
Boekresensie: Met een voet in die Bybel
Titel: Met een voet in die Bybel
Outeur: Gert Janse van Rensburg
Uitgewer: Kreativ SA
ISBN: 978-1-928478-86-7
800 Afrikaanse spreekwoorde, idiome, vaste uitdrukkings en gesegdes wat aan die Bybel ontleen is, tesame met 2 000 Skrifverwysings en toeligtings, met hier en daar ’n stukkie teologie en ’n brokkie humor. Só staan daar geskryf op die heldergeel voorblad van hierdie sagtebandboek wat 288 bladsye beslaan. Die boek is egter sóveel méér. Dit lewer ook ’n besondere bydrae tot die opgetekende taal, dien as interessante gespreksonderwerp, en is geskik vir Bybelstudie deur ’n individu of in groepe. Ds. Janse van Rensburg skryf op bladsy 8: “Spreekwoorde is al die speserye van ’n taal genoem – dit gee as’t ware smaak aan ons daaglikse taalgeregte.”
Dr. Henry Stone, Oud-Superintendent-Generaal van Onderwys en Kultuur, skryf in die Voorwoord: “Dit is nie net ’n boek vir die taalproewer nie, maar vir enige student, spreker, debatteerder, onderwyser, seremoniemeester of voorsitter, wat sy of haar Afrikaans steeds ryker en oorredender wil inspan, gesout en gepeper met idiomatiese krag. Die spreekwoord is immers ’n taalverskynsel wat deur vele gebruik geslyp is tot juweel en wat tref soos die punt van ’n pyl. Dit is volkskuns op sy beste.”
Prof. Willie van Heerden, Departement van Bybel- en Antieke Studies Kollege vir Geesteswetenskappe, UNISA, reken dat die outeur eerlik met die Bybeltekste omgegaan het en nie gehuiwer het om uit te wys dat die Bybelse spreekwoorde of uitdrukkings in hul Bybelse gebruikskontekste nie noodwendig dieselfde betekenis het as wat ons vandag met daardie spreekwoorde en uitdrukkings in Afrikaans bedoel nie. Hy noem ook dat hy groot waardering het vir die outeur se aanslag wat soms behels dat hy meer as een opinie oor ’n saak stel.
Prof. Willem Boshoff, UNISA, skryf dat ds Janse van Rensburg se Met een voet in die Bybel uniek is: “Na my beste wete het daar nog nie voorheen so ’n deeglike en omvangryke versameling spreekwoorde vanuit ’n enkele lewensfeer of bron verskyn nie.” In die Inleiding word die studie só saamgevat: “Die leser vind hier ’n lys Afrikaanse spreekwoorde, idiome, vaste uitdrukkings en gesegdes, wat op een of ander manier aan ’n Bybelse woord herinner, of daarna teruggevoer kan word, of sy bestaan daaraan te danke het, of duidelik daaraan ontleen is.”
Volgens die Inleiding word die boek nie as ’n taalkundehandboek aangebied nie. Die leser sal agterkom “dat die spreekwoord hier soms “as ’n soort “kapstok” gebruik word vir ’n teologiese besinning, of ’n sedelessie – of selfs vir ’n tikkie humor” (5). Die leser word ook aangemoedig om dieper te delf en ander bronne te raadpleeg. Ek het die maklik verstaanbare gebruikersgids voor in die boek baie nuttig gevind. Interessante inligting soos byvoorbeeld dat ons in Afrikaans sowat 300 uitdrukkings uit die mond van die Here Jesus Christus self as spreekwoorde gebruik, het my aan die lees gehou.
Ek beaam wat dr. Mariëtta Alberts, Voormalige Direkteur: Terminologie-ontwikkeling en Standaardisering, PanSAT oor Met een voet in die Bybel skryf: “Dit was vir my geestesverrykend en leersaam om die manuskrip te lees. Die pittige sydelingse opmerkings by sommige spreekwoorde, laat die leser dikwels skaterlag. Die teks is boonop in die suiwerste Afrikaanse idioom aangebied en lees maklik.” Teoloë, akademici én leke kan, aldus haar, baat vind by die boek, veral as jy die “Bybelse inhoud vanuit ’n ander perspektief wil beskou en verstaan” (10).
Ek is baie opgewonde oor my kopie van Met een voet in die Bybel en is baie trots daarop om dit ’n ereplek in my boekrak te gee. Dit is ook ’n boek wat ek gereeld sal opneem en lees, want ek is lief vir Afrikaans en dis wonderlik om te sien hoe die inhoud van die Bybel in my moedertaal nóg dieper betekenis kry. Ek sluit af met prof. Rufus Gouws, Universiteit Stellenbosch se aanhaling op die agterblad: “Die bewerking bied ’n kombinasie van betekenisleiding, etimologie, kulturele kennis asook Christelike raad en waardes.”
Meer oor die outeur: Ds. Janse van Rensburg is in 1933 op Pofadder gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Upington en verwerf ’n BSc-graad aan die destydse PU vir CHO. Ná jare se diens in die SA Weermag studeer hy aan die universiteite van Pretoria en Stellenbosch en verwerf hy cum laude die grade BTh en Mth. Daarna dien hy getrou by verskeie gemeentes. Hy is nou afgetree en skryf graag. Hy het onder meer sy oupa, sy vader en sy eie biografieë uitgegee.
Bestel jou kopie van Met een voet in die Bybel direk by ds. Janse van Rensburg. Sy e-posdres is voetinbybel@gmail.com
*Ds. Janse van Rensburg bedank onder meer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die ruim finansiële navorsingsondersteuning.