
Boekresensie: Emigreer of bly
Titel: Emigreer of bly
Outeur: Stephan Joubert
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2227-2
Emigreer of bly
deur Stephan Joubert
Menige Suid-Afrikaners oorweeg emigrasie die een of ander tyd weens verskillende redes. “Die algemeenste redes vir emigrasie onder Suid-Afrikaners is veiligheid, leefstyl, finansiële oorwegings, onderrig, werksgeleenthede, belastingoorwegings, gesondheidsorg, godsdienstige spanning, lewenstandaard, politieke onderdrukking en stabiliteit” (p. 13).
Stephan Joubert, ’n buitengewone professor en navorsingsgenoot aan etlike universiteite, het Emigreer of bly geskryf om die werklikhede van emigrasie en ook die werklikhede van bly aan die leser voor te hou. Die volgende vrae op die agterplat weerspieël die worsteling wat dikwels met dié netelige kwessie saamgaan: “Moet ek hier bly of is dit dalk beter om te emigreer? Wat is die Here se wil vir my? Vir Suid-Afrika? Vir mý in Suid-Afrika?”
Joubert, wat ook die redakteur van ekerk is, gesels met blyers én ryers en wil só die leser toerus om ’n ingeligte besluit oor die toekoms te neem. Hy druk dit op die leser se hart: “Hierdie boek wil nie vir jou voorskryf wat om te doen nie. Dit is jou lewe. Jy kan kies hoe jy dit wil leef en waar jy dit wil leef. Hierdie boek wil nie jou verantwoordelikheid van jou probeer wegneem deur vir jou te sê wat jy moet kies as dit by ry of bly kom nie. Of as dit kom by die groter prent wat ons op die volgende bladsye met mekaar gaan deel nie” (p.15). Hy vervolg op bladsy 16: “As jy hierdie boek wil lees om ’n vinnige antwoord op die ry-of-bly-kwessie te kry, moet dit liewer nie lees nie. Maar as jy goed wil nadink oor jou lewe en jou besluite, ook wanneer ander vrae in jou lewe ter sprake kom, lees asseblief verder. Hierdie boek wil ’n denkende reisgenoot op jou pad wees. Dit wil jou help om koersvas op God se roete te bly, ongeag of jy ry en of jy bly.”
Ek stem volkome saam met Joubert se siening op bladsy 30: “Maak nie saak hoeveel berge jy uitklim, hoeveel wedlope jy hardloop, hoeveel goeie finansiële beleggings jy maak, hoe deeglik jy jou en jou geliefdes se lewe beplan en beveilig nie – solank die Here se visie, plan en wil nie diep in jou lewe weerklank vind nie, gaan jy ’n onvervulde mens wees. Dan gaan geen plek op aarde jou ooit gelukkig genoeg maak nie.” Hy maan: “Jy is nie die argitek en God slegs die goedkeurder van jou planne nie. Jy speel ook nie eienaar-bouer met jou lewe nie. Jy vertrou die Here se Gees hiermee” (p. 31). Ons moet met God rekening hou wanneer ons ons beplanning doen. “Geloof is om jou lewe doelbewus en bewustelik te sit in die hande van die God wat jy op die Naam ken. Hy is die Een wat al die pad met jou saamloop, hier en nou, en tot in die ewigheid anderkant die dood” (p. 32).
Reeds vroeg in die boek het ek besef dat Joubert se prioriteite agtermekaar is. Hy lei die leser om by God in te trek en Hom te ken in die besluite wat jou toekoms raak. Hy wys op die belangrikheid om ordentlik navorsing te doen en die regte vrae te vra. “Pasop vir smartvrate en doemprofete. Hulle is oral en hulle is afbrekend. Hulle is hoopstelers. Dit is nie hul opinies wat jy nodig het wanneer die belangrikste vrae op die tafel is nie” (p. 43).
Emigreer of bly beslaan 192 bladsye. Dit is in ’n vloeiende geselstrant geskryf en bevat ook gepaste Engelse aanhalings wat belangrike temas onderstreep. Die vyf hoofstukke se titels is: “Rytyd of blytyd?”, “Enige plek op aarde kan lekker wees”, “Goeie besluite oor jou lewe én jou adres is morele besluite”, “Ander se uitkyk op ry of bly” en “’n Laaste woord”.
Ek het baie lekker aan Emigreer of bly gelees. Die inhoud is relevant, goed nagevors en beslis aktueel. Joubert slaag daarin om neutraal te bly en maak nie namens die leser keuses nie. Hy gee op bladsy 130 ’n paar voorbeeld vrae om in ag te neem wanneer ons wel ons keuses tot morele keuses wil opgradeer. Ek het veral die vyf merkers vir God se wil wanneer ons besluite neem op ble. 131-136 van waarde gevind in my eie lewe.
Meer oor die skrywer:
Prof Stephan Joubert is die outeur van meer as 55 boeke waarvan daar meer as 200 000 kopieë al verkoop is. Hy het in 2010 die Andrew Murray-prys ontvang. Hy is ook ’n gewilde spreker, teoloog en leierskapkonsultant. Sy rubrieke verskyn gereeld in Beeld en JUIG!