Gratis virtuele skryfkursusse vir skole, tuisskolers en individuele leerders – deel 1

Droom jou kind daarvan om eendag stories te skryf?

Kom ons begin by die vraag: Wat maak ’n storie so lekker dat die leser nie kan wag om om te blaai nie?

  • Interessante karakters, elkeen met sy eie persoonlikheid en agenda. ’n Hoofkarakter wat probleme het, maar van wie jy so baie hou dat jy die avontuur saam met hom of haar wil beleef. Vriende wat hom of haar help en die bose skurk wat keer dat hy of sy slaag.
  • ’n Lekker plek (milieu) – geheimsinnig, spokerig, romanties, eksoties, avontuurlik – waar daar sommer baie dinge kan gebeur.
  • Opwindende avonture (intrige). Die hoofkarakter het ’n probleem of daar is iets wat hy of sy baie graag wil hê, maar die teenstander steek ’n stokkie daarvoor. Konflik neem toe en dinge lyk donker. Hoe swaarder die karakters kry, en hoe slegter sake lyk, hoe lekkerder is die storie, nie waar nie?
  • Ontknoping: Na vele avonture los die hoofkarakter en sy of haar vriende die probleem op. Dankie tog, net betyds!
  • ’n Einde wat maak dat jy die boek met ’n tevrede glimlag neersit.

In die Kom, skryf ’n storie-uitdaging leer graad 6-9 leerders hoe om hierdie boustene in hul kreatiewe skryfwerk te gebruik. As bonus help dit hulle om beter lesers te word en die bestudering van hul voorgeskrewe roman met meer insig te benader.

Sommer aan die begin word die volgende uitdaging aan die jong skrywer gerig:

Verbeel jou jy is die held/heldin in jou eie storie. Voor jou lê ’n avontuurlike reis. Aan die einde daarvan wag ’n kosbare prys, iets wat jy met jou hele hart wil hê. Maar langs die pad skuil donker gevare, en lê bose skurke op die loer om te keer dat jy jou doel bereik.

Om te oorwin, het jy kragte en magte nodig. Jy moet verskillende wapens leer hanteer, en struikelblokke en teleurstellings trotseer voor jy die vyand verslaan en die prys in jou hande vashou.

Met skryf is dit net só. Jy moet verskillende vaardighede onder die knie kry as jy uiteindelik jou eie storie in jou hande wil vashou.

  • Taalvaardig: Jy moet leer hoe om jouself in Afrikaans uit te druk.
  • Kreatief: Jy moet jou verbeelding ontwikkel.
  • Skryfproses: Jy moet weet hoe om ’n storie aanmekaar te sit.

In hierdie kursus gaan ons op lg. twee vaardighede fokus.

Ons is nie almal eenders nie en dit gebeur nie oornag nie.

Onthou jy hoe dit gevoel het toe jy leer fietsry (of motorbestuur) het? Aan die begin was daar so baie dinge waaraan jy gelyk moes dink, jy het letterlik in die stof gebyt! Later het dit makliker geword tot dit uiteindelik vanself gekom het. Met skryf is dit net só. Hoe meer jy oefen, hoe lekkerder word dit.

Wil jy suksesvol wees? Pak dan die volgende energiestafies in jou rugsak:

  • Die droom in jou hart. (Visie)
  • Die vlammetjie wat in jou brand. (Passie)
  • Die vasbyt en harde werk wat maak dat jy soos ’n ware storieheld die struikelblokke oorkom. (Dissipline)

Onthou, in enigiets wat jy aanpak, is jou vyande Twyfel en Moedverloor. Verslaan hulle en jou drome sal vlieg.

Troula Goosen (Skryfkursus graad 6-9)

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Troula Goosen
  • Troula Goosen
  • Troula Goosen (geb. Venter) is in die skaduwee van Tafelberg as die oudste van twee dogters gebore. Haar pa was ’n onderwyser en later skoolhoof en so het die gesin op verskillende dorpe in die Wes-Kaap gewoon.
    Sy het op Ceres gematrikuleer en daarna Drama en Biblioteekkunde op Stellenbosch gaan studeer. Daar het sy haar man – ’n teologiestudent – ontmoet. Die jong predikantspaar het hulle eers in Reddersburg en toe in Allanridge in die Vrystaat gevestig. Later is haar man Riversdal toe beroep waar Troula die sakewêreld as besigheidsvrou en binneversierder betree het.
    Troula en Chris spog met twee seuns, twee skoondogters en drie kleinseuns.
    Troula wou van kleintyd af stories skryf, maar het eers kans gekry om die ou jeugdroom af te stof toe Chris afgetree en hulle na Bettysbaai verhuis het.
    Haar eerste publikasies was kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers (Via Afrika, Oxford University Press en Pearson). In 2016 is Spooksoene (2015: Protea Boekhuis), haar eerste vollengte jeugverhaal, met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon. Daarna volg Maanlig-Meermin (2017: Tafelberg Uitgewers) en Raaiselklip (2018: Human & Rousseau). Raaiselster (2019: Human & Rousseau) is dus die tweede aflewering in die reeks “Raaiselstories” – boeke wat van die leser vereis om ʼn raaisel op te los. Die derde historiese jeugroman in die reeks, Raaiselsee, verskyn in 2020. Van haar kortverhale is opgeneem in Skool is ’n Riller (2017 Human & Rousseau) en Ingonyama en ander maats met leeueharte (2021 Best Books).

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui