Kweek jou eie kos

Voorheen was dit byna vanselfsprekend dat gesinne hulle eie groentetuine en vrugteboorde gehad het. Baie het ook ’n paar skrophoenders aangehou wat gesorg het vir eiers. Maar ons het stelselmatig al hoe meer gewoond geraak aan die gerief om ons kos by die winkels te gaan koop. Ons het al meer afhanklik van ander begin raak vir ons kosvoorsiening.

Ons troos onsself daaraan dat daar genoegsame waarskuwing en dus tyd sal wees om noodvoorrade aan te koop die dag as dit nodig blyk te wees. Maar wat as duisende mense dieselfde gedagte koester? Wat as daar oornag ’n situasie ontstaan waar winkels leeg gesteel en voorraad geplunder word? Ons het verlede jaar met afgryse toegekyk hoe onrus in Kwazulu-Natal blitsvinnig buite beheer geraak en na ander provinsies oorgespoel het. Selfs al sou daar nie politieke of siviele onrus wees nie, is daar steeds die ekonomie wat almal laat noustrop trek. Dis ’n feit dat die Rand se koopwaarde lankal nie meer is wat dit was nie. Die Covid-19-pandemie, gepaardgaande inperkings en massiewe ekonomiese verliese het die situasie vererger. Boonop kring die verwoestende effek van die Rusland/Oekraïne-oorlog wêreldwyd uit. Mense is werkloos en het honger.

Waar gaan jy en jou gesin kos kry wanneer die winkelrakke die dag dalk leeg is en die yskaste moontlik afgeloop het weens langdurige elektrisiteitsonderbrekings? Ek is allermins ’n doemprofeet! Ek is wel oortuig daarvan dat ons soos die vyf wyse maagde voorsiening moet maak vir die feit dat daar ’n baie uitdagende tyd voorlê. Daar is geen sin daaraan om onverhoeds betrap te word nie. Met inflasie en voedselpryse wat die hoogte inskiet en sprake van voedseltekorte in die onafwendbare toekoms, begin al meer mense te besef dat die antwoord daarin lê om jou eie kos te kweek. Die goeie nuus is dat mens nie eens ’n groot erf nodig het om dit te doen nie. Jy kan heelwat groente, kruie en selfs vrugte kweek in potplanthouers.

Ons kan en moet ons kos begin kweek – nie net vir eie gebruik nie, maar veral ook om te deel of te ruil. Moedig ook jou familie en vriende, kollegas en huis-en tuinwerker aan om dieselfde te doen. As jy opgewonde is oor jou projek, sal jy ander aansteek met jou entoesiasme. So kan julle dan saad uitruil of selfs van die kos wat julle groei onder mekaar deel of ruil – my aartappels vir jou beet. Behalwe vir die voordeel van vars vrugte, groente en kruie, is dit ook terapeuties om in die tuin te woel en kan dit ’n baie aangename tydverdryf wees vir jou en jou gesin. Vars lug en oefening het niemand nog ooit skade berokken nie.

Jy hoef nie groen vingers te hê om jou eie kos te kweek nie. Daar is meer as genoeg raad en wenke om jou eie organiese kos te groei. Daar is baie video’s op YouTube wat jou stap-vir-stap touwys sal maak, en dan is daar ook wonderlike boeke soos Johan van Zyl en Peter van Noord se Begin jou eie groentetuin en JJ van Rensburg en Tinus Oberholzer se Kweek dit self. Dit is propvol praktiese raad en ’n saaigids vir wanneer jy wat waar en wanneer moet plant. Dit is dan ook ’n goeie idee om nou al navorsing te begin doen oor hoe jy die groente, vrugte en kruie wat jy gaan oes, kan verwerk en stoor.

Ons het vrugbare grond en die Afrikason. Daar is geen rede waarom mense in ons land moet hongerly nie. Moenie langer uitstel nie – kry daardie saad in die grond!

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui