Geskiedkundige Vierkant.
Geskryf deur Sats Oosthuizen, gepubliseer in Die Huisgenoot – 20 Jan. 1950 (Foto’s en {bywerkings} deur DuP du Plessis)
Hoewel duisende reisigers jaarliks met die nasionale pad, {N1 deur die Oranje-Vrystaat} tussen Winburg en Ventersburg ry, weet seker baie min, dat hulle deur ’n omgewing reis, vol interessante en geskiedkundige plekkies.
Omtrent twintig myl {32 km} van Winburg af en sowat tien myl suid van Ventersburg, vloei die Sandrivier, omring deur doringbosse tussen klipkoppies deur. Aan die noordelike oewer, waar die nasionale pad die rivier kruis, staan tans ’n klein monumentjie op die geskiedkundige koppie waar die Sandrivier-konvensie onderteken is. Op 16-17 Januarie 1852 het kommandant-generaal Andries Pretorius, {27/11/1798, Graaff-Reinet – 23/07/1853, Grootplaats, distrik Pretoria} die verdrag {namens die Emigranten Boeren, wonende ten noorde van Vaalrivier} onderteken, terwyl die Britse regering verteenwoordig was deur assistent-kommissarisse, maj. William Samuel Hogge en Charles Moslyn Owens.
{Die onderhandelings het in ’n tent op die plaas Zandrivier van PA Venter plaasgevind. Aanvanklik het ‘n klipstapel die plek aangedui waar die onderhandelinge afgesluit en die verdrag onderteken is. Teen 1938 was daar ‘n bronsplaat met die inligting teen ’n beton monument op die terrein aangebring. Dié is later herbou met klippe wat vir die oorspronklike klipstapel gebruik was.}
Daardie verdrag was die eerste erkenning van ’n onafhanklike Boere-republiek benoorde die Vaalrivier deur die Engelse regering. {Maar alreeds in 1853 het die ZAR ’n oortreding van daardie ooreenkoms deur die Engelse sendeling en sg. ontdekkingsreisiger, David Livingstone geëis, nadat hy vuurwapens, ammunisie en “materials of war” aan swart stamme verskaf het. Kommandant Scholtz se kommando het daarop groot hoeveelhede wapens en toerusting by Livingstone gekonfiskeer. Op hulle beurt het die Britte gereageer met ’n eis dat die Boere swart slawe onder die sg. “Inboekstelsel” aanhou, terwyl die Boere se verweer was dat dit kriminele was wat vir oortredings aangehou was.}
{Die flagrante verbreking van daardie ooreenkoms op 12 April 1877 deur die Britse regering, het gelei tot die Eerste Vryheidsoorlog.}
* * * * * * *
Slegs ’n paar myl hoër op langs die Sandrivier, nie vêr vanwaar die Allemanskraal-dam gebou word, lê twee eensame koppies rustig op die wye vlaktes. Op 8 November 1914 is Danie de Wet, seun van wyle genl. Christiaan de Wet, op die grootste van dié twee koppies, langs sy vader doodgeskiet. Die oggend voor die geveg tussen {Louis Botha} se regeringstroepe en die {gewapende Boere-opstandelinge}, het een van sy veldkornette die Generaal nog gewaarsku om versigtig te wees. “Nee” was die antwoord, “die koeël wat my moet dood, is nog nie gemaak nie. As hy gemaak is, sal dit nie help om daarvoor te vlug nie.”
’n Paar uur later is sy seun Danie, aan sy sy doodgeskiet. Vandag lê die klipkraaltjies waarin die regeringstroepe versteek was, vredig en bak in die Oranje Vrystaatse son.
* * * * * * *
Omtrent vyf myl ten ooste van hierdie koppies lê Doringberg, waar een van die wreedste tragedies van die Tweede Vryheidsoorlog afgespeel het.
In Groothoek, of soos die burgers dit genoem het, Sophoek, het ’n klein kommando Boere gestaan. Onder dekking van die nag, het die Engelse, die Boere omsingel. Toe die Boere dit gewaar, skiet die Engelse kanonne tussen hulle. Haastig sonder saal of toom, het die burgers op hul perde gespring en uitgejaag – almal behalwe vier. Hierdie vier, Flip Potgieter, Ampie van Schalkwyk (broer van kommandant van Schalkwyk), Ampie Botha en Gert Bosch – kon hul perde nie in die hande kry nie en was verplig om te voet te probeer ontsnap, maar vêr het hulle nie gekom nie. Saam met die Engelse was ’n afdeling swartes. Hulle is gestuur om die vier Boere voor te keer. Aan die voet van Vaalkop, die hoogste deel van Doringberg, is hulle aangeval en wreed vermoor. Met knopkieries en geweerkolwe is hulle koppe pap geslaan en die liggame vermink.
Danksy ’n vertraging van die afdeling wat die omsingeling moes voltooi en die feit dat die kanonne te vroeg begin skiet het, het die meeste burgers veiligheid bereik, met die uitsondering van dié wat gevang en vermoor was. Later het hulle teruggekom na die moordtoneel en familielede het die lyke na Paddafontein laat vervoer, waar hulle begrawe is. Net Gert Bosch het geen familie gehad nie. Aan die voet van Vaalkop het die burgers hom begrawe. Hoewel later en onlangs weer, pogings aangewend is om die graf op te spoor, is nie daarin geslaag nie. Tussen daardie doringbosse moet die graf wees – maar waar?
{Die NG Kerk op Ventersburg, was ook gedurende die Tweede Vryheidsoorlog deur die Britse invallers onder genl. Bruce Hamilton afgebrand, hier naby staan ook ’n monument en oorblyfsels van die skanskraal wat in 1856 gebou was ter beskerming van die Boervrouens en -kinders.}
* * * * * * *
Bo-op Doringberg en ’n klein entjie vanwaar die moorde op die burgers plaasgevind het, is oral ruïnes van kliphuisies van ’n uitgestorwe bantoe-stam te sien. Sommige van hierdie kliphuisies is egter nog in ’n goeie toestand.
Die hutjies is van plat ysterklippe gestapel, koepelvormig en gemiddeld omtrent vier voet ses duim {1.4 m.} hoog. Die ingang is omtrent agtien duim {45 cm.} hoog en die plat klippe wat gebruik moes gewees het om snags voor die ingang te rol, lê nog daar rond. Die dak bestaan ook uit een groterige plat klip. Tussen die hutjies is krale gestapel, sommige met ’n deursnee van honderd treë {92 m.}, ander weer kleiner met mure van vier tot vyf voet hoog {1.4 m.}. Werktuie soos maalklippe, klip pikke en selfs kleipot-skerwe is al daar opgetel. Volgens naturelle-oorlewering is die dooies onder die ringmure begrawe om hulle teen die wilde diere te beskerm. Sovêr bekend, word die kliphutjies nie besuide Sandrivier aangetref nie en sovêr moontlik op die hoogste plekke, vanwaar die omgewing teen moontlike aanvallers dopgehou kon word.
Hoewel navorsers al die geheim van die hutjies en hul bewoners, wat besonder klein moes gewees het, probeer naspoor het, bly dit slegs by teorieë. Wie die bewoners was, wat van hulle geword het en of hulle wel deur Silkaats uitgemoor was, soos sommige van mening is, bly ’n geheim, net soos die allerkundigste Zimbabwe-tipe hutjies in geheimsinnigheid gehul bly.
* * * * * * *
Op die dorpie Ventersburg, ’n paar myl vanaf Doringberg, staan een van die skanskrale wat in 1856 op aandrang van president Boshoff gebou is om as beskerming teen die Basoeto’s te dien. Hierdie skans is eers twee jaar nadat dit gebou is, vir die eerste keer gebruik. Met die Basoeto-oorlog van 1866 – 1868, het dit ook gedien as verdedigingspunt teen die Basoeto’s.
Die skanskraal word in ‘n goeie toestand behou en die mure wat van klip gepak is, toon nog geen verval nie. Die mure is bo-op omtrent drie voet dik {0.9 m.} en nege voet {2.75 m.} hoog. Al om die ses na agt voet {2 m.} is ‘n skietgat. Die kraal is vierkantig gebou en elke muur is omtrent 45 treë lank {41 m.} Kort onderkant die skans is ’n spruitjie waar die vrouens hul water gekry het, wanneer hulle vir ’n onbepaalde tyd na die veiligheid van die skans moes vlug.
’n Mooi monument is in die middel van die kraal opgerig en met die {Simboliese} Ossewa-trek in 1938, is hier ’n huldigingsfees gehou.
* * * * * * *
Al hierdie interessante en geskiedkundige monumente is geleë in ’n vierkant van omtrent tien myl {16 km.} deursnee, in die omgewing van Ventersburg.
Erkennings:
Die Huisgenoot – 20 Jan. 1950
- Hooffoto: https://en.wikipedia.org/wiki/Sand_River_Convention#/media/File:Sandrivierkonvensie,_paneel_27,_Voortrekkermonument,_a.jpg