Boekresensie: Identifiseer die bome van Suider-Afrika

Struik Nature, ’n druknaam van Penguin Random House SA, publiseer die bygewerkte uitgawe van Identifiseer die bome van Suider-Afrika geskryf deur Braam van Wyk en Piet van Wyk (nie familie nie). Dit is in Afrikaans vertaal deur Emsie du Plessis, en Jaco van Wyk het vir die illustrasies gesorg.

Ek was verstom om te leer hoe ryk Suider-Afrika aan bome is – met sowat 2 100 spesies, plus nog ’n paar honderd afkomstig van elders in die wêreld. Beroepsplantkundiges én leke sal dus hierdie uitsonderlike publikasie van waarde vind, want dit kan nogal ’n uitdagende taak wees om so ’n groot verskeidenheid bome uitmekaar te ken. “In plaas van om op die vraag ‘Watter boom is dit?’ te reageer deur ’n naam te gee, poog hierdie boek om die meer fundamentele vraag “Hoe bepaal ek die naam van die boom?’ te beantwoord”, lees ek in die voorwoord.

Die outeurs hoop dat dié praktiese boomboek ’n algemene begrip van bome sal bevorder en meer mense sal inspireer om die uitdagings van boomidentifikasie aan te pak. “Die hoofdoel van hierdie boek is om die geheimsinnigheid rondom die onderwerp te vervang met kennis wat die nuweling in staat sal stel om bedrewe te raak in die identifisering van bome.” Hulle raai lesers aan om Identifiseer die bome van Suider-Afrika tesame met hulle Veldgids tot bome van Suider-Afrika te gebruik, hoewel die boek ook op sy eie funksioneer.

Hierdie toeganklike en gebruikersvriendelike boomboek met sy pragtige volkleurfoto’s en illustrasies beslaan 189 bladsye. Dit bestaan uit twee dele, naamlik Deel 1: Beginsels van Boomidentifikasie, waar die primêre en sekondêre diagnostiese kenmerke van bome bespreek word, en Deel 2: Boomgroepe, waar  43 boomgroepe behandel word op grond van onder meer waarneembare stingel- en blaarkenmerke. Deel een sluit nie net ’n geïllustreerde oorsig oor die belangrikste boomkenmerke in nie, maar gee ook wenke oor die hantering van eksemplare van boommateriaal wat vir identifikasie ingesamel word (7). Deel 2 bevat nie net oorsigte van die boomgroepe nie, maar daar is ook verklarende notas oor groepkenmerke, konstruksie van simbole en wenke oor identifikasie van spesies (56).

Omdat ek ’n liefde vir die Afrikaanse taal het, het ek dit baie geniet om die pragtige beskrywende boomnaamgroepe te leer ken – name soos onder andere Bruidsbos-groep, Valskatjiepiering-groep, Kanniedood-groep, Seepbessie-groep, Worsboom-groep, Boerboon-groep en Vingerblaar-groep. Daar is ook die meer bekende name soos Pendoring-groep, Mopanie-groep, Karee-groep, Kiaat-groep en Soetdoring-groep. Op bladsy 170 tot 174 is ’n baie handige gids tot boomfamilies en op bladsy 175 ’n woordelys wat ek gereeld geraadpleeg het.

Meer oor die outeurs:

Planttaksonoom Braam van Wyk is ’n deskundige wanneer dit by die klassifikasie van bome kom. Verskeie boeke oor die plantkunde van Suider-Afrika het al uit sy pen verskyn. Hierdie publikasies sluit in: Veldgids tot Bome van Suider-Afrika (Struik Nature, 2013), Pocket Guide Wild Flowers of South Africa (Struik Nature, 2015) en Guide to Trees Introduced into Southern Africa (Struik Nature, 2016).

Piet van Wyk (1931-2006) was ’n navorsingsbioloog in die Nasionale Krugerwildtuin. Hy het in 1991 afgetree, en in dieselfde jaar is ’n Kanseliersmedalje deur die Universiteit van Pretoria en ’n eredoktorsgraad deur UNISA aan hom toegeken. Van sy publikasies sluit in: ’n Veldgids tot die Bome van die Nasionale Krugerwildtuin (Struik, 1984), Southern Africa Trees: A Photographic Guide (Struik, 1993) en Field Guide to Trees of Southern Africa (Struik Nature, 1997, 2013).

Skaf gerus jou kopie van Identifiseer die bome van Suider-Afrika geskryf deur Braam van Wyk en Piet van Wyk hier aan.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui