energiekapasiteit en die laaitempo van batterye nog nie vergelykbaar is met die energie-aanvulling van petrol- of dieselvoertuie nie.
Dit is egter reeds moontlik om van Johannesburg na Durban of Kaapstad met ‘n elektriese voertuig te reis. Alhoewel so ‘n reis tans langer sal neem is die energiekoste vir EV’s laer as vir brandstofvoertuie. Verder is batterylaaifasiteite vir EV’s reeds geredelik op hoofroetes beskikbaar. Jaco het myns insiens ‘n belangrike punt gemaak dat, net soos selfoondekking in die vorige eeu beperk was tot hoofroetes en stede en daarna gou landswyd uitgebrei het, voorsien hy dat dieselfde tendens rondom die voorsiening van elektriese voertuiglaaistasies sal uitspeel.
Modulêre kernkragselle:
Die volgende spreker, Prof Johan Slabber van die Departement Meganiese en Lugvaartkundige Ingenieurswese aan die die Universiteit van Pretoria, het vervolgens ‘n voorstel gedoen rondom modulêre kernkragselle as oplossing vir gemeenskapskragopwekking. ‘n Vergelyking is getref tussen toentertyd se groot monsteragtige hoofraamrekenaars wat net in groot blokke vergroot kon word met vandag se klein en kragtige rekenaars, ekwivalent teenoor, groot elektriesekragstasies met klein, maar effektiewe kernkragopwekkers. In hierdie analogie is die voordele van ekonomieë van skaal grootliks vervang met ekonomieë van tegnologie. Terloops, wat my opgeval het in Prof Slabber se aanbieding is die nederige, onaangeplakte, onopgesmukte gebruik van uitdrukkings wat ek vroeër net by ‘n ouer geslag gehoor het as hulle gepraat het van “ons dierbare land” en “die moontlikhede wat vir ons deur die liewe Vader gegee is”.
Prof Slabber se gedagte is dat ‘n kragsel daargestel word wat die kohabitasie is van ‘n klein, gedesentraliseerde mikro-kerngenerator, tesame met wind- en sonkrag wat krag aan ‘n lokale “groen” elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk sal voorsien. Daar moet nie in isolasie gedink word nie maar in terme van die samevoegbaarheid van verskillende tegnologieë, ten einde ‘n gemeenskaplike probleem op te los. So ‘n kragsel bestaan uit:
- ‘n hernubare energie-aanleg (naamlik sonkrag, windkrag en ‘n mini-kragnetwerk),
- ‘n termiese energie-stoorfasiliteit,
- ‘n gasturbine-gedrewe generator,
- ‘n mikro-reaktor (i.e. sogenaamde AMR of Advanced Micro Reactor wat ‘n klowingskernreaktor is) met gekoppelde hitteruiler en bykomstig tot bogenoemde,
- gebruikers van elektriese krag en hitte-energie.
Hernubare energie in die toekomstige kragstelsel:
Prof Wikus van Niekerk, Dekaan Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, het gepraat oor die rol van hernubare energie in ‘n toekomstige kragstelsel. Hy noem dat daar in effek slegs die twee bronne van hernubare energie is. Die eerste is die son, wat eintlik ‘n groot kernreaktor op ‘n veilige afstand is, wat hitte en lig uitstraal. Die ander een is geotermiese energie wat van diep onder uit die aarde voortkom. Die uitset van ‘n hernubare bron kan óf wisselend óf versendgereed (dispatchable) wees.
Elektriese drywing vanaf die twee grootste wisselende hernubare energiebronne, te wete sonkrag en windkrag, groei tans eksponensieel omdat tegnologie steeds goedkoper word – veral só in die geval van sonkrag. Verder het die prys van hernubare energie ook baie pryskompeterend geword teenoor energie wat op tradisionele wyse opgewek is. Suid-Afrika is in ‘n baie gunstige posisie om sonkrag op te wek vanweë volop sonskyn (hoë vlakke van gemiddelde son-irradiansie). Wisselende hernubare energie is reeds in die unieke posisie dat die tegnologie volwasse, goedkoop, vinnig ontplooibaar en maklik finansierbaar is.
Indien wisselende hernubare energiebronne in ‘n netwerk geïntegreer word, is daar ‘n aantal oorwegings wat in aanmerking geneem moet word. Met tradisionele opwekkingstelsels word energie gesentraliseerd opgewek, dikwels naby die oorspronklike energiebron soos steenkoolmyne, waarna die elektriese krag enkel-direksioneel na die verbruikers vloei. Elektrisiteitsproduseerders en -gebruikers is verskillend en duidelik gedefinieerde entiteite. Wisselende hernubare energie-opwekking daarteenoor vind gedesentraliseerd plaas by wyse van verspreide modulêre klein opwekkers. Verder is dit nodig dat elektrisiteit bi-direksioneel tussen entiteite vloei omdat verbruikers wanneer nodig ook produsente van elektriese krag kan wees, en omgekeerd. Die groot uitdaging met hierdie stelsel is voorspelling van vraag en aanbod, beplanning hier rondom en die daaruit voortvloeiende bedryf van so ‘n stelsel. Die resultaat hiervan is ‘n robuuste en buigsame energie-oplossing! Alhoewel hernubare energie ‘n al groter rol speel kan tradisionele elektriese kragopwekkers nie geïgnoreer word nie en vorm dit steeds die ruggraat van só ‘n kragvoorsieningstelsel.
Gevolgtrekking:
Aan die einde van die seminaar het Wener Human, Adjunkbestuurshoof: (Strategie, Regsake, Navorsing) van Solidariteit, besin waarmee ons eintlik besig is. Aan die hand van die Britse geskiedkundige en filosoof Arnold Toynbee word die vraag gevra: Wanneer is lande suksesvol en wanneer misluk hulle? Toynbee se antwoord was dat lande misluk wanneer hulle nie antwoorde op die vraagstukke van hulle tyd het nie. Werner maak die opmerking dat hierdie stelling nie net vir lande geld nie maar ook vir gemeenskappe. Ons vraagstuk is die toekoms van energie. Die volgende vraag wat geantwoord moet word is: Hoe en wanneer slaag ‘n land of ‘n gemeenskap? Dié antwoord het twee dele. Die eerste deel is dat daar ‘n minderheid mense met kreatiewe en innoverende idees moet wees. Die tweede deel is dat hierdie idees deur die meerderheid van mense aangeneem moet word. Die resultaat van die seminaar word vanuit hierdie gedagtes van Toynbee beoordeel.
Vergun my aub die voorreg om kortliks te verneem na aanleiding van Deon se verslag van die Kragopwekking Seminaar met die onderwerp: Die vraagstuk van die toekoms van energie in Suid Afrika.
Ek het met groot belangstelling die insette gelees —Dankie daarvoor.
Wat ek wel nie raak gelees het nie is enigiets te sê oor die onbeperkte
see-krag aan die Suid Afrikaanse Ooskus. Ek het ruim 30 jaar betrokke gewees
in Staal konstruksie en die moontlikhede is legio.
Johan.