Boekresensie: Jou geldsake

Titel: Jou geldsake

Outeur: Theo Vorster

Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 978-0-6240-9139-4

Hou finansieel kop in onseker tye

Welvaartkenner Theo Vorster, die uitvoerende hoof en medestigter van Galileo Capital (wat spesialiseer in finansiële beplanning en welvaart- en batebestuur vir private kliënte), gee in Jou geldsake riglyne oor hoe om rasionele langtermynbesluite in hierdie moeilike en uitdagende omstandighede waarin ons onsself bevind, met vertroue te neem.

Warren Ingram, medestigterslid van Galileo Capital en finansiële beplanner en kommentator, reken dat Jou geldsake ’n briljante boek is wat aan ons alles wat ons oor geld moet weet op ’n duidelike en verstaanbare manier verduidelik. Ek stem hiermee saam. Die boek is in ’n gemaklike geselstrant geskryf en finansiële begrippe word aan die hand van interessante voorbeelde en grafika vasgelê. Vorster dra Jou geldsake op aan “almal wat oor hul geldsake wakker lê en wonder hoe om hul drome te bereik”. Dit is dus leesstof wat in amper almal wat ek ken se kraam sal pas.

Ryk van Niekerk, finansiële joernalis en redakteur van Moneyweb, beskou Jou geldsake as ’n uitstekende handleiding om enige finansiële tsoenami te oorleef. Vorster beaam dit in die Outeursnota: “Hierdie boek kan vir jou die raamwerk gee vir die opbou en bestuur van kapitaal. Behoeftes verskil en jy moet jou strategie en beplanning by jou eie finansiële reis laat pas.” Hy skryf ook: “Alhoewel ek poog om die beginsels van goeie langtermynbesluitneming te belig, wil ek dit doen op so ’n manier dat jy onthou “om jou geld te geniet en die waarde daarvan te besef,” soos Jeanette Marais, adjunk-uitvoerende hoof van Momentum Metropolitan en hoof van beleggings by Momentum, dit stel.”

Vorster spreek in die Inleiding die feit aan dat ontleders reeds vroeg in 2020 al bekommerd was oor die invloed wat die koranavirus op China se groei sou hê en in watter mate dit ander lande sou raak. “Kommer het egter eers in paniek ontaard toe die virus in Europa en die VSA ’n vastrapplek kry. Vroeg in Maart maak Suid-Afrika ook sy eerste gevalle bekend en ’n paar dae later verklaar die Wêreldgesondheidsorganisasie Covid-19 tot pandemie” (p. 12). Vorster glo dat Covid-19 ’n blywende impak sal hê daar dit aan die een kant as versneller vir veranderinge en ontwikkelings dien en aan die ander kant as vergrootglas vir onder meer die “ongelykheid en die onvermoë van die Suid-Afrikaanse regering om sy mandaat uit te voer” (p. 12). “Die pandemie het die agteruitgang versnel en terselfdertyd die vergrootglas op ons uitdagings geplaas” (p. 13).

Vorster antwoord in Jou geldsake twee kernvrae wat swaar op die leser se gemoed rus. “Eerstens, hoe gaan die ekonomiese herstel ná die krisis lyk? Tweedens, hoe maak ’n mens rasionele welvaartsbesluite in moeilike en uitdagende omstandighede? (p. 13) Volgens hom is die doel geensins om finansiële advies of beplanning volledig te omskryf nie. Jou geldsake is dus nie ’n handboek nie. Hy deel slegs sy eie ervaring van die krisis en gee aan bekommerde beleggers waardevolle besluitnemingsriglyne.

Jou geldsake is opgedeel in drie dele, getiteld “Gevare en bedreigings vir jou welvaart”, “Vyf goue reëls vir elke belegger” en “Maak seker jy bly op koers”. Die eerste deel beslaan drie hoofstukke. Hoofstuk een kyk na bedreigings wat jou finansiële reis kan ontspoor en bespreek dit aan hand van vyf beginsels. Hoofstukke twee en drie bespreek die inflasiemonster asook fooie, koste en belasting. Deel twee beslaan vyf hoofstukke. Hier verskaf Vorster goue reëls wat jou mag help om goeie besluite te neem. In deel drie, wat ook vyf hoofstukke beslaan, gesels hy oor hoe jy op koers kan bly om jou geïdentifiseerde beleggingsbestemming te bereik. Hy gee onder meer wenke oor familiegeld, trusts en testamente. Die handige jaarlike kontrolelys in hoofstuk 13 stel jou (en jou adviseur) in staat om gereeld aan belangrike finansiële aspekte aandag te gee, soos bv. jou begroting, noodfonds en lewens- en ongeskiktheidsdekking.

Die sagtebandboek beslaan 184 bladsye en is in ’n gerieflike skrifgrootte gedruk. Ek is bly dat ek die boek gelees het en voel wel dat ek baie geleer het. Ek beveel dit met ’n geruste hart aan aan enigiemand wat erns wil maak om hulle finansies beter te bestuur.

Skaf Jou geldsake hier aan. Dit is ook beskikbaar as e-boek.

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui