Minimumloon vir plaaswerkers verhoog werkloosheid en kospryse
TLU SA het in ‘n persverklaring hulle skok en teleurstelling uitgespreek oor die nasionale minimumloon vir plaaswerkers wat op 1 Maart 2021 in werking tree. Die Minister van Werkskepping en Arbeid, mnr. Thulas Nxesi, het in die Staatskoerant aangekondig dat die minimumloon vir plaaswerkers met 16% styg tot R21,69 per uur.
Gedurende Desember 2020 het TLU SA in kommentaar teen die instelling van ‘n verhoogde minimumloon aanbeveel dat die regering van hierdie voorstel moet afsien, todat daar weer ekonomiese groei is en todat werkloosheid afgeneem het. Ander rolspelers het ook teen hierdie voorstel standpunt ingeneem.
Mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA, het gesê dit blyk dat die Nasionale Minimumloonkommissie geensins ag geslaan het op enige van die kommentare uit die landbousektor nie. Dit is bykans onmoontlik vir landbouwerkgewers om hierdie vlakke van vergoeding te kan absorbeer. Verder meen hy ook dat hy sidder om te dink aan die gevolge van werkloosheid in Suid-Afrika sodra hierdie aanpassing in werking tree.
TLU SA aanvaar nie die regering se betoog dat die minimumloon verhoog moet word om werkers in ‘n beter posisie te plaas nie. Dit kan duidelik gesien word dat die regering se optrede skynheilig is wanneer die Uitgebreide Openbare Werkskeppingsprogram vergelyk word met lone in die privaatsektor aangesien die staat tot soveel as die helfte minder as ander sektore betaal.
Mnr Geldenhuys het verder gesê dat as die regering regtig besorg sou wees oor die lot van werkers en oor werkloosheid, dan sal die staat hulle aanslag op arbeid in heroorweging neem. Hy meen dat werkers self die keuse moet uitoefen of hulle ‘n inkomste wil verdien deur vir R100 per dag te werk en of hulle éérder op ‘n toelaag van R40 per dag sou wou staatmaak. TLU SA is van mening dat nou, meer as ooit tevore, werksgeleenthede benodig word ten einde bestaande vlakke van armoede te verlig. Die landbousektor, asook alle ander privaatbedrywe, moet eerder deur die regering ondersteun word, sodat volhoubare werksgeleenthede geskep kan word.
TLU SA rig met hierdie persverklaring dan ook ‘n waarskuwing aan verbruikers dat hierdie hoër arbeidsloon in die toekoms verdere stygings in voedselpryse gaan veroorsaak.